Woensdag 05 Januarie 2022

Ongebondenheid

Die begrip "ongebondenheid" is die Griekse woord "as-elg'-i-a", wat beteken (vuil, begeertes veral igv seksuele, kan nie homself beheer nie...). Daar is sowat 7 skrifte in die Bybel waar die woord ongebondenheid voorkom, en word in meeste gevalle gebruik in konteks met owerspel, hoerery, allerhande onreinheid ens. 

- Rom. 13:13  Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.
- 2Kor. 12:21  dat as ek gekom het, my God my miskien weer by julle sal verneder en ek sal treur oor baie van die wat vroeër gesondig het en hulle nie bekeer het van die onreinheid en hoerery en ongebondenheid wat hulle bedryf het nie.
- Gal. 5:19  En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;
- Ef. 4:19  wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.
- 1Pet. 4:3  Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye.
- 2Pet. 2:18  Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid die wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel.
- Jud. 1:4  "Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën"

Hierdie is 'n ernstige onderwerp in die Bybel - in Kol. 3:5 word enige iets soos hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid vgl. met AFGODEDIENS.  Wanneer 'n kind vd koninkryk afgode aanbid is hy besig om geestelik te "hoereer" - dit dan waarom sondes soos hoerery vgl. word met afgodsdiens (Jer. 3:9; Eks. 34:15) (bv., hulle dien hulleself, hulle eie buik, ens., in plaas van om die Here te dien). Hierdie is dinge waardeur die Christen besoedel/onrein kan word! Jesus het geleer dat selfs as iemand hierdie dinge bedink dit hom onrein maak... - dit begin dus by die gedagtes.  Dit dan die belangrikheid van om "gedagtes gevange te neem tot gehoorsaamheid aan Christus"! (2 Kor. 10:5). 

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Om die woord beter te verstaan kan ons kyk na die konteks waarin hierdie woord gebruik word in sekere skrifte:

- Jud. 1:4  "Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën". Die woord "verander" hier, is die Griekse woord "met-at-ith'-ay-mee" (soos om kant te kies, draai na die ander kant/verander).  Lees ons die hele Jud. 1, is dit duidelik dat ongebondenheid hier verwys na die wat onreinheid bedryf en hulleself nie kan beheer nie, en word in konteks gebruik van die wat "na die ander kant kies of na die ander kant toe draai".  Christene moet nie soos vroeer, "volgens die wil vd heidene lewe" of "volgens die begeerlikhede van  mense" nie, maar moet lewe volgens die wil van God... (1 Pet. 4:2,3). 

Ef. 4:17-19 - "Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie—  mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe"). Hierdie opdrag is belangrik in die kerk, want wanneer daar nie meer van Christene verwag word om te leef volgens die wil vd Here nie, dan is dit selfs moeiliker om te onderskei tussen die valses en opregtes. Sommige kinders vd koninkryk draai so van die genade af weg en begin stap in ongebondheidheid (maw, leef soos mense wat draai na die ander kant toe, en nie lewe volgens die wil van God nie maar volgens hulle eie begeertes), Volgens Rom. 2:24 is dit hierdie mense in die kerk (maw, verwysend na die wat so onrein lewe) wat veroorsaak dat die Naam van God onder die heidene gelaster word (wanneer hulle lewens nie verskillend lyk van die heidene s'n nie)... 
----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie: