Saterdag 13 Augustus 2022

Oog vir oog, tand vir Tand

Rol af vir kort studies oor die volgende onderwerpe (in hierdie konteks bespreek):

- Ons mag nie oordeel nie;

- Dit gaan oor die hart;

- "Oog vir oog, tand vir tand" in die O.T. / N.T.

- Die effek van oog vir oog, tand vir tand in spesifieke gevalle.

- Skrifte (en kontekste).

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

OPSOMMING:

Die spreekwoord "oog vir oog, tand vir tand" is 'n ou spreekwoord selfs gebruik onder die wet van Moses... Hierdie konteks van oordeel uitvoer teenoor slegte mense wat ander leed aandoen deur aan hulle te doen wat hulle aan jou doen, was gebruik in spesifieke gevalle. Die konteks van Matt. 5:38-42 (waar Jesus praat oor "oog vir oog, tand vir tand") is ook in konteks met "slegte mense wat ander leed aandoen", maar dit wil voorkom of Hy hier regstel hoe die spreekwoord verkeerdelik gebruik was (bv dat dit in verkeerde situasies van "leed aandoen" somtyds toegepas was...). "Oog vir oog, tand vir tand" was bv. in spesifieke gevalle in die O.T. geldig, en in hierdie gevalle het die Here hulle opdrag gegee "om te oordeel", maar andersins in gevalle waar mense jou leed aandoen, mag jy nie ditto aan hulle doen wat hulle aan jou doen nie! Jesus het geleer "moenie oordeel nie" (bv. in hierdie konteks is dit geldig), maar in 'n ander konteks het Hy weer geleer dat ons 'n regverdige oordeel moet oordeel (Joh. 7:24)(1 Kor. 5:12 ens.).  "Om te oordeel" is nie verbode nie!, maar dit gaan oor die konteks bv., kwaadspreek is 'n vorm van "verkeerde oordeel" (Matt. 12:37; Jak. 4:11), en om iemand te oordeel op iets terwyl jy dit self ook doen, is "verkeerd oordeel"... (bv eiesinniges, mense wie se hart verhard is, ens.)(Rom. 2:1; Matt. 7:1-6). Op dieselfde wyse is "oog vir oog, tand vir tand" 'n vorm van verkeerde oordeel, want ons mag nie aan ander doen wat hulle (leed) aan ons doen nie. 

Of hierdie spesifieke gevalle waar "oordeel" toegelaat was in die O.T. in die vorm van "doen aan hulle wat hulle aan jou gedoen het" (m.a.w. in die gevalle van moordenaars en valse getuies) steeds dieselfde hanteer word in die N.T., is natuurlik 'n debateerbare punt (bv., sommige lande het nog doodstraf, maar dit beteken natuurlik nie dat iemand self mag wraak neem nie). Dit is so dat Christene nie onder die wet van Moses is nie en dat sekere wette dus anders vervul word in die N.T. as in die Oue (en daarom kan doodstraf debateer word), maar dit wil ook voorkom of dit wat Jesus hier aanraak in Matt. 5 eerder gaan oor die feit dat mense hierdie spreekwoord verkeerd gebruik het, nie noodwendig dat Hy bedoel het die wet word nou anders vervul nie... 

Die twee gevalle wat veral genoem was in die O.T. (van oog vir oog, tand vir tand)(rol af vir 'n opsomming hieroor), is: (1) moordenaars en (2) valse getuies (daar was ook sekere ander gevalle van "doen aan iemand wat hy aan jou doen", bv. as jy 'n liggaamsgebrek aan iemand veroorsaak het, dan moes so ook aan jou gedoen word - Eks. 21:26,27).  Die kind vd koninkryk is nie veronderstel om ditto leed te doen aan ander wat hulle aan jou doen nie! (in hierdie opsig mag jy nie oordeel nie) - die rede waarom "oordeel" toegelaat was in die O.T. in hierdie spesifieke gevalle, was ten eerste natuurlik omdat die Here daardie oordeel in hulle hande gegee het, maar ook om spesifieke redes;  bv., in die geval van valse getuenis was die rede hiervoor sodat hulle die kwaad uit hulle midde kon uitroei, sodat die ander dit hoor en vrees en nie ook dieselfde verkeerd doen nie... - Deut. 19:16-21 (DIE REDE WAS NIE OM WRAAK TE NEEM NIE). Ons moet ook onthou dat oordeel nie altyd dieselfde uitgevoer word in verskillende bedelings nie (selfs vergifnis word verskillend verkry in verskillende bedelings), bv. in die nuwe bedeling kan iemand met bloedskuld nog kans gegee word om langer in die lewe te wees eerder as om doodgemaak te word, dit is nou as iemand in Jesus Christus glo... (kyk temas van "lewe vir lewe" en "betaal deur Sy bloed"). 

Om in hierdie spesifieke gevalle aan ander te doen wat hulle aan jou gedoen het, het gegaan oor hoe die probleem/regsaak opgelos word (dit was nie bedoel vir wraak nie), en "oog vir oog, tand vir tand" het beslis 'n positiewe effek gehad in hierdie spesifieke gevalle in die O.T. (en hulle was immers toegelaat om oordeel uit te voer in hierdie spesifieke gevalle), maar mag nie toegepas gewees het op alle gevalle waar leed aangedoen was nie (en sou terloops dan ook nie dieselfde positiewe resultate oplewer nie; terloops 'n tema wat Jesus o.a. ook aangeraak het...-Matt. 5:26). Kinders vd koninkryk moes m.a.w. in die O.T. ter wille vd Here hierdie oordeel uitvoer t.o.v. hierdie spesifieke situasies (bv. om iemand wat bloed op sy hande het, dood te maak - lewe vir lewe - soos 'n land wat doodstraf het;  of om waar iemand iemand anders leed aandoen deur valse getuienis, dieselfde aan daardie persoon gedoen word). Of die daad "oog vir oog, tand vir tand" in een of beide van hierdie spesifieke situasies steeds van toepassing is of kan wees in die N.T. (en in watter gevalle) kan 'n punt van redenasie wees, maar wat gebeur in Matt. 5 is dat Jesus waarsku teen die gebruik van hierdie spreekwoord waar iemand dit gebruik ten doel om te oordeel (bv waar iemand dit gebruik om wraak te neem en dit sommer in enige situasie van "leed aandoen" toepas). Die oordeel behoort nie aan ons nie, maar is in die Here se hande - Hy sal toesien dat waar iemand jou onreg aangedoen het daardie persoon dit terug sal ontvang (Kol. 3:25) - jy mag nie self toesien dat dit gebeur nie. Die Christen moet 'n vergewens-gesinde hart hê en hoop/bid dat so 'n persoon liewer tot belydenis kom sodat hy vergifnis kry, eerder as wat hy dieselfde aan hom wil doen. Die Christen moet ook 'n barmhartige hart hê wat voorspoed vir iemand toewens eerder as hoop dat dit ook met daardie persoon sleggaan. As jy gehoorsaam is aan Jesus Christus en dus in hierdie opsig "nie oordeel" (m.a.w. nie doen aan ander wat hulle aan jou doen) nie, beteken dit nie dat die persoon onvoorwaardelik vergewe word nie, maar waaroor dit gaan is dat die oordeel in die Here se hande is, nie in joune nie... (Jak. 4:12);  daar word vd Christen verwag om te vergewe sou die persoon sy sonde teenoor hom bely (kyk tema van "berou en bely"); daar word verwag dat ons barmhartig is en liewer seën, as haat. 

M.a.w., moenie oordeel deur aan ander te doen wat hulle aan jou doen nie, maar l.w. dat in sekere situasies daar wel van Christene verwag word in die N.T. om 'n tipe "oordeel" uit te voer(1 Kor. 5:12)-  wat natuurlik niks met wraak te doen het nie!...; bv. daar moet geoordeel word teen sondes wat in die kerk toegelaat word, want sondes kan die hele deeg suurmaak;  en daar moet geoordeel word in die geval van valse leraars en profete...ens. - in die Skrif word verduidelik hoe opgetree moet word in elk van hierdie soort situasies - dit is 'n studie op sy eie, en vir meer inligting hieroor kan o.a. na hierdie pos gekyk word:http://warechristene.blogspot.com/2013/08/moenie-oordeelveroordeel-nie-2.html). Christene maak baiemaal die fout deur Jesus se woorde van "moenie oordeel nie" uit konteks te neem, en dan dit op verkeerde situasies toe te pas waar regverdige oordeel eintlik nodig is. 

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Dit gaan oor die hart! 

wat is in jou hart t.o.v. iemand anders? - m.a.w., al het die persoon jou leed aangedoen, moet jy nie ditto aan hom doen of wil he dat ditto aan hom gedoen word nie, want dan "oordeel jy" (wil wraak neem).  Hoekom nie "oog vir oog, tand vir tand" nie? - "want jy mag nie oordeel nie" (jy mag nie wraak neem nie) - so iemand sal m.a.w. steeds geoordeel word, ja (as hy nie regmaak nie), maar daardie oordeel is in die Here se hande, nie in jou hande nie...: 

JESUS HET 'N PAAR VOORBEELDE GEGEE OM HIERDIE VIR ONS BETER TE VERDUIDELIK:

-As iemand jou haat (en bv sleg doen aan jou omdat hy jou haat), moet jy hom nie terughaat nie MAAR EERDER GOED DOEN AAN HOM (al doen hy sleg aan jou). 

-As iemand jou vervloek (hy wil dus hê dit moet met jou sleggaan), moet jy nie dieselfde doen nie (jy moet nie ook wil he dit moet met hom sleggaan nie) - EERDER MOET JY HOM SEëN

-As iemand jou beledig of vervolg, moet jy dit nie terugdoen nie maar EERDER VIR HOM/HAAR BID...

-Is iemand jou vyand, moet jy nie 'n vyand terugwees nie maar EERDER DIE PERSOON LIEFHê... (m.a.w., word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, ens.)(Matt. 5:43-45). 

Hierdie is nie altyd maklik om te doen nie, maar die kind vd Here moet sy/haar hart "besny" om nie slegte gedagtes t.o.v. iemand anders te koester (wat tot gevolg kan hê dat jy leed aan ander doen wat hulle aan jou doen) nie. Ons moenie oordeel (wraak neem, terugdoen aan hulle, of he dit moet sleggaan met die persoon) nie... (Matt. 7:1-6). Jy dink "oog vir oog, tand vir tand" kom die persoon toe?  Wel, dit mag hom miskien toekom (as hy bv. nie bely en regmaak) nie, maar hierdie oordeel is nie in jou hande nie - dit is in die Here se hande (en terloops, as hy sy sonde teenoor jou bely, moet jy hom vergewe...Matt. 18_21-35). Die waarheid is dat ons almal oordeel verdien!, so wie is jy om 'n ander "te oordeel"/te straf/wraak neem (Matt. 7:3) - ons almal het 'n kans nodig om reg te maak... Jesus het o.a. geleer dat ons liewer ons teëparty gou goedgesind moet word... (Matt. 5:25). Dit gaan hier oor gesindheid! Wat is ons gesindheid teenoor ons vyande? Wat is ons gesindheid teenoor die wat ons haat, die wat ons beledig en vervolg, die wat ons vervloek? Ons gesindheid moet nie dieselfde wees as hulle, en ons moenie doen wat hulle (verkeerd aan ons) doen nie (as hulle nie bely nie, sal die Here met hulle afreken).

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

ONS MAG NIE OORDEEL NIE:

Dit is duidelik dat sommige die spreekwoord oog vir oog, tand vir tand, in die O.T. sommer op ander situasies ook toegepas het as net die spesifieke situasies genoem onder die wet van Moses (en dit was nie wat die Here bedoel het nie). Uit Jesus se woorde kan ons aflei 'n paar situasies waar dit lyk hierdie spreekwoord verkeerd gebruik was bv. in situasies waar 'n slegte mens iets van jou afdwing of van jou steel, ens.  Jesus maak dit duidelik dat ons nie aan hulle moet doen wat hulle aan ons doen nie (bv. om hom ook jou onderkleed te gee as hy jou bokleed vat, om twee myl saam met hom te stap as hy een myl van jou afdwing, om ook jou ander wang te draai as hy jou op die wang slaan...). Jesus is nie hier besig om teen die wet te spreek nie, maar besig om reg te stel hoe hulle die wet verkeerd gebruik het. "Oog vir oog, tand vir tand" was 'n manier om sekere regsake op te los in die O.T. - ons kan dit vgl. met ons eie regstelsel; burgers mag bv. nie reg in eie hande neem nie! As iemand van jou steel, mag jy nie terugsteel nie.  As iemand jou seermaak, mag jy hom nie terug seermaak nie... Op ditto wyse word daar vd kind vd koninkryk verwag om nie reg in eie hande te neem nie, want elkeen sal geoordeel word - na regte:

(1)  verdien ons ook self om geoordeel te word (Matt. 7:1-6); 

(2) die Here laat Sy son opgaan oor slegtes en goeies (Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges)(Mat 5:45); en 

(3) ons kan nie loon verwag as ons slegs die liefhet wat vir ons liefhet nie! (Mat 5:46). 

Daar word van Christene verwag om soos die Here hieroor te sien/dink.  Neem gedagtes gevange tot gehoorsaamheid aan Christus - moenie in jou hart ander oordeel (in die opsig van "oog vir oog, tand vir tand") nie.

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------Kom ons kyk na die spesifieke gevalle in die O.T. waar hierdie spreekwoord "oog vir oog, tand tand" gebruik (of geldig) was - waar gedoen is aan mense wat hulle aan ander doen...: 

- in die geval van lewe vir 'n lewe (bv. waar iemand iemand anders doodslaan, of iemand bv. veroorsaak dat 'n vrou haar baba verloor - Eks. 21:22-25; Lev. 24:17-23) (lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, brandplek vir brandplek); of 

- in die geval van waar iemand kwaadwillig valse getuienis teen iemand anders gee (Deut. 19:16-21). Sou dit gevind word dat iemand valslik teen sy broer getuig het, dan moes daar aan so iemand doen soos hy gedink het om met sy broer te doen (oog vir oog, tand vir tand). 

Die betrokke skrifte:

(1) In die geval van waar iemand veroorsaak dat 'n vrou haar baba verloor: (Eks. 21:22-25 - "En as manne met mekaar veg en ‘n swanger vrou so stamp dat haar vrug afgaan, maar daar geen ander letsel is nie, moet hy sekerlik boete betaal soos die man van die vrou hom dit oplê, en hy moet dit deur skeidsregters gee. Maar is daar ‘n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek").

-  (2) In die geval van 'n kwaadwillige/valse getuienis teen iemand: (Deut. 19:16-21 - " As ‘n kwaadwillige getuie teen iemand optree om van ‘n oortreding teen hom te getuig, dan moet die twee manne wat die regsaak het, gaan staan voor die aangesig van die HERE, voor die priesters en die regters wat daar in dié dae sal wees. En die regters moet terdeë ondersoek doen, en is die getuie ‘n valse getuie, het hy vals teen sy broer getuig, dan moet julle met hom doen soos hy gedink het om met sy broer te doen; so moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei. En die ander moet dit hoor en vrees en nie meer verder by jou so iets verkeerds doen nie. En jou oog mag nie verskoon nie: lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet"). 

(3) In die geval van waar iemand moordpleeg: (Lev 24:17-23 - "En as iemand enige mens doodslaan, moet hy sekerlik gedood word. Maar hy wat ‘n stuk vee doodslaan, moet daar vergoeding voor gee; lewe vir lewe. En as iemand aan sy naaste ‘n liggaamsgebrek toebring soos hy gedoen het, net so moet ook aan hom gedoen word: breuk vir breuk, oog vir oog, tand vir tand dieselfde liggaamsgebrek wat hy aan ‘n mens toebring, moet ook aan hom toegebring word. Hy dan wat ‘n stuk vee doodslaan, moet daar vergoeding voor gee; maar hy wat ‘n mens doodslaan, moet gedood word. Net een wet moet daar vir julle wees die vreemdeling moet soos die kind van die land wees; want Ek is die HERE julle God. Moses het toe met die kinders van Israel gespreek, en hulle het die vloeker buitekant die laer uitgebring en hom gestenig. En die kinders van Israel het gedoen soos die HERE Moses beveel het").

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

"Oog vir oog, tand vir tand" in die N.T.:

In die N.T., onder die nuwe bedeling, word hierdie wet van "oog vir oog, tand vir tand" in hierdie spesifieke situasies nie noodwendig op dieselfde manier vervul nie. En sou iets daarvan nog geldig wees (bv., sou 'n land nog doodstraf toepas), is dit belangrik dat ons nie die dieselfde fout maak deur die spreekwoord verkeerd te gebruik sommer op enige situasie van leed aandoen soos sommige in die O.T. gedoen het nie. DIE SPREEKWOORD "OOG VIR OOG, TAND VIR TAND" is liewer nie iets waarmee die Christen hom moet bemoei nie! Jesus het geleer dat die manier hoe ons slegte mense moet hanteer, is om hulle nie te weerstaan (teen hulle opstaan/soos 'n opponent-Gr. woord "anth-is'-tay-mee") nie (dit kan vgl. word met die tema van wraak neem - Christene mag nie wraak neem nie). Die konteks gaan dus hier oor moenie "teen hulle opstaan" (hulle weerstaan) nie - moenie oordeel neem nie, moenie aan hulle doen wat hulle aan jou doen nie... (Matt. 5:38-41), want die waarheid is dat jy o.a. die slegste daarvan kan afkom sou jy dit doen.

Kom ons kyk na die Skrif waar Jesus hieroor praat: 

Mat 5:38  Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. 

Mat 5:39  Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe. 

Mat 5:40  En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry. 

Mat 5:41  En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam. 

Mat 5:42  Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie

Dit is so dat die rede vir "oog vir oog, tand vir tand" bv. in die geval van valse getuie 'n positiewe effek gehad het sodat mense dit nie meer doen nie (Deut. 19:16-21), maar die optrede "oog vir oog, tand vir tand" sal nie op alle situasies 'n positiewe effek hê nie!  Jesus verduidelik hierdie o.a. in Matt. 5:40 (l.w. die konteks van "na die gereg gaan") en Matt. 5:25,26 ("Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is, sodat die teëparty jou nie miskien oorgee aan die regter en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en jy in die gevangenis gewerp word nie. Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy die laaste oortjie betaal het nie"). Volgens Sy woorde is dit duidelik dat "oog vir oog, tand vir tand" nie altyd 'n positiewe effek het nie.  Dit gaan oor ons gesindheid (ons moet die gesinheid hê van: "wees gou goedgesind teenoor jou teeparty"), en dit is tot ons eie beskerming as ons liewer onreg lei of ons laat berowe! Hierdie is terloops ook in die eerste gemeentes geleer: (1 Kor. 6:7 - "Dan is dit al werklik ‘n gebrek onder julle, dat julle regsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie?"). Christene moet regsake onder mekaar hê en hierdie dinge moet onder mekaar uitgesorteer word, ja, en daar moet regverdige oordeel plaasvind, ja, maar dit beteken nie jy gaan hierdie goeie resultate kry deur "aan hulle te doen wat hulle aan jou doen" nie - dit is nie die manier hoe jy hulle kry "om op te hou verkeerd doen" nie. In geval van valse getuies kan die kerk dit miskien besluit en uitvoer? - wel, dit is 'n punt van redenasie, en sou dit vervul word soos in die O.T. in hierdie spesifieke situasie, sal dit bes moontlik goeie resultate oplewer, maar nie in ander situasies noodwendig waar leed aan iemand gedoen word nie.  Wanneer ons gevra word om liewer te ly en berowe te word as om te doen wat hulle aan ons doen, beteken dit nie dat daar 'n kaartjie gegee word vir die slegte om sleg te wees (asof hy dit mag doen) nie, maar eerder gaan dit oor "jy mag nie oordeel nie" (die oordeel is in die Here se hande). Ons moet liewer vir so iemand bid en hoop dat die persoon tot belydenis kom omdat jy hom graag wil vergewe (nie wraak in jou hart koester nie) - dit is eerder hoe die Christen se hart moet wees (rol op na die opsomming "dit gaan oor die hart)

M.a.w., jy moenie 'n opponenet word van 'n slegte mens nie (m.a.w., moet hom nie "weerstaan" nie), want as jy so iemand weerstaan mag jy dalk die slegste daarvan afkom! Jou weerstand gaan nie veroorsaak dat hy verander nie, maar dit kan inteendeel slegter met jou gaan as jy hom op hierdie manier oordeel. Neem 'n vb. waar iemand jou beledig (en vervolg) - as jy teen so iemand opstaan sal die belediging bes moontlik net erger word... Wat jy eerder moet doen is om vir so iemand te bid. Hierdie is die tipe GESINDHEID wat Jesus daarom van Sy kinders verwag (en dit is tot ons beskerming!): 
As iemand jou beledig en vervolg, BID VIR HOM.
As iemand jou haat, DOEN GOED AAN HOM.
As iemand jou vervloek, SEEN HOM.
As iemand jou vyandig is, WEES LIEF VIR HOM...  
Jesus het selfs geleer dat ons moet gee aan hom wat iets van ons vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie (Mat 5:42). Hierdie gaan oor goeie gesindheid en barmhartigheid - en die bedoeling is weer-eens in konteks!; bv., nie enige iets wat iemand van jou vra kan jy gee nie - bv., as 'n man vir 'n getroude man vra om hom sy vrou te gee, dan bedoel Jesus tog nou beslis nie hier dat hy dit moet doen nie (want sou hy dit doen dan gaan hy veroorsaak dat sy egbreuk pleeg omdat sy met iemand anders trou). Ons moet verstaan dat die konteks van hierdie reels alles gaan oor gesindheid, nie bedoel om die wat kwaad doen 'n kaartjie te gee om meer kwaad te doen nie. En dit is ook duidelik dat die effek van "oog vir oog, tand vir tand"  gewoonlik negatiewe resultate oplewer - die Christen moet nie die gesindheid koester van "oog vir oog, tand vir tand" nie

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Die effek van die wet "oog vir oog, tand vir tand" in die O.T.:

Soos bo gesien, was hierdie spreekwoord geldig in spesifieke gevalle in die O.T., en daar was 'n doel daaragter hoekom daar gedoen is aan iemand wat hy aan ander doen. 

Ons het vinnig bo gekyk na die geval van 'n valse getuie, en aan hom moes gedoen word wat hy aan ander gedoen het - en die rede hiervoor was sodat hulle die kwaad uit hulle midde kon uitroei - sodat die ander dit hoor en vrees en nie ook dieselfde verkeerd doen nie-Deut. 19:16-21. Hier sien ons hoe die Here Sy kinders sekere oordeel gegee het... Hulle mag m.a.w in hierdie spesifieke situasies "geoordeel" het (maar die doel daarvan was ook nie om wraak te neem nie). In hierdie geval het oog vir oog, tand vir tand ook goeie resultate opgelewer! Daar was ook 'n ander geval waar dit goeie resultate opgelewer het, en dit is in die geval van "bloed op hande".  In die O.T. was daar geen offer of losgeld wat 'n moordenaar (wat onskuldige bloed vergiet het) se skuld kon betaal nie (Num. 35:31) - die enigste manier hoe so 'n persoon vir sy skuld kon betaal was met sy eie lewe... (LEWE VIR 'N LEWE). In ander woorde, vir 'n kind vd koninkryk om nie onder oordeel te val (en dus geoordeel te word tot tweede dood) nie a.g.v. bloedskuld, moes hy met sy eie lewe betaal.  Ook het bloedskuld 'n invloed op die land gehad en moes uitgevee word (bv. in koning Dawid se tyd was daar 'n vb. van hongersnood a.g.v. bloedskuld in die land...). Ons sien dus dat in die O.T. die een wat doodgeslaan het self ook doodgemaak is...  - en die resultate was positief sowel vir die persoon self, asook vir die land. Selfs waar bloed nie gewreek is nie moes dit later gewreek word (Openb. 16:6) - hierdie is 'n basiese wet wat van die begin af so was, en as jy nie met jou eie lewe betaal (vir bloedskuld) nie, dan moet daar met iemand anders se bloed betaal word (selfs as iemand iemand perongeluk doodgemaak het in die Ou bedeling, kon hy na een vd vrystede vlug en daar bly tot die hoepriester se dood... - deur wie daar dan vir sy skuld betaal is). Enige regverdige wie se bloed vergiet is in die O.T. en daar nooit daarvoor geeis was nie, was geeis vd nageslag wat vir Jesus gekruisig het (en l.w. van die wat self bloedskuld op hulle gehad het - dit verwys nie na onwetendes nie  - Luk. 11:49-51; Matt. 27:25). God gee om vir elke mens, en daarom sal Hy bloed eis waar iemand iemand anders doodmaak - in ander woorde, as daar nie vir die bloed wat vergiet is betaal word nie, dan sal daardie persoon onder oordeel val (al is hy ook 'n kind vd belofte). Wat bloedskuld aanbetref, was dit dus so in die O.T. dat wat jy aan ander doen, moes aan jou gedoen word... (oog vir oog, tand vir tand - en die doel hiervan was nie bedoel om wraak te neem nie, maar was eerder 'n offer sodat iemand gered kon word, en sodat die land skoon kon word, alhoewel die Here ook hierdie oordeel in hulle hande gegee het om dit terwille van Hom uit te voer...). Daar moes altyd betaal word vir bloedskuld;  selfs al was dit perongeluk, was daar 'n straf bv. dat die persoon na 'n vrystad gestuur is (Rig. 1:6,7; 1 Sam. 15:33). Die reel het nie regtig verander wat bloedskuld aanbetref nie (lewe vir 'n lewe), maar waar die offers vd O.T. nie kon betaal vir bloedskuld nie, is Jesus se offer anders (Kol. 2:14; Jes. 53; 1 Pet. 2:24, ens.) - en Hy het immers met Sy lewe betaal in ons plek. Dit is waarom "sonde tot die dood" so gevaarlik is, want so iemand word skuldig aan die bloed van Christus as hulle die sonde weer begin dien... (want Jesus het hulle met Sy bloed gekoop - Sy lewe gegee vir hulle lewens), en watter ander offer is daar dan? (l.w. dat sonde wat nie bely en afgelê word nie, kan verander in "sonde tot die DOOD" - maw "kan sonde word wat tot die dood lei").

 -----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Kom ons kyk na 'n paar N.T. skrifte rakende die onderwerp (en konteks skrifte): (natuurlik is daar baie meer skrifte wat saam met hierdie onderwerp behandel kan word...)

Mat 5:38  Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. 

Mat 5:39  Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe. 

Mat 5:40  En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry. 

Mat 5:41  En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam. 

Mat 5:42  Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie

Vgl. dit met ander kontekste in Matt. 5, bv. "vyande liefhe" en "seen die wat julle vervloek":

Mat 5:43  Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. 

Mat 5:44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; 

Mat 5:45  sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. 

Mat 5:46  Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? 

Mat 5:47  En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? 

Vgl. dit met die konteks van Luk. 6 waarin dieselfde kwessies aangeraak word:

(Luk 6:27)  Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat.

(Luk 6:28)  Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.

(Luk 6:29)  Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.

(Luk 6:30)  Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie.

(Luk 6:31)  En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.

(Luk 6:32)  En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet.

(Luk 6:33)  En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde.

(Luk 6:34)  En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.

(Luk 6:35)  Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.

(Luk 6:36)  Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.

(Luk 6:37)  En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.

(Luk 6:38)  Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

(Luk 6:39)  En Hy het vir hulle ‘n gelykenis uitgespreek: ‘n Blinde kan tog nie ‘n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie?

(Luk 6:40)  ‘n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees.

(Luk 6:41)  En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat in jou eie oog is, merk jy nie op nie?

(Luk 6:42)  Of hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal.

------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie: