Wys tans plasings met die etiket heilige maal. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket heilige maal. Wys alle plasings

Sondag 20 April 2025

Die Nagmaal (1)

In hierdie pos kyk ons na een van die sakramente in die Christelike kerk, nl. die NAGMAAL, en behandel spesifiek die vraag:  WAT IS DIE NAGMAAL? 

Vir die ander opsommings, gaan na:

- Wat is die betekenis van die Nagmaal? (2)

- Hoe word die Nagmaal gebruik? (3)

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------Wat is die Nagmaal?

Die nagmaal is 'n "maaltyd": (van brood en wyn) - wat deur Jesus Christus self ingestel was (Mark. 14:22-24), en dikwels deur Christene geneem word omdat Jesus hulle so beveel het (1 Kor. 11:24,25).  Alhoewel dit die eerste keer deel was van die Pasgamaal, word dit nie net een keer 'n jaar geneem (soos die Pasgamaal) nie, maar op 'n meer gereelde basis. 

Is die nagmaal bloot 'n gewone maaltyd? Alhoewel dit kan uitspruit uit 'n maaltyd, is dit 'n heilige (maw afgesonderde) maal - dit is belangrik dat die nagmaal op 'n heilige manier geneem word, want almal teenwoordig deel in die een brood en die wyn (wat beteken dat hulle deel in Jesus se liggaam en bloed)(1 Kor. 11:17-34);  altans, dit is hoe dit veronderstel is om te wees....  Maar as elkeen bv. sy eie brood en wyn bring en sommige het en sommige nie, en dus sommige is honger en ander het te veel of is selfs dronk... - dit is nie wat bedoel word met nagmaal nie! Dit is waarna Paulus in 1 Kor. 11 verwys. Wat met nagmaal bedoel word is dat dit 'n afgesonderde ("heilige") maaltyd is, die brood en wyn word gedeel (aan almal wat deel in die heilige maal)(1 Kor. 11:21,22), en dit verwys dus nie na 'n maaltyd waar elkeen op sy eie eet en drink nie (1 Kor. 11:20). Neem kennis dat "brood en wyn" spesifiek gebruik word, elk met spesifieke betekenis.  Die nagmaal is nie 'n gewone maaltyd soos wanneer die gemeente saamkom om saam te eet nie, alhoewel dit saam met 'n gewone maaltyd kan plaasvind (soos gebeur het met die Pasgamaal), maar dan moet dit 'n spesifieke beurt kry (moet heilig, afgesonderd wees van die gewone maaltyd) want dit het 'n spesifieke betekenis nl. dat die dood van Jesus Christus daardeur verkondig word... (1 Kor. 11:24-26) - l.w. dat 'n gewone maaltyd nie dieselfde voorstel nie!

Dit was oorspronklik ingestel saam met 'n Pasgamaal?  Jesus Christus het die Nagmaal ingestel terwyl hulle besig was om die Pasgamaal te neem. Die Pasgamaal was 'n herdenkingsfees (om te herdenk hoe God die volk uit Egipte uitgelei het... - Jos. 5:1-0-12; Mark. 14:1,2).  Die NAGMAAL is nie dieselfde nie, alhoewel "ongesuurde brood en wyn" (wat gewoonlik deel is vd pasgamaal) spesifiek gebruik word vir die nagmaal, en die betekenis van hierdie elemente is Nuwe Testamenties. 

Wat word deur die Nagmaal verkondig:  Die rede vir die nagmaal is tot nagedagtenis van Jesus Christus - om Sy dood te verkondig tot Hy terugkom... (1Kor. 11:24)  en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; DOEN DIT TOT MY GEDAGTENIS.(1Kor. 11:25)  Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; DOEN DIT, so dikwels as julle daaruit drink, TOT MY GEDAGTENIS.(1Kor. 11:26)  Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy komHoe verkondig ons Sy dood daardeur?  - ons verkondig op hierdie manier dat Sy liggaam vir ons gebreek is, en Sy bloed vir ons gevloei het - wat op beurt wys dat ons in 'n nuwe testament is! Hy is die testamentmaker, en met Sy dood het die nuwe testament ingetree. Dit kan vgl. word met Jesus se woorde in Joh. 6:50-58 (Joh 6:53,54 - "En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag"). As jy van Hom "eet en drink" dan verkondig jy ook daardeur dat jy "geerf" het... - jy is deel van die kinders aan wie die boedel uitbetaal word, en dit wat jy kry is redding (van liggaam en siel), en dus ewige lewe. Natuurlik het Jesus nie bedoel dat ons fisies van Sy liggaam eet en Sy bloed moet drink nie, maar hierdie is geestelik bedoel... - soos wanneer iemand deel in 'n offertafel-1 Kor. 10:16. Alhoewel ons nie dieselfde woorde wil gebruik soos in afgodskringe nie, kan die nagmaal gesien word soos 'n "offertafel"..., want wanneer ons nagmaal gebruik het ons GEMEENSKAP MET SY LIGGAAM EN BLOED. 

Ongesuurde brode en wyn word gebruik: Tydens die Pasgamaal was o.a. ongesuurde brode saam met bitter kruie geeet, en wyn gedrink... Dit is daardie deel van die Pasgamaal wat Jesus gebruik het om die Nagmaal mee in te stel (nl. die ongesuurde brood en wyn).  

Die wyn verwys na bloed - in die pasgamaal het dit ook na bloed verwys, nl. met Pasga is die bloed van 'n lam aan die deurposte en bo-drumpel gesmeer voor die volk uit Egipte verlos is-Eks. 12. Die  rede vir die bloed aan die kosyne was sodat die doodsengel (wat al die eersgeborenes in Egipte op daardie nag getref het) by hulle kon verbygaan... - op dieselfde manier beskerm Jesus se bloed ons teen die dood. Hy is soos 'n Lam wat geslag is (Openb. 5:6,12; 13:8) - vgl. dit ook met die tempeldiens versoeningsoffer (waar versoening vir die volk se sonde gedoen is). In die Pasgamaal stel die wyn die bloed van die lam voor; in die Nagmaal stel dit ook bloed voor!, en Jesus is die Lam! (nl. die bloed van Jesus, die "Lam van God" wat soos 'n lam vir ons geslag is)(Hand. 8:32.33 - "En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ‘n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem")(Jes. 53:7-12). Deur Sy bloed is daar versoening gedoen vir ons, en is 'n nuwe testament ingelyf.  Net soos die bloed aan die kosyne die volk se eersgeborenes gespaar het in Egipte op daardie nag, so word die wat "Jesus se bloed drink", gespaar (sodat hulle nie die dood beerwe nie, maar lewe).  

Die rede waarom "ongesuurde" brode in die pasgamaal gebruik was was omdat alles haastig gedoen is toe Farao hulle uiteindelik laat trek..., maar daar is ook 'n geestelike betekenis rondom hoekom die brode "ongesuurd" is, en dit is dat dit reinheid en waarheid voorstel - 1 Kor. 5:6-8 (terwyl onreinheid op beurt vgl. word met suurdeeg). Die brood stel Jesus se liggaam voor - en is 'n "brood" wat gedeel word onder die "reines"... (die wat in Jesus Christus glo is skoongewastes en deel van een liggaam).

Hoekom word die brood en wyn gedeel met mekaar?: Jesus se liggaam is vir ons gebreek, en die "een brood" wat verdeel word wys op beurt na die heiliges as deel van een liggaam/brood/Jesus se liggaam (die kerk word bv. o.a. voorgestel as die "liggaam van Christus"-Kol. 1:24)(Rom 12: - "so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar"). Die wat in Jesus Christus glo is lede van dieselfde liggaam/brood (deel in ditto liggaam - die een brood word tydens nagmaal gedeel, wat op beurt wys dat die wat dit neem, lede is van een liggaam - en op beurt ook wys hoe ons mekaar nodig het)(1Kor. 12:12 - "Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus")(1Kor. 12:20,21 - "Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie"). Noodwendig word die brood gebreek en wyn gedeel onder "reines" (skoongewastes)! ...;  dus is dit belangrik dat die wat aan die nagmaal deelneem seker maak hulle is "rein" (dit is immers waarna "ongesuurd" verwys), anders kan hulle 'n oordeel oor hulleself eet en drink... (1Kor. 10:16,17 - "die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?  Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood").   

Kan iemand 'n oordeel oor homself eet of drink? Ons het genoem dat die nagmaal gesien kan word soos om gemeenskap te hê met 'n altaar... (1 Kor. 10:14-22 - "Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens. Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê: die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood. Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie? Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie. Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?"). Nagmaal kan dus op beurt gesien word soos 'n offer, want tydens nagmaal het jy gemeenskap met die bloed en liggaam van Jesus Christus... Dus, wanneer 'n Christen aan die een kant ook "offer aan ander altare" bv. afgode aanbid, ander geloofspraktyke raadpleeg ens.,  dan is hy besig om met beide gemeenskap te he (1Kor. 10:21 - "Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie"). As iemand bv. die nagmaal op hierdie manier gebruik deur OOK gemeenskap te hê met "ander altare" (bv. om begerig te wees na slegte dinge, geestelik te hoereer, murmureer teen die Here, ens. - 1 Kor. 10,), kan dit die Here se ywer opwek! (1 Kor. 10:22) - en in so 'n geval kan 'n persoon 'n oordeel oor homself eet en drink.

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

https://warechristene.blogspot.com/2020/03/die-nuwe-mens-deel-1-die-wedergeborene.html

https://warechristene.blogspot.com/2020/04/die-nuwe-mens-deel-2-die-christelike.html