Donderdag 23 April 2020

Hart verhard

In hierdie pos kyk na die term "hart verhard" - bv., wat beteken dit wanneer iemand se hart verhard is?

Hierdie kan saam met die tema van "ongeloof" behandel word: https://warechristene.blogspot.com/2017/09/ongeloof.html.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wetend ongelowig bly:
Die begrip "hart verhard" word gewoonlik in konteks met "ongeloof" gebruik;  meer presies, mense wat kies om ongelowig te wees/bly.  -Bv. die Farao aan wie oor en oor bewys is dat die Here vd Hebreeuse volk God is, maar hy het aanhou kies om ongelowig te wees  - die gevolg hiervan was 'n "verharde hart".  Meer presies is dit die Here wat Farao se hart verhard het omdat die Farao gekies het om ongelowig te bly!
- Eks. 4:21  En die HERE sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie. 
- Eks. 7:3  En Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig. 
- Eks. 9:12  Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy nie na hulle geluister het nie, soos die HERE aan Moses gesê het. 
- Eks. 10:1  Verder het die HERE vir Moses gesê: Gaan na Farao toe, want Ék het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig, 
- Eks. 10:20  Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie laat trek het nie. 
- Eks. 10:27  Maar die HERE het Farao se hart verhard, en hy wou hulle nie laat trek nie. 
- Eks. 11:10  En Moses en Aäron het al hierdie wonders voor Farao gedoen. Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie uit sy land laat trek het nie. 
- Eks. 14:4  En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg; en Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is. En hulle het so gedoen. 

Die hart "VERHARD" beteken hier dat dit sterker word (m.a.w. in dit wat hy glo) en nog meer weerstand bied (teen bv. dit waarin hy nie wil glo nie) en sy posisie behou (m.a.w. in dit waarin hy glo) - ( is die Hebr. woord "khaw-zak'"). "Hart" verwys hier na intellek en wil (hoe hy "sien" - verstaan en dus glo) - (is die Hebr. woord "labe"). M.a.w. "hart verhard" gaan oor die stand van iemand se hart t.o.v. dit waarin hy glo of wil glo. Dit kan vgl. word met die vb. van "die ryk man en Lasarus" wat doodgegaan het en die ryk man wat iemand wou terugstuur om sy broeders te waarsku..., maar kyk die antwoord wat Abraham hom gee: (Luk 16:29-31 - "Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan"). Hierdie vb. wys hoe verhard die ryk man se familie se harte was. Dit was dieselfde met die Farao - ten spyte van alles wat hy gesien het, het hy gekies om ongelowig te bly.  Wat doen die Here met so iemand?  Hy verhard hulle harte sodat hulle nog meer glo in die leuen! Vgl. dit met Rom. 1:24 - ("Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer") - lees gerus die hele gedeelte om te sien hoe hierdie mense voorgestel word as die wat goed weet wat is die waarheid, maar kies om nie daarin te glo nie! -- sulke mense se harte word versterk in die leuen wat hulle wil glo. En hierdie is nie net die geval by ongelowiges nie maar somtyds val gelowiges in hierdie strik (kyk bv. Rom. 1) - hulle weet goed wat is die waarheid maar kies om die leuen te glo, of kies om in hulle eie planne te wandel. Wat met sulke mense later gebeur is dat hulle begin glo hulle is reg al is hulle verkeerd! (Joh_12:40 - "Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Kan nie mooi "sien" nie want die hart is verhard:

Wanneer iemand ongelowig is dan verhoed dit dat hy "sien". Hierdie is baiemaal die geval by gelowige mense wat nie reg sien en verstaan nie omdat hulle "ongelowig" is. Bv. Mark. 6 met die breking vd 5 brode en twee vissies wat 'n hele skare mense gevoed het en daar het nog 12 mandjies oorgebly;  daarna, die dissipels op see, was hulle verbaas en verwonderd toe Jesus na hulle oor die see aangestap kom - alhoewel hulle kon sien dis Hy het hulle geglo dit is 'n spook - hulle was ongelowig ten spyte vd brode en vissies wonderwerk, soos mense wie se harte verhard is en daarom kon hulle nie "sien" nie (Mark. 6:52 - "Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie, omdat hulle hart verhard was"). In hierdie oomblikke was hulle soos onverstandige mense (omdat hulle ongelowig was). Hulle sou miskien liewer 'n logiese verduideliking glo van wat gebeur het dat so min brode en vissies 'n skare kon voed as wat hulle glo dat Jesus 'n wonderwerk gedoen het, of bv. liewer glo dit is 'n spook as wat hulle glo dit is Jesus wat oor die water loop. Baiemaal is hierdie ook die manier hoe sommige geleerdes kyk na wonderwerke in die Bybel (bv. die in Egipteland voor die volk uitgetrek het en daar is selfs sulke video's beskikbaar), en dan probeer hulle die wonderwerk eerder logies verduidelik asof dit deur die natuur geskep is i.p.v. dat die Here dit gedoen het.  Hierdie manier van dink en "sien" is 'n teken van ONGELOOF - omdat hulle ongelowig is "sien" hulle nie, maar soek liewer 'n logiese oplossing wat meer geloofbaar is. Ongelowige mense word versterk in hulle kwaad wanneer hulle hul geloof plaas in 'n liewer logiese oplossing of ander geloofspraktyke ens. Kyk bv. hoe die Farao se hart verhard is wanneer die Egiptiese towenaars dieselfde towerkunste doen... (Eks. 7:22  Maar die Egiptiese towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste, sodat Farao se hart verhard is; en hy het na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het).  Ons moet verstaan dat dit hier gaan oor WIE JOU BRON IS.  Wie is dit in wie jy glo?, of wie is dit vir wie jy raadpleeg? Sommige gelowiges wil graag voorgee dat hulle die Here kies en glo, maar dan kies hulle 'n ander "bron" - dit is 'n bewys van ONGELOOF.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
'n Verharde hart beinvloed iemand se optrede:
'n Verharde hart beïnvloed iemand se optrede en het baiemaal tot gevolg dat mense onverstandig en onbarmhatig teenoor ander optree. Dit is bv. a.g.v. ongeloof  in die waarheid dat gelowiges onwetend sondig... 'n Goeie vb. is die van Paulus (toe nog Saulus) wat onwetend gesondig het deur Christene te laster en te vervolg en geweld te pleeg en gedink het deur dit te doen is hy besig om vir die Vader te werk... - sy manier van "sien" en dink was verkeerd omdat hy toe nog ongelowig was. Sy hart was verhard teen Jesus Christus en wat dan gebeur is is dat iemand nie mooi "sien" nie en soos 'n onverstandige mens optree. Ongelowige gelowiges is gewoonlik die mense wat ander gelowiges seermaak en o.a. die een wat die waarheid verkondig, laster (omdat hulle ongelowig is en hulle harte verhard is). Hierdie het ook somtyds te doen met wanneer iemand kies "wie " hy wil glo: (Joh 12:42 - "Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie").

Nog 'n vb. is die vd Farao wat die oomblik as dinge herstel is dan weer blaas teen die opregtes, want 'n verharde hart veroorsaak dat iemand "nog verder sondig".
- Eks. 8:15  En toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard en na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het.
- Eks. 9:34  Toe Farao sien dat die reën en die hael en die donder ophou, het hy nog verder gesondig en sy hart verhard, hy en sy dienaars.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wat te doen met 'n verharde hart:

Geloof het baie te doen met GEHOORSAAMHEID (ongeloof met ongehoorsaamheid) - en gaan oor wie dit is na wie jy luister en aan wie jy jouself ondergeskik stel. 'n Kind wie se hart verhard is teenoor sy ouers sal ongehoorsaam wees aan sy ouers en i.p.v. om na sy ouers te luister, sterker staan op dit wat hy glo of hoe hy "sien" of wil sien. Selfs as die waarheid vir hulle vertel word dan sal hulle dit in twyfel trek. Ongehoorsaamheid aan ouers is 'n teken van ongeloof (in sy ouers - hy vertrou nie sy ouers nie). 'n Kind wat sy ouers ongehoorsaam is wys dat hy hulle nie VREES nie, want as hy hulle gevrees het sou hy na hulle luister - so 'n kind verhard sy hart teen sy ouers. Op dieselfde wyse is die wie harte verhard is, 'n teken van hulle ongeloof en ONGEHOORSAAMHEID. 'n Ouer van 'n ongehoorsame kind voel baiemaal sy hande is afgekap want hy kan nie vir die kind iets leer nie en hy kan hom nie lei soos hy moet nie (want die kind luister nie na hom nie en vrees hom nie) - hierdie gebeur baiemaal wanneer die kind kies om eerder ander mense te glo as om sy ouers te glo, of sy eie kop wil volg. So 'n kind se lewe word gekortwiek - hy kan nie reg "groei" nie en sal kragteloos opeindig.  Dis soos 'n plant wat nie voedsel en water kry nie, of nie die regte voedsel en water kry nie. Ongeloof veroorsaak dat mense ontneem word van "seening". Dit is bv. weens ongeloof dat sommige vd volk van God nie ingegaan het in die beloofde land nie (al was dit vir hulle belowe!). Ongeloof beroof mense van seening. Wanneer mense ongelowig is dan ontbreek wonderwerke in hulle lewe (Matt. 13:58; Mark. 6:5,6). 'n Ongelowige geslag kinders sal uiteindelik 'n onverstandige geslag wees (wat nie mooi "sien" nie en verkeerd verstaan), met geen krag nie (wonderwerke sal in hulle lewe ontbreek). Dit is iets wat ons huidiglik in ons samelewing sien gebeur... Daarom is "ongehoorsaamheid aan ouers" 'n erstige sonde, en die een wat hierdie sonde pleeg word gesien as 'n "vervloekte" (Deut. 27:16). Dit is so belangrik vir die Here dat kinders hulle ouers gehoorsaam, dat Hy selfs seën belowe het van "lank lewe in die beloofde land" sou hulle dit nakom (Eks. 20:12).

Wat te doen met ongehoorsame kinders?
As ouers se hand nie swaar is op sulke kinders nie dan kan dit tot gevolg hê dat hulle op die ou end nie veel kan beteken vir daardie kinders nie, en hulle nie voldoende kan help om in verstandige grootmense op te groei nie.
- Somtyds moet 'n kind bloot tot insig gebring word (kyk tema onwetende sonde)(altyd goed om eers net met hulle te gesels!),
- en ander tye moet daar strenger opgetree word of die kind moet getugtig word (kyk wetende sonde); hierdie is die maniere om hulle te laat omdraai van hulle ongeloof (ongehoorsaamheid). Bv., kinders moet geleer word dat hulle hul moet ondergeskik stel aan die gesag van hulle ouers en moet weet wie dit is vir wie hulle moet gehoorsaam. 'n Kind moet nie toegelaat word om op 'n verwoestende pad te gaan nie...
Op dieselfde wyse is die Here se hand swaar op Sy skepsele wanneer hulle ongelowig is en Hom ongehoorsaam is, en tereg! 'n Ouer wat toelaat dat sy kind op 'n verwoestende pad gaan (en so kragteloos kan opeindig), is soos iemand wat opgegee het op daardie kind.  Maar wanneer kinders na alles wat die ouers probeer het, nog nie wil luister nie, dan kan so 'n ouer nie veel meer doen nie - dit het tot gevolg dat hy daardie kind oorgee aan sy verkeerde manier van dink (hy los hom)(en so 'n kind, as hy nie bekeer nie, sondig dan net verder...)(vgl. dit gerus met Rom. 1). Al manier hoe 'n ongehoorsame dus gelowig kan word, is deur gehoorsaam te word!

'n Vb. waarin ons ook kan inkyk is dit wat gebeur met die Filistyne to hulle die ark vd verbond steel... (1 Sam. 5) - die Here se hand was swaar op hulle!, maar daar was vir hulle 'n uitweg gegee en hulle sou die "krag" daarvan ervaar as hulle maar net gehoorsaam is aan die opdrag (1Sam. 6:6  - "Waarom tog sal julle jul hart verhard soos die Egiptenaars en Farao hulle hart verhard het? Het hulle hul nie losgelaat om weg te trek toe Hy hulle sy mag laat voel het nie?").  DIE ANTWOORD VIR ONGELOOF IS OM i.p.v. ongehoorsaam te wees, GEHOORSAAM TE WORD (jouself ondergeskik stel aan die mag wat bo-oor jou gestel is).

Wanneer iemand weier om hom te "bekeer" tot die gesag wat oor hom gestel is, is dit 'n bewys van sy ongeloof en verharde hart (2 Kron. 36:13 - "En hy het ook gerebelleer teen koning Nebukadnésar wat hom by God laat sweer het; maar hy was hardnekkig en het sy hart verhard, sodat hy hom nie tot die HERE, die God van Israel, bekeer het nie").  Baiemaal bevind selfs Christene hulle in hierdie posisie waar hulle sg. bely dat hulle glo maar doen "wat hulle wil" en nie wat die Here wil nie. Ons kan nie geloof en gehoorsaamheid skei van mekaar nie! (Luk 6:46 - "En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?")(Matt. 7:21,22).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Spr.28:14 - "Gelukkig is die mens wat gedurigdeur vrees; maar hy wat sy hart verhard, sal in die onheil val".



Geen opmerkings nie: