Sondag 20 Januarie 2019

IN DIE GEES (/wees)

Die woorde "in die gees" verwys veral na hoe iemand onder beheer is van daardie gees;
- hetsy dit verwys na die inwoning vd gees deur wie iemand se wandel en denke beïnvloed word, of
- dit kan verwys na iets wat hy deur die gees ervaar, bv.  'n "gesig sien" (en dan word veral die woorde "was in die gees" of  "was in die gees weggevoer" gewoonlik gebruik).

Bv., as iemand "IN die (Heilige) Gees" is, wandel hy in die Gees en bedink geestelike dinge... (m.a.w. die Gees beïnvloed sy denke en dade);   hy is dan ONDER BEHEER VAN die Heilige Gees.  Maar "in die Gees" verwys nie net na die inwoning vd Heilige Gees nie, maar ook na dit wat iemand ervaar deur die Heilige Gees (bv. dat die persoon gawes en bedieninge ontvang ten doel om die Here se wil uit te voer - profeteer, genees, bid, lering gee, ...ens.)(of bv. dat die Here met iemand kommunikeer deur die Gees d.m.v. gesigte en (drome).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
"In die Gees wees" / "in die Gees weggevoer":

Die woorde "om in die Gees te wees" verwys gewoonlik in die Skrif na iets soos 'n "gesig" wat iemand DEUR DIE GEES sien:
-Openb. 1:10  Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ‘n groot stem gehoor, soos van ‘n basuin, wat sê:
-Openb. 4:2  En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon.
-Openb. 17:3  En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings.
-Openb. 21:10  En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal;

Die woorde "IN DIE GEES WEES" word veral in die Skrif  gebruik in vb.e waar iemand 'n gesig sien of in 'n gesig weggevoer word (bv. Johannes in die boek van Openbaring)(Openb. 1:10; 4:2; 17:3; 21:10) - asof die persoon weggeruk word deur 'n gees, m.a.w. in hierdie geval deur die Gees van God (2 Kor. 12:2-4) - of waar iemand iets in sy gees gewys word DEUR die Gees van God (Openb. 1:10 - "Ek was in die Gees op die dag van die Here...........").
Ander gelowe wat hulle besig hou met heidense praktyke soos oosterse meditasie kan bv. ook so iets ervaar waar hulle weggevoer word in gesigte, maar dan is daardie persoon onder beheer van 'n "ander gees".  Die vraag is dus onder watter gees se beheer iemand is wanneer hy "in 'n gees" is...

Wanneer 'n gelowige/Christen "in die Gees" is, is dit wel iets wat hy "in sy eie gees" ervaar, maar "deur die Gees (van God)". In die O.T. was veral die woorde "deur die Gees opgeneem" gebruik (Eseg. 11:24; 3:12-14; 8:3) wanneer iemand 'n gesig gewys word; altans "deur 'n gesig weggevoer word"... Hierdie verwys miskien meer na "buite die liggaam", maar dit is nie onmoontlik vir iemand om deur die Gees "in die liggaam" weggevoer te word nie! (2 Kor. 12:2). Dus, alhoewel "om in 'n gesig weggevoer te word" miskien meer verwysend is na "in die gees weggevoer" (bv. iets in die gees gewys word en nie in die liggaam nie), is dit wel moontlik om deur die Gees letterlik weggevoer te word! (1 Kon. 18:12; 2 Kon. 2:16) - 'n vb. hiervan is ook in Hand. 8:39 waar Filippus letterlik weggevoer was na 'n ander plek... In hierdie geval ook wel DEUR die Gees, maar is dan nie iets wat hy net "in sy gees" ervaar (asof soos wanneer iemand droom) nie, maar hy ervaar dit ook in sy liggaam.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die inwoning vd Gees:
Enig iemand in wie die Gees van God woon kan gesien word as IN DIE GEES (van God), want hulle wandel in die Gees van God en bedink geestelike dinge (Rom. 8:4-9)(Rom 8:9 - "julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie").  Dit sluit in dinge wat hulle DEUR DIE GEES VAN GOD "doen", bv. om deur die Gees te bid..., m.a.w. "bid in die Gees" (Ef. 6:18; Rom. 8:26). Wanneer die Gees van God op mense rus, werk Hy ook gawes en bedieninge deur hulle (1 Kor. 12:4-11) - bv., kom ons kyk na die "gawe van profesie" (Num. 11:25).  Ons kan seker sê dat die persoon wat profeteer "in die Gees" profeteer, want wat hy deur die Gees profeteer is wat die Gees in hom spreek2 Sam. 23:2  - "Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong" - so iemand is dus nie "in die vlees" nie, want die woorde kom nie uit homself nie (2Pe 1:21 - "want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek")- maar dit is bv. anders met 'n valse profeet want 'n valse profeet praat uit homself en is dus nie "in die Gees" wanneer hy profeteer nie...- meer presies, hy laat hom nie deur die Gees lei nie!

In die O.T. is somtyds die volgende woorde gebruik:  "Maar die Gees van die Here het oor hom vaardig geword..." (Rig. 14:6,19; 15:14; 1 Sam. 10:6; 16:13). Hierdie woorde was veral gebruik wanneer iemand die Gees ontvang of altans, deur die Gees krag ontvang om iets te doen (bv. profeteer)(vgl. met tema krag van Gees-Hand.1:8). In Rig. 14 en 15 het Simson baie sterk geword toe "die Gees van God oor hom vaardig word". Ons kan miskien sê dat Simson "IN DIE Gees" was... Ons sien dus dat die Gees van God die mens se innerlike verander om anders te begin dink ("bedink bv. geestelike dinge") en doen...-  werk bv. gawes en bedieninge deur die mens om Sy wil uit te voer.
Dit is dus duidelik dat om "in die Gees" te wees verwys na:
- ONDER BEHEER VD GEES; of
- GELEI DEUR DIE GEES (Luk. 4:1).
Bv., die wat hulle deur die Gees laat lei is nie onder die wet nie - m.a.w., hulle is dus nie gehoorsaam aan die wet (van Moses), of laat hulle lei deur die wet van Moses nie, maar is gehoorsaam aan die Gees van God (Gal. 5:18) - is dus "onder Sy beheer" en laat hulle deur Hom lei (http://warechristene.blogspot.co.nz/2017/05/wie-is-nie-onder-die-wet-nie.html) - op daardie manier stap hulle "IN DIE GEES" (nl. die Gees van God / die Heilige Gees).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Onder beheer van 'n gees:
Nie almal wat onder beheer is van 'n gees is noodwendig onder beheer vd Heilige Gees nie!

Daar is baie ander geeste bv. "onreine geeste" (ook genoem "duiwels"-Joh. 10:21)(kyk ook "bose" of "ander" geeste...), en die wat onder hulle beheer is laat hulle deur daardie geeste lei (en is m.a.w. onder die mag vd duiwel) (Hand. 10:38).

In 1 Sam. 18 het die bose gees wat oor Saul vaardig geword het hom beweeg om vir Dawid te probeer doodmaak. Dus sien ons dat daardie geeste ook 'n invloed het op die persone in wie hulle bly. Daar is heelwat voorbeelde in die Skrif van mense wat kranksinnig was a.g.v. onreine geeste;  en sommige was selfs siek gemaak deur hulle...;  daar is ook 'n geval van iemand wat baie sterk was a.g.v. die inwoning van bose geeste - dus sien ons die invloed van wanneer iemand "in 'n gees" is.  So iemand word gelei deur daardie gees en is onder beheer van daardie gees.

Die wat egter in Jesus Christus glo en wederbaar word, ontvang die Heilige Gees (die Gees van God) - wat terloops op beurt 'n bewys is dat hulle aan die Here behoort! Hulle is onder die Here se mag en wandel in die Gees van God en bedink geestelike dinge (Rom. 8)(is onder beheer vd Heilige Gees)...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie: