Dinsdag 15 November 2022

Gawes, Bedieninge en Werkinge

HIERDIE IS DIE EERSTE VAN 'N STEL POSTE GETITELD 
"Gawes, Bedieninge en Werke". In die reeks word daar gekyk na die verskillende geestelike gawes, bedieninge, en werkinge in die Christelike kerk. Ander belangrike onderwerpe wat saam met hierdie tema behandel kan word, is die "doping in die Heilige Gees", "krag ontvang" , "om in die Gees te wees", "wat dit beteken om kragtig te wees in die Here", ens.


In hierdie pos:
- Inleiding (wat beteken dit om in die Naam van Jesus op te tree)
- Die belangrikheid van "die bron"
- Die invloed van 'n gees / die invloed van die Heilige Gees
---------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Inleiding:
Om "in die Naam van Jesus" op te tree, beteken dat jy in Sy plek optree/uitgaan.  Bv., as jou pa jou stuur om ter wille van Hom iets te gaan doen/praat, dan gaan jy "in sy naam" (in sy plek - jy kry m.a.w. die verantwoordelikheid om in sy plek dit te gaan doen...). Op ditto wyse word Christene outoriteit gegee om in Jesus Christus se plek (terwyl Hy nie fisies self hier teenwoordig is nie) te praat en te doen (en elkeen word verskillende werk gegee). Dit is wat dit beteken om "in Sy Naam" uit te gaan, en daarom bid/doen ons ook gewoonlik iets "in Sy Naam" wanneer ons in sekere gawes en bedieninge stap... (m.a.w., jy is deur Hom gestuur, so jy doen/praat dit "in Sy Naam" - in Sy plek). As jy bv. 'n duiwel probeer uitdryf terwyl jy nie gestuur is nie, dan kan jy nie "in die Naam van Jesus" uitgaan nie, want jy is nie deur Hom gestuur nie! (Hand. 19:13-16). Om gebruik/uitgestuur te word/mag te kry (m.a.w. "in Sy Naam uit te gaan) het te doen met gehoorsaamheid aan Jesus Christus. 

Jesus het op ditto wyse uitgegaan "in die Naam van die Vader" (Joh 10:25)(is deur die Vader gestuur), en het somtyds Sy werk delegeer na Sy dissipels (vir hulle krag gegee om "in Sy Naam"/ter wille van Hom uit te gaan - m.a.w., die krag wat Hy ontvang het vd Vader het Hy delegeer na Sy dissipels). Jesus het in die Vader se Naam uitgegaan (want die Vader het Hom gestuur), en Sy dissipels het in Jesus se Naam uitgegaan (want Hy het hulle gestuur). Op ditto wyse het die Here werk/mag/krag (vd Gees wat op Moses was) ge"delegeer" aan 70 vd oudstes vd volk (m.a.w., vd Gees wat op Moses was, het die Here afgesonder en op die 70 gelê...)(Num. 11:16,17) - op hierdie manier kon hulle vir Moses help die las dra. Hierdie is immers waarom Moses krag ontvang het, en ook die doel waarom daardie krag gedelegeer is... - is om die wil van die Here uit te voer (bv., die krag vd Gees maak ons instaat "om te kan getuig" / om die waarheid te kan verkondig / om die Here se wil bekend te maak, ens.). 

As iemand gedoop word "in die Naam van Jesus Christus" tot vergewing van sondes, dan beteken dit dat Jesus die een wat doop, die outoriteit gegee het om in Sy Naam vergewing van sondes te gee (en die waterdoop is 'n teken hiervan)(Hand. 2:38). Om in hierdie verantwoordlikheid te kan stap, het jy "mag" of "krag" nodig - in die Christelike kerk word hierna verwys as "krag van die Heilige Gees", of word "gedoop in die Heiliges Gees". Dit is bv. anders as die waterdoop (Hand. 8:14-17).  Doping in die Heilige Gees (ook genoem "ontvang die Heilige Gees") het te doen met die KRAG ONTVANG vd Heilige Gees (krag/mag om vir die Here te werk) - daar is heelwat sulke gawes, bedieninge en werkinge. Hand. 4 is 'n goeie vb. van hoe goed hierdie konsep in die tyd vd eerste gemeentes verstaan was (kyk Petrus en Johannes voor die raad), bv. dat hulle vir Petrus en Johannes gevra het "deur watter mag en deur watter naam hulle optree"? Hulle het verstaan dat Petrus en Johannes mag/krag gekry het en deur iemand uitgestuur is, en toe hulle uitvind dat hulle "in Jesus se Naam" uitgaan, het hulle hul probeer verbied om dit te doen... Maar kyk Petrus en Johannes se antwoord aan die gereg in v. 19,20:  "Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie". Hulle het duidelik verstaan wat dit beteken om in Sy Naam uit te gaan, en dat dit gaan oor "gehoorsaam wees aan God" (doen dit uit gehoorsaamheid).  Christene is 'n "heilige" volk - dit beteken hulle is "afgesonder" (dit is wat "heilig" in hierdie konteks beteken) vir die Here;  m.a.w., afgesonder vir Jesus Christus (om Hom te dien, vir Hom te werk, 'n lig te wees in die wereld, ens. - is 'n slaaf van Christus). Christene is "geheilig" in daardie opsig, om in die Here se plek vir Hom ligte te wees in hierdie wereld, en Hy gee vir hulle die krag om te kan uitgaan. Hierdie kan miskien gesien word soos outoriteit, maar meer presies is dit eerder " 'n verantwoordelikheid ". Wanneer 'n bedienaar vir iemand bid vir genesing en hande op die persoon le en bv. bid "in die Naam van Jesus" vir genesing, dan beteken dit dat daardie persoon deur Jesus uitgestuur is om ter wille van Jesus (m.a.w. in Sy Naam) genesing te gee (Hand. 3:6) - dit is eintlik Jesus wat die genesing gee, maar Hy gebruik Sy kinders om dit uit te voer.  

Die vraag is nou of jy as Christen al enige sulke mag/krag ontvang het?  Het die Here vir jou mag gegee om ter wille van Hom op te tree? Die Here wil graag vir die wat Hom gehoorsaam, mag/krag gee om ter wille van Hom te praat en te doen (Hy wil vir ons gawes en bedieninge en werke gee - m.a.w., die wat Hom gehoorsaam kan gevul word met die krag van die Heilige Gees, sodat hulle instaat is om te kan uitgaan en getuig).  Voor Jesus opgevaar het na die hemel het Hy hierdie "krag" belowe  - en dit is waaroor die uitstorting van die krag vd Heilige Gees gaan in Hand. 2... - en die rede waarom die dissipels gewag het daarvoor.  Ons moet ook vra daarvoor soos hulle daarvoor gevra het. Wanneer die Here iemand vul met die krag van Sy Gees, dan gee Hy vir hulle mag (krag) om uit te gaan in Sy Naam en ter wille van Hom te praat, doen en skyn. Hulle ontvang gawes en bedieninge en werke. 

Die Christelike kerk word somtyds soos 'n mens voorgestel (bv. met 'n liggaam, siel en gees), en word ook na verwys as "die liggaam van Christus", en Christene vorm deel/is lede van hierdie liggaam (1 Kor. 12:14). (1Kor. 12:27 - "Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik"). Hierdie lede verwys na die wat behoort aan Christus en vervul is met die Heilige Gees (1 Kor. 12:13)(maw weergeborenes), en elke lid het 'n werk en/of bediening en/of gawe wat aan hulle uitgedeel word volgens wat nodig is, net soos 'n liggaam funksioneer met verskillende lede (1 Kor. 12:11,18) - dus verwys na as "liggaam van Christus" - hulle werk vir Hom. Lede in 'n liggaam het ook mekaar nodig (1 Kor. 12:15-31) - die een is daar vir reuk, die ander om te sien, die ander om te stap..., ens. - net so vorm elke lid 'n belangrike deel van hierdie "liggaam van Christus";  maar daar is ook 'n rangorde in hierdie "liggaam" volgens "outoriteit"/verantwoordelikheid en wat nodig is.  Bv., wat bedieninge aanbetref is (1) apostels eerste, dan (2) evangeliste, dan (3) leraars (evangeliste, herders, leraars), dan (4) kragte, (5) genadegawes van gesondmaking, (6) helpers, (7) regeringe en laastens, (8) allerhande tale (1 Kor. 12:28.29). Die doel van "bedieninge" is om die heiliges toe te rus vir dienswerk, en om die "liggaam van Christus" op te bou (Ef. 4:11,12). Net so is daar 'n doel vir gawes (bv. dat dit tot stigting is) en 'n doel vir werke (bv. om die Here se wil uit te voer)...  Sommige gawes is ook belangriker as ander, bv. profesie is belangriker as wanneer iemand in 'n taal bid (ter wille van die wat nie verstaan nie; -tensy dit uitgele word)(1 Kor. 14:3,5). M.a.w., dit gaan hier oor wat belangrik/nodig is en wanneer dit belangrik is... - die bedoeling van gawes is dat dit tot stigting kan wees (1 Kor. 14:12);  m.a.w., dit gaan duidelik oor wat "nodig" is. Alle werk wat aan die Christen uitgedeel word deur die Gees, is bedoel om die Here se wil uit te voer (Fil. 2:13 - "want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae")(Hebr. 13:21), en om die gemeente te stig en te laat groei;  en daar is ook ander dinge wat tot stigting is, bv. wanneer iemand 'n psalm bring, of  'n openbaring, of opbouende woord... (1 Kor. 14:26; Ef. 4:29);   en natuurlik, wat geloof, hoop en liefde aanbetref, is die liefde die grootste! (Joh 13:35 - "Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het").
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die bron:

Soos bo gesien (bv. in wie se naam ons optree), is dit duidelik dat gawes, bedieninge en werkinge in die Christelike kerk "DIE HERE AS BRON" het. Die Here deel gawes, bedieninge en werkinge aan elkeen uit, wat hulle instaat maak om hierdie rolle te vervul, en Hy doen dit deur Sy HEILIGE GEES - Hy is die bron. 

Ons moet natuurlik onderskei tussen verskillende geeste, want nie almal wat lyk of hulle in gawes en bedieninge stap, verkry dit van die Here af nie! Daar is bv. heelwat "heidense praktyke" waarin mense in allerhande soorte "gawes" stap maar hierdie gawes nie verkry is van die Heilige Gees nie (bv. waarseery, sekere geestelike genesers, ens.).  Dit gaan dus oor die BRON waarvanaf hierdie gawes en bedieninge verkry word. Nie enige iemand wat 'n gawe of bediening het het die Here as bron nie.  Nie almal wat bely hulle ken die Here of bely hulle is Christene, ken Hom regtig nie! (Matt. 7:21-23). Somtyds stap mense in soortgelyke gawes soos wat in die Christelike kerk gesien word, maar dan het hulle nie die Here as "bron" nie - die waarheid is dat in die Christelike kerk is daar ook onkruid, ingesluiptes, valse broeders en verleiers... (Gal. 1:4; 2 Kor. 11:13; Jud. 1:4; ens.). En sommige het wel die Heilige Gees en dra vrug van die Gees, maar word dan afvallig en tree op asof hulle in die naam van Jesus optree maar tree dan eintlik in hulle eie naam op... Dit is daarom belangrik dat die geeste op die proef gestel word.  'n Goeie manier om te sien of iemand deur Jesus gestuur is, is bv. om te kyk of die persoon dieselfde preek as wat Jesus gepreek het.  Bv., baie bely hulle glo in Jesus (of is deur Hom gestuur), maar die oomblik as jy met hulle begin praat oor wat Jesus geleer het, dan kom jy agter hulle glo nie regtig in Hom nie (want hulle glo nie in Sy woorde nie). As iemand bely hy glo in Jesus of is deur Jesus gestuur of deur die Heilige Gees gelei, dan moet hy ten minste dieselfde preek as wat die Skrif leer of wat Jesus gepreek het! Hierdie is 'n goeie manier om te sien of iemand regtig in die Naam van Jesus optree... (is hy regtig deur Hom gestuur?). Wanneer iemand 'n gees in hom het het daardie gees natuurlik 'n invloed op die persoon - die Heilige Gees het 'n groot invloed op die weergeborene se lewe. O.a. word die Heilige Gees die "Gees van WAARHEID" genoem, en kan nie iets anders leer as die waarheid nie.  As Jesus Christus iemand vul met die Heilige Gees (die Gees van waarheid), dan is dit logies dat wat daardie persoon preek (wat hy van die Gees ontvang), moet dieselfde wees as die waarheid wat Jesus Christus gebring het... (as dit nie so is nie, dan kom hy duidelik nie "in die Naam van Jesus" nie - en is dan nie deur Jesus gestuur nie). 

Daar is verskillende soorte geeste (selfs die innerlike mens kan ook gesien word as 'n gees).  Ons moet onderskei tussen "die mens se gees", "dienende geeste", "onreine/ander/ bose geeste", en "die Heilige Gees". Bv., nie almal wat in 'n gawe of bediening stap het die Heilige Gees AS BRON nie.  Sommige het 'n wêreldse gees as bron, sommige gebruik engele as bron (en dan hang dit af of daardie engel deur die Here gestuur is of nie), sommige het onreine en bose geeste as bron, en sommige het die Heilige Gees as bron.  In die Christelike kerk is die Here en Sy Gees veronderstel om die Christen se bron te wees, maar ongelukkig is die waarheid dat baie Christene vandag hulle hoop in ander-geloofspraktyke plaas en hulle so oopstel vir ander bronne. Daar is verskillende redes waarom sommige Christene hierdie doen, o.a. kan dit wees omdat die persone nie aan die geloof vashou nie - 'n ander rede kan wees omdat hierdie persone ongehoorsames is en hulle wederstrewigheid veroorsaak dat die Here hulle nie meer antwoord nie... (en hulle dan hulle antwoorde elders gaan soek). Nog 'n rede is eiesinnigheid (hardkoppigheid) wat terloops vgl. word met beeldediens en afgodery (hierdie verwys na Christene wat die waarheid ignoreer en hulle eie "waarheid" volg). 

In hierdie reeks van "gawes, bedieninge en werkinge" kyk ons egter spesifiek na die wie se bron die Heilige Gees is, maar ons moet egter versigtig wees en die geeste onderskei, want wanneer ons met mense te doen het wat in spesifieke gawes en bedieninge stap, gebruik nie almal van hulle die Here en Sy Gees as bron nie. Ons moet dus kennis neem dat nie almal in die Christelike kerk die Heilige Gees as bron gebruik nie, en moet die geeste onderskei. Kom ons kyk vinnig na hierdie verskillende bronne (sodat ons beter kan onderskei):
- (1) "die mens se gees" (ook genoem "siel")(dit verwys na die innerlike mens bv., daar is 'n gees in elkeen se binneste - Sag. 12:1)(sommige geleerdes verwys daarna as "siel/gees", want die innerlike mens word somtyds na verwys as siel en somtyds as gees)(wanneer die liggaam of uiterlike mens doodgaan, verlaat hierdie siel/gees/innerlike mens die liggaam - dan is iemand soos 'n gees sonder vlees en bene...).  SOMMIGE PRAAT UIT HULLESELF EN GEBRUIK DUIDELIK HULLESELF AS BRON. SIENDE DIE NATUURLIKE MENS 'N WERELDSE GEES HET, PRAAT HULLE UIT DIE WERELD, MAAR DIE GEESTELIKE MENS HET DIE HEILIGE GEES - EN PRAAT DUS UIT DIE GEES...   Ongelukkig gebeur dit somtyds dat sommige weergeborenes afvallig word vd geloof  - hierdie mense begin weer praat en klink soos die wêreld... (Rom. 1)(en praat gewoonlik "uit hulleself"), en hulle verander baiemaal in verleiers - hierdie is baie gevaarlike suurdeeg in die Christelike kerk!   

- (2) dienende geeste (die engele)(die engele wat vir God dien word gebruik en uitgestuur om God se wil uit te voer, bv. is o.a. boodskappers, of is tot hulp vir die wat die saligheid beerwe - Hebr. 1:14)(hulle word ook "manne" genoem in verskeie skrifte, en het ander soort liggame as ons, ens...).  Maar NIE ALLE ENGELE WORD DEUR DIE HERE GESTUUR NIE... - SEKERE GELOWE HET bv. HULLE ONTSTAAN DEUR 'n "ANDER EVANGELIE" WAT DEUR 'N ENGEL GEBRING IS (bv, deur 'N ENGEL WAT AAN IEMAND VERSKYN HET...).   WEER-EENS IS HIERDIE DIE MANIER HOE DAAR GEMEET WORD OF 'N ENGEL DEUR DIE HERE GESTUUR IS OF NIE... - EN DIT IS DEUR TE OORDEEL OF SY WOORDE DITTO IS AS DIE WAARHEID (Gal. 1:7,8);

- (3) onreine geeste en bose geeste (ook genoem "ander geeste" in 1 Joh. 4:1,2)(of genoem duiwels in Joh. 10:21)(hulle soek liggame waar hulle kan intrek;  wanneer iemand 'n bose gees in hom het word hy deur daardie gees "besoedel" en is onder die mag vd duiwel - is m.a.w. onder beheer van daardie gees of duiwel, en die duiwel doen allerhande dinge in hulle - kan bv. die persoon in wie hy woon buitengewoon sterk maak, of stuiptrekkings laat kry, of siek maak, ens.).  SOMMIGE BRING 'N "LERINGE VAN DUIWELS" (1 Tim. 4:1)(wat terloops baiemaal gepreek word deur die wat afvallig word vd geloof) -  leringe van duiwels is leringe ONTVANG DEUR ONREINE EN BOSE GEESTE (bestudeer gerus ook temas soos offerandes aan duiwels, wereldse wysheid, duiwels wat tekens doen, ens.)(1 Kor. 10:20; Jak. 3:15; Openb. 16:14; ens.).  Sommige leer "leringe van duiwels", maar het dit nie by 'n duiwel ontvang nie, maar by iemand anders wat dit van 'n duiwel ontvang het.  Hierdie gebeur ongelukkig baie, en somtyds hou selfs Christene hulle besig met sulke leringe omdat hulle dit nie beoordeel nie, of nie regtig glo in die waarheid nie;  

- (4) die Heilige Gees (Gees van God afgesonder, wat deur Jesus Christus gegee word aan die wat in Hom glo)(wanneer iemand die Heilige Gees het, is hy onder die mag van God se Gees - is m.a.w. onder beheer van Hom, van Sy Gees, en die Heilige Gees werk allerhande gawes, bedieninge en werke deur daardie persoon, en lei en leer hom in die waarheid/hulle verkry wysheid van bo/hulle verkry gawes om dinge te doen wat hulle nie self kan doen nie/hulle kry opdragte/ens...).   

GAWES, BEDIENINGE EN WERKINGE is dus ONDERWERP aan die BRON: Die Heilige Gees is die Gees van waarheid - is God se Gees - dit is dus die Here wat hierdie gawes, bedieninge en werke vir die gelowige gee, en waar 'n weergeborene opreg bly en nie afdwaal nie en vashou aan die geloof, sal dit waarin hy stap of die woord wat hy bring nie in stryd wees met die Here se wil of Sy waarheid nie.  Die Heilige Gees gaan nie iets anders verkondig as wat Jesus Christus geleer het nie. Dit is dieselfde Gees - Here - God.  Hierdie is m.a.w. die manier hoe daar onderskei kan word tussen die ware en die valse. 
(1Kor. 12:4)  Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees;
(1Kor. 12:5)  en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here;
(1Kor. 12:6)  en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. Daarom, as iemand met 'n bediening van lering 'n woord bring in stryd met die waarheid of met wat Jesus geleer het, dan is hy nie opreg nie of is nie gehoorsaam aan die Here nie (so iemand is bes moontlik 'n valse leraar).   GAWES, BEDIENINGE en WERKINGE (vd Gees)(vd Here) is dus onderwerp aan die Here se wil en aan Sy waarheid. Dit gaan dus hier oor die BRON. As iemand in 'n "gawe" of "bediening" stap maar nie die Here as bron gebruik nie, dan is daardie gawe of bediening nie deur die Heilige Gees nie,  Dit is hierdie element wat die profeet vd Here onderskei vd waarseer. Die waarseer het 'n ander BRON en praat deur 'n "ander gees".  Die valse apostel verkondig 'n "ander evangelie"; die valse leraar verkondig 'n ander woord as die waarheid... (2 Kor. 11:4). Dit gaan alles oor die bron. Daarom gaan 'n Christen hom nie ophou met praktyke soos waarseery, goelary, dooies raadpleeg, verklaring van voortekens, towery,  ens. nie, want hierdie mense gebruik 'n ander bron! (Deut.18:10-14; Lev. 19:26,31; 20:6,7 ens.). Christene moet wegbly van sulke "heidense praktyke". Moenie jou ophou met oosterse geloofspraktyke (soos oosterse meditasie en joga, wat terloops nie net bloot oefeninge is nie) soos sommige kerke vandag doen nie. Hoekom gaan soek sommige Christene hulle antwoorde in hierdie soort praktyke?, want deur hierdie praktyke stel jy jouself oop vir verkeerde bronne. Moenie dink dat omdat jy 'n Christen is jy nie onrein kan word deur hierdie dinge nie!, want Christene wat hulle ophou met hierdie soort praktyke (bv., waarseery, offers aan dooies, verklaring van voortekens, ander geloofspraktyke, ens.) sal beslis verontreinig word daardeur (Lev. 19:31) - en as jy as Christen jou besig hou met hierdie goed word jy gesien soos 'n "hoereerder", maw, jy is dan besig om "geestelik te hoereer"... - het gemeenskap met ander bronne (1 Kor. 10; 2 Kor. 6:14; Ef. 5:11; 2 Joh. 1:11; 1 Joh. 1:6; 1 Tim. 5:22). As jy jou met enige van hierdie ophou of dit in die verlede gesoek het, moet jy dit bely, los en vra vir vergifnis - kom terug na die Here en gebruik Hom alleen as bron. 

Die Christen se bron moet die Here wees, en die Here praat natuurlik met Sy kinders veral deur Sy Gees, en gee vir hulle opdragte (deur Sy Gees), en lei hulle in wat die waarheid is (deur Sy Gees), herinner hulle aan wat Jesus geleer het (deur Sy Gees), en gebruik gawes en bedieninge om Sy woord, wil en waarheid bekend te maak deur hulle (deur Sy Gees). Hy moet alleen ons bron wees.

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wat is die invloed van 'n gees op iemand,
en wat is die invloed van die Heilige Gees?

Die mens se gees (die "geeste van alle vlees") beskryf daardie peroon met wil, vermoë, persoonlikheid, karaktertrekke ens., maar wanneer nog 'n gees in iemand bly verander hy daardie mens (se gees); m.a.w., kan sy persoonlikheid, karakter en vermoëns beinvloed.  Bv., wanneer 'n bose gees in iemand bly kan hy daardie persoon se dade beinvloed sodat hy kranksinnig voorkom, of hy kan veroorsaak dat die persoon homself probeer seermaak of sy liggaamsgebruik stuit, bv. hom doof of blind maak, of is verlam in sekere dele sodat hulle nie kan loop nie of speeksel by die mond uitloop, ens. Daar bly somtyds verskeie geeste in een persoon en die geeste het verskillende werkinge. Daar is hope voorbeelde in die Skrif van hoe mense wat 'n bose gees in hulle het ly onder die mag van daardie onrein of ander gees, en dit is duidelik dat diesulkes ook nie altyd beheer het oor hulle eie liggame nie. Dat hierdie geeste mense siek kan maak, is beslis so, maar dit is natuurlik gevaarlik om alle siektes en tekortkominge toe te skryf aan bose of ander geeste (soos wat sommige Christene doen), want daar kan baie ander redes wees waarom iemand siek is (redes wat ook terloops almal skriftuurlik is; bv. a.g.v. kieme, of sonde kan iemand siek maak, of bloot dat iemand siek is omdat hy deur 'n toets gaan, of siek is bloot ter wille van 'n wonderwerk wat moet gebeur sodat God se krag gewys kan word..., ens)

Enige gees wat in iemand bly sal 'n invloed he op daardie persoon en kan/sal hom verander. In die Skrif is daar dan ook hope vb.e van hoe die Heilige Gees mense verander of deur hulle werk, en weergebore Christene kan hiervan getuig!; nie net verander hulle nie maar hulle kry ook gawes en bedieninge om dinge te doen wat hulle nie normaalweg kan doen nie,  bv. hulle bekwaam maak om spesifieke werke vir die Here te doen, hulle gebruik in wonderwerke, besonderse wysheid vir hulle gee, ens. Natuurlik is die invloed vd Heilige Gees baie anders as die invloed van ander geeste, en die Heilige Gees maak iemand nuut en is goed vir die mens en verander iemand ten goede, en verseel die weergeborene (tot die dag van verlossing)! Die wat weergebore word word gebore deur 
-water (afwassing van sondes/staan op in nuwe lewe) en deur 
-Gees (ontvang die Heilige Gees). Die ontvang van die Heilige Gees is 'n belangrike deel van wedergeboorte, en die weergeborene kan ook krag ontvang deur die Heilige Gees (gawes, bedieninge en werke).  Alhoewel die ontvang van die Heilige Gees eenmalig is (m.a.w., dit gebeur wanneer iemand weer gebore word), kan die weergeborene gedurigdeur met krag (vd Heilige Gees) vervul word... In alle gevalle is die doel vir krag ontvang, sodat ons kan bedien en getuig. Vir 'n pos oor "wie ontvang die Heilige Gees" en "hoekom iemand die Heilige Gees ontvang", gaan na: http://warechristene.blogspot.com/2014/12/die-gees-van-god-2.html.  

Wanneer die Heilige Gees in 'n Christen kom bly dan verander Hy daardie persoon en gee o.a. aan hom GAWES EN BEDIENINGE, en WERK deur hom soos benodig in die koninkryk van God. Hy maak hom bekwaam om spesifieke werke vir die Here te doen (bv. om die volk vd Here te lei in die Here se wil, of om God se planne bekend te maak, of om iemand wat afgedwaal het terug te roep, ens.), en lei en leer hom in die Here se waarheid. Gawes en bedieninge gaan somtyds gepaard met wonderwerke, en mense in wie die Heilige Gees is verkry 'n besonderse verstand (bv. om die Here se wil te ken en te weet wat is die waarhed)  - immers is die Heilige Gees die Gees van WAARHEID - mense in wie die Heilige Gees is, "sien" anders en leer wat is die waarheid werklik. Hierdie is die groot verskil tussen "natuurlike mense" en "geestelike mense", en die Heilige Gees is die rede waarom geestelike mense verskillend dink en sien van natuurlike mense.

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie: