Vrydag 11 September 2020

Gaan ons vir ewig op die aarde lewe, of in die hemel?

Sommige reken dat die wat gered word vir ewig in die hemel gaan bly, maar is dit so?  Word daar nie eerder aan gelowiges belowe dat hulle die aarde sal beërwe nie? (Matt. 5:5; Ps. 37:9,11,22,29,34; Rom. 4:13...).

Gaan die wat gered word vir ewig in die hemel bly?, of op aarde? 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Kom ons kyk na 'n paar skrifte wat miskien vir ons meer duidelikheid hieroor kan gee:
- (Mat 5:5)  "Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde (grond, land, wereld...) beërwe".
- (Ps. 37:9)  "Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit".
- (Ps. 37:11)  "Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede".
- (Ps. 37:22)  "want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde besit; maar die wat deur Hom vervloek word, sal uitgeroei word.
- (Ps. 37:29)  "Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon".
- (Ps. 37:34)  "Kof. Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense".
- (Rom 4:13)  "Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
BURGERSKAP IN DIE HEMELE:
Natuurlik wanneer ons praat van "burgerskap in die hemele", dan verstaan ons "hemel" hier as verwysend na die hemel waar God woon.   Vir interessantheid - die woord "hemel" verwys nie oral in die Skrif na hierdie "hemel daarbo" (waar God woon) nie, maar die woord kan ook verwys na "die uitspansel" (Gen. 1:8)(hetsy aan, langs. of bo). Dit wat "hemel" genoem word kan dus in 3 dele opgedeel word, nl. dit wat "bo die uitspansel" is (m.a.w. die hemel waar God woon), dit wat "aan die uitspansel" is (nl. die ligte - son, maan en sterre - Gen. 1:14,17), en dit wat "langs die uitspansel"is (nl. die deel waar die voels vlieg - Gen. 1:20).  En dan dit wat ons as "aarde" ken, is die droe grond en versamelings van water - is m.a.w. "onder die hemel" (Gen. 1:9; 16:17; 24:7) - en dan is daar natuurlik ook dit wat "onder die aarde" is... 
Volgens Jes. 66:1 kan die "hemel" gesien word as God se troon, en die aarde die voetbank van Sy voete... Die uitspansel word ook verder soos 'n kring of sirkel beskryf in Jes. 40:22, met God "bo"die kring vd aarde

Ons moet natuurlik kyk na die konteks waarin skrifte soos Fil. 3:20,21 gegee word. Let op die woorde daar - "van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus..." - "van waar" verwys na die hemele (die hemel waar God woon, en waar Jesus nou sit aan die regterhand vd Vader - "die hoogste hemel") - ons verwag Hom om daarvanaf te kom aarde toe en ons te kom beklee met die onverganklike liggaam, 'n liggaam wat vir ons in die hemele in bewaring gehou word. Vgl. dit met 2 Kor. 5 - bv., die woorde daar "gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele" in 2 Kor. 5:1 bedoel nie dat Christene vir ewig fisies in die hemel sal bly nie, maar verwys na die (nuwe) uiterlike mens wat soos 'n "huis" gesien kan word en vir hulle in die hemele gehou word, en waarmee hulle eendag oordek gaan word "vanuit die hemele" (verwys m.a.w. na die "verheerlikte liggaam") - miskien anders gestel, kan gesien word as 'n liggaam wat burgerskap het in die hemele, waarmee ons eendag oordek gaan word. .(2Kor. 5:1,2 - "Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word".   Dit sal gebeur in "die opstanding" (1 Thess. 4:16...). Vgl. dit ook met 1Pe 1:3,4 - ("Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons"). Die konteks waarin BURGERSKAP IN DIE HEMELE gebruik word het dus te doen met die onverganlike en onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemele vir ons bewaar word, nl. die verheerlikte liggaam (nuwe uiterlike "mens") waarmee elke wedergeborene eendag oorklee sal word "vanuit die hemele" wanneer Christus Jesus terugkom.  
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die wat gered word sal die Koninkryk beerwe...

Die wat gered word sal die koninkryk beerwe... (Matt. 13:43; 25:34), maar wat word bedoel met hierdie koninkryk?  Verwys dit na 'n hemelse koninkryk, of 'n aardse?  Ons moet verstaan dat Christus se Koninkryk nie net hemels van aard is nie, maar sal ook fisies op aarde wees wanneer Christus Jesus (vanaf die hemel) terugkom en die ander koninkryke verbrysel en Sy ewige koninkryk oprig (Dan. 2:44; 4:3; Gen. 49:10; Ps. 2:6-12; Ps. 89:3,4,36; Eseg. 35:25; Miga 4:7; Luk. 1:32,33; Joh. 12:34; Openb. 11:15; 19:11-21; 20:6,7 ens.).  (Jes. 24:23 - "En die maan sal rooi word van skaamte, en die son sal skaam wees; want die HERE van die leërskare sal regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en voor sy oudstes sal daar heerlikheid wees").

Christene het wel burgerskap in die hemele (Fil. 3:20) wat terloops meer verwysend is na die nuwe liggaam waarmee ons eendag oorklee sal word, maar meeste geleerdes is eens dat die wat in Christus sterf (hulle innerlike) huidiglik ook hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan na waar Jesus Christus is (Christus is immers in die hemel aan die regterhand van God-Kol. 4:1)(Fil. 3:20; Spr. 15:24; Hebr. 10:34,35; Matt. 5:12)(2Kor. 5:8 - "Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon") - as hierdie wel so is, beteken dit egter nie dat hulle vir ewig in die hemel sal bly nie. Soos bo gesien, die term "burgerskap in die hemel" word gebruik in konteks met die onverganklike liggaam waarna ons uitsien om eendag oorklee te word (vanuit die hemel), en verwys eerder daarna dat ons deel is vd koninkryk van God as wat dit bedoel dat ons vir ewig in die hemel gaan bly:  (Fil.  3:20, 21 - "Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp").

Bestudeer gerus die tema "koninkryk van God" waarin ons sien dat "koninkryk" (van God) veral verwysend is na "waar God teenwoordig en in beheer is".  Die koninkryk van God is inderdaad hemels van aard want God bly in die hemel en Christus is huidiglik aan die Vader se regterhand, maar sal eendag terugkom aarde toe (Hand. 1:11; Luk. 19:15; Hand. 15:16; Jes. 24:23 ens.) om 'n koninkryk op aarde op te rig (wat terloops in der ewigheid nooit sal vergaan nie!)(Dan. 2:44) - en dan sal Christus Jesus teenwoordig wees in Sy koninkryk op aarde (en sal terloops vanuit Jerusalem regeer). Dus, dan sal Christus Jesus hier TEENWOORDIG wees op aarde en in beheer wees..., in Sy koninkryk.

Die Skrif verklaar o.a. dat ons vir altyd by Hom gaan wees - so, as Hy "op aarde" gaan wees, waar gaan ons dan wees? As Jesus Christus 'n koninkryk op aarde gaan oprig en ons vir ewig by Hom gaan wees, waar gaan ons dan wees? Natuurlik, by Hom!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Waar Jesus sal wees:

Nietemin waar die wat Christus sterf, hulle hul bevind na die dood, die punt is dat hulle aarde toe gebring sal word (om hier te bly). 1 Thess. 4 gaan oor die opstanding vd wat in Christus gesterf het (m.a.w. opstanding in nuwe uiterlike) wat eerste sal plaasvind, en dan wat ons noem "die wegraping" (wat terloops deel is vd opstanding - gelowiges wat dan nog in die lewe is, sal verander word - ook nuwe liggame kry). V. 17 verklaar dat hierdie mense vir altyd "by die Here sal wees", hulle gaan vir Jesus Christus in die lug ontmoet, ja, maar vir altyd "by Hom wees" - maar waar gaan Hy wees?  Hierdie is 'n belangrike vraag want as Hy op die aarde gaan wees, dan gaan ons ook op die aarde wees! In dit wat genoem word die "volgende eeu", gaan Jesus Christus vanuit Jerusalem oor die hele aarde regeer - Hy gaan "op die aarde" wees! (nie in die hemel nie). Dus, die wat deel het aan "die opstanding" (die wat daarin sal opstaan tot lewe) gaan saam met Hom op die aarde wees. Ook aan die einde van hierdie tydperk, met "die nuwe hemel en aarde", gaan die nuwe stad Jerusalem VANUIT DIE HEMEL op die aarde afsak, en die wat die ewige lewe het sal in hierdie stad WOON - l.w. OP DIE AARDE!

In die verskillende briewe aan die boodskappers van die 7 gemeentes in Openbaring maak die Here Jesus Christus verskeie beloftes AAN DIE WAT OORWIN, o.a. aan die gemeente van Thiatire:  "Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. ....." (Openb. 2:25-29). Die belofte van heiliges wat mag oor die nasies sal kry en die koninkryk saam met Christus in besit neem tot in ewigheid wanneer Hy terugkom (kyk ook tema "konings en priesters vir Hom gemaak"), word ook bevestig in Dan. 7.  Gaan kyk ook waar die wederkoms beskrywe word in Openb. 19 - dit is duidelik dat die nasies vir wie Hy met 'n ysterstaf sal regeer natuurlik "op die aarde" is!  (want Hy kom van die hemel na die aarde toe, 1 Thess. 1:10 / Hand. 1:11 / Openb. 1:7..., en bring terloops die saam wat in Hom gesterf het).  En let wel hoe Paulus beskryf dat die wat "die wegraping" deelagtig gaan wees nie die ontslapenes voor sal wees soos sommige preek nie, want wanneer die Here Jesus terugkom sal Hy die wat in Hom ontslaap het SAAM MET HOM BRING (1 Thess. 4:14-16) en hulle sal eerste opstaan (opstanding), en daarna sal die Christene wat nog nie ontslaap het nie in 'n oogwink verander word ("wegraping", wat na regte deel is vd opstanding) - en hulle sal opgeneem word in die wolke en Hom daar ontmoet en vir altyd by Hom wees (en Hy sal Sy ewige koninkryk oprig en die heiliges sal saam met Hom regeer) - sommige neem hierdie woorde "vir altyd by die Here wees" (1 Thess. 4:17) as 'n bewys dat ons vir altyd in die hemel sal wees siende ons Hom in die wolke ontmoet, maar as Hy op die aarde gaan wees, en ons vir altyd "by Hom", moet dit dan nie beteken dat ons vir altyd "op die aarde" by Hom gaan wees nie? Die feit dat ons in die wolke ontmoet beteken tog nou nie dat ons vir ewig in die hemel gaan bly nie... En as die nuwe stad Jerusalem aan die einde vd volgende eeu gaan "neerdaal van God uit die hemel" (Openb. 21:2) tot op die aarde en ons bestem is om in hierdie stad te bly, dan gaan ons dus  tog nie "in die hemel" vir ewig bly nie, maar op die aarde in die nuwe stad Jerusalem!

Jesus Christus se koninkryk is 'n ewige koninkryk: https://warechristene.blogspot.com/2015/03/die-koninklike-geslag-uit-die-stam-van.html
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie: