Dinsdag 11 Desember 2018

Lewende wese / Lewende siel / Menslike natuur / Goddelike natuur / Liggaam 'n slaaf

IN HIERDIE POS KYK ONS NA DIE VOLGENDE TERME:
- Lewende wese/ns;
- Lewende siel;
- Menslike natuur;
- Goddelike natuur;
- Liggaam 'n slaaf.
_________________________________________________________________________________
(LEWENDE) WESE/NS:
Ons wil nie net kyk na die woord "wese"nie, maar ook na "lewende wese".
Die Afrikaanse woord "wese" kan na beide iets "in die vlees" (Ps. 8:5) of na "'n gees" verwys (1 Sam. 28:13), maar daar is ook 'n verskil tussen die begrip "LEWENDE WESE", en die begrip "gees", want 'n gees het nie vlees en bene nie (Luk. 24:39) - "lewende wese" word egter vir beide uiterlike (bv. uiterlike mens) en innerlike (bv. innerlike mens -  gees in binneste) gebruik - (vgl. met "lewende siel" - rol af na volgende opsomming om hierdie beter te verstaan ), maar word veral gebruik van iets wat "vlees" het (Gen. 9:15,16). Na regte kan ons miskien sê dat wanneer die mens doodgaan hy nie meer 'n "lewende wese" genoem kan word nie - alhoewel steeds wat ons in Afrikaans noem " 'n wese"! - maar dan in die geval van siel/gees wat verwys na "gees in binneste"...). As lewende wese is die mens (huidiglik) 'n gees met vlees en bene (en bloed)(2Kor.4:16 - tweeledig van aard - "die uiterlike mens" / "die innerlike mens"), maar wanneer hy doodgaan is hy 'n gees "sonder vlees en bene".

Om "die mens as 'n lewende wese" te verstaan, moet ons begryp watter rol "die vlees" speel (en begryp dat verskillende wesens verskillende soorte vlees het (1 Kor. 15:39) - hier verwysend na "vlees" letterlik bedoel). Die begrip "vlees" (die self, vel, naaktheid...) word bv. ook baiemaal gebruik wanneer daar na 'n lewende wese (op aarde) verwys word... (Gen. 6:12,13,17,19;  Gen. 7:16,21;  8:17;  9:11,15-17; Lev. 17:14; Num. 16:22; Job 12:10; Ps. 136:25 ens.)(en is bv. ook dieselfde Hebr. woord wat gebruik word waar daar na vlees as "vleis" verwys word (Jes. 49:26; Gen. 2:21)). 'n Ander woord waarna ons ook kan kyk wanneer daar verwys word na "die mens as lewende wese op aarde", is die begrip "mensekinders" ("kinders van mense" - m.a.w., die uit vlees gebore)(Gen. 11:5; Deut. 32:8; 1 Sam. 26:19; 2 Sam. 7:14; 1 Kon. 8:39; 2 Kron. 6:30; Ps. 11:4; Ps. 12:1; 14:2; 33:13; Dan. 2:38; Ef. 3:5; Mark. 3:28; ens.) - verwysend na "kinders van Adam". Die woorde "lewende wese" verwys egter nie net na "die mens" (Gen. 7:23) nie, maar daar is baie soorte lewende wesens VOLGENS HULLE SOORTE (Gen. 1:21)(bv. vee, kruipende diere, wilde diere, voëls, diere in die water, seediere ens. - Gen. 1:20, 21, 24; 2:19; 7:4,23; 8:21; Deut. 11:6; Openb. 16:3 ...); en ook lewende wesens in die hemel! (waar God woon)(Openb. 4:6-9;  5:6,8,11,14;  6:1,6;  7:11; 14:3; 15:7;  19:4);  maar wat ons moet verstaan is dat nie alle lewende wesens dieselfde soort liggame het nie! (1 Kor. 15) - en duidelik nie almal "op die aarde" nie.  Die woorde "lewende wese" verwys m.a.w. nie altyd na iets wat op "die aarde" beweeg en lewe nie, maar daar is baie soorte WESENS, maar nie almal is "lewende wesens op aarde" nie, en nie almal het dieselfde soort liggame nie... 
Die bonatuurlike wese wat uit die aarde opgekom het in 1Sa 28:13 word nie gesien as 'n "lewende wese op aarde" nie, maar is iets soos 'n gees - sonder (uiterlike) liggaam en lewensasem - en in daardie opsig wel 'n "wese" (soos ons in Afrikaans praat) maar word nie aangespreek as 'n "lewende wese of siel" nie (het m.a.w. nie letterlike "vlees en been" nie, en het nie die letterlike "lewensasem" nie)

Soos enige LEWENDE WESE, is die mens geskape met 'n spesifieke soort liggaam en het 'n "menslike natuur" (Jak. 3:7);  wat verwys na die "soort natuur" (rol af vir 'n opsomming oor "menslike natuur" en waarna die begrip alles verwys...). Elke SOORT lewende wese is anders -  het bv. verskillende soort liggame...: (1Kor. 15:39)  Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls. (1Kor. 15:40)  En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse.  In die opstanding sal die wat opstaan tot lewe opstaan in ander soort liggame (as wat hulle nou het). Dus, sal dan weer "lewende wesens" wees (op aarde) maar in ander SOORT liggame!
Hierdie, asook die woord "WESE/NS", word in die volgende paragraaf nog verder verduidelik...
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
LEWENDE SIEL / WESE:

Die MENS is 'n "LEWENDE SIEL" - die woorde "lewende siel" verwys na iets "waarin 'n lewende siel is" (Gen. 1:30). In sommige skrifte word, wat hier vertaal is as "siel", ook as "WESE" vertaal (Hebr. woord "neh'-fesh" of Griekse woord "psoo-khay'", wat terloops nie net verwys na die uiterlike mens nie, maar ook na die innerlike). Al die diere van die aarde, die voëls van die hemel, en al die kruipende diere op die aarde, het elk 'n lewende siel in hulle (Gen. 1:30).  Sonder 'n "lewensasem" (en natuurlik 'n liggaam) kan niks gesien word as 'n LEWENDIGE SIEL of lewende WESE wees nie. Die begrip "LEWENDE WESE" (hier verwysend na lewende wesens op aarde) verwys na alles wat "die ASEM vd lewensgees in hulle neusgate het"... (want die "asem" verander hulle/liggame in lewende siele...)(Gen 7:22,23)(die MENS, die vee, kruipende diere, voëls van die hemel)(Gen. 1:20,21,24;  2:19;  7:4;  9:10,12,15,16; Lev. 11:10,46; Deut. 11:6; Eseg. 47:9; Openb. 16:3). Die woord LEWENSASEM verwys na "asem in die neus" (Jes. 2:22) en is miskien meer verwysend na letterlike ASEM (letterlik "gees" - NIE die "gees wat in iemand se binneste gevorm word" nie...). Letterlike asem (gees) verwys na die asem wat God self aan almal en alles gee (Hand. 17:25) - niks en niemand kan lewe op aarde as God nie vir hulle hierdie asem of lewe gee nie. (Job 34:14,15 - "As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer"). Daarom, wanneer iemand die "laaste asem" uitblaas, gaan hy dood... (Job 11:20; Ps. 146:4; Mark. 15:37,39; Luk. 23:46; Ps. 104:29) - en hierdie (letterlike) asem of "gees" gaan dan op boontoe, terug na God wat dit gegee het (Pred. 12:7).

Die woord "wese" is dieselfde Hebreeuse woord wat gebruik word vir "siel" in sekere bg. voorbeelde; alhoewel in sommige skrifte word ook ander woorde gebruik vir "wesens" wat meer verwys na diere as mense (soos "bewegende goed")(sheh'-rets of yek-oom' of khah'ee...). Daar is bv. ook LEWENDE WESENS in die hemel, maar 'n ander woord word daar gebruik wat liewer vertaal kon word as "lewende ding" (gedierte) - hulle word beskryf in Openb. 4:6-9 en 5:6,8,11,14 en 6:1-7 en 7:11 en 14:3 en 15:7 en 19:4. Kyk ook die vb. in Eseg. 1. Ons moet verstaan dat daar verskillende SOORTE LIGGAME is en dat verskillende WESENS verskillende liggame het. In die geval vd mens word 'n liggaam "gesaai", en 'n asem ("gees") daaraan gegee, en dit bring 'n "lewende siel" voort (Gen 2:7 - "En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword") - in die geval vd wat uit die VLEES gebore is, word 'n NATUURLIKE LIGGAAM gesaai...  
Waar 'n geestelike liggaam "gesaai" word (soos Jesus Christus wat opgestaan het uit die dood), bring dit 'n "lewendmakende gees" voort (verwys bv. na Jesus se nuwe liggaam; verwys FIGUURLIK ook na die "liggaam" waarin die Christen opstaan, maar Christene het die belofte dat hulle ook eendag LETTERLIK sal opstaan in hierdie soort liggaam waarin Christus opgestaan het). (1Kor. 15:44,45 - "‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees").  Elke Christen sal ook eendag 'n geestelike liggaam kry (wat verwys na 'n letterlike liggaam maar anders as die huidige liggaam)(Dan. 12:2), maar Christene word nou al gesien soos "GEESTELIKE MENSE" omdat hulle innerlike alreeds vernuwe is - figuurlik het die Christen SELF alreeds opgestaan in 'n nuwe liggaam (innerlike vernuwe)! Hierdie "innerlike mens" se liggaam verwys ook (net soos in die geval van die uiterlike liggaam) na "vlees, werke, familie, naaktheid, die self, vel, voedsel, vleis" ens., maar is FIGUURLIK van aard. Ons moet dus natuurlik ook verstaan waarna hierdie dinge figuurlik verwys.... (en word verder behandel in die studie oor "die liggaam" vd mens"). 
- Wat die uiterlike, LETTERLIKE aanbetref sal die geestelike mens (die weergeborenes) eers 'n nuwe liggaam kry (verwys na letterlike liggaam) wanneer Jesus Christus terugkom. 
- Wat die INNERLIKE MENS aanbetref moet ons dus onderskei tussen die "natuurlike mens" en die "geestelike mens", want die "eerste Adam" (die natuurlike mens) se innerlike is anders as die geestelike mens se innerlike... In geval vd geestelike mens se innerlike mens, het hy reeds FIGUURLIK opgestaan! (Kol. 2:12; 3:1; Ef. 2:6; Rom. 6:4,5), en is dus figuurlik nie meer 'n slaaf van sonde nie (bv. "dink en sien en doen anders"...).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
NATUUR:
Om die tema vd menslike natuur te verstaan, moet ons weet wat presies "natuur" is en wat met "natuurlike verkeer" bedoel word. 
"Natuur" verwys nie net na:
(1) natuur wat deur God vasgestel is (bv. "natuurlike verkeer" wat nie deur die mens verander mag word-Rom. 1:26,27)(bv. is geskape as man of vrou) nie, maar kan ook verwys na 
(2) natuur wat deur mense vasgestel word (bv. wette van mense - en mag wel verander word)(bv. wette oor kort/lang hare)(1 Kor. 11:14). 
(3) "Natuur" kan ook verwys na gevalle/natuur wat deur God ingestel is maar weer deur Hom verander word/is (bv. oorspronklik geen skrik in diere, maar vanaf Gen. 9 wel skrik in dier...)(Gen. 9:2).
(4) Die begrip "natuur" word ook gebruik om te wys hoedanig iemand se natuur is (m.a.w., volgens keuse en geboorte...)(bv. die "natuurlike mens" of die "geestelike mens")(2 Pet. 1:4; Spr. 12:10; Jak. 3:7; Rom. 11:24). Die natuurlike mens is in sonde / uit vlees gebore.  Die geestelike mens is uit gees gebore (Joh. 3:6)...

DIE MENSLIKE NATUUR (Jak. 3:7): 
Die woorde "menslike natuur" verwys na mensdom (Griekse woorde "anth-ro'-pee-nos" en "foo'-sis")(soort wese - die mens), en mag net sowel die "natuurlike mens" (1 Kor. 2:14) beskryf... - want almal kan na regte gesien word soos "natuurlike mense" wat teen die natuurlike verkeer opgaan wat God vasgestel het, en maak dus hulle eie rëels op, en is nie die Here gehoorsaam nie en begeer nie Sy wil nie...(in daardie opsig "dood" - verganklik, want die loon vd sonde is die dood). Wat ons nodig het is 'n "goddelike natuur" (1 Pet. 1:4) wat eerder die wil vd Here begeer as om die wêreld te begeer. In daardie opsig gebruik geleerdes somtyds die woorde "menslike natuur" om 'n natuur te beskryf van hoe die mens in opstand kom teen sy Skepper (is m.a.w. "wild"), en gaan nie net oor die natuur wat iemand "kies" nie maar ook die "natuur" waarin hy gebore word (bv. gebore in sonde/uit vlees gebore)(- nie hier bedoel "die natuur wat God vasgestel het vir die menslike wese", bv. is of man of vrou, nie). In daardie opsig is die mens "in slawerny gebore" (en verganklik)(1 Kor. 15:22; Ps. 39:4; Rom. 8:21 ens.) - is 'n slaaf vd sonde... (en het vrymaking nodig, nie net van die sonde wat hy dien nie maar ook vrymaking nodig van die angel daarvan, nl. die dood)(Hebr. 9:27; Ps. 89:48; Rom. 8:21; Joh. 6:50 ens.).  Vgl. dit met die toestand van die NATUURLIKE MENS.  Adam en Eva het gesondig omdat hulle hul vertroue eerder in die slang geplaas het as in God - soos 'n wilde dier nie 'n mens vertrou nie, so het Adam en Eva wild opgetree omdat hulle nie vir God vertrou het nie. 'n Dier is mak wanneer hy iemand vertrou...  Die natuurlike mens kan ook slegs mak word of verander as hy die een wat oor hom heers, begin vertrou... 

DIE NATUUR VAN 'N WESE (Jak. 3:7; 1 Kor. 11:14; Openb. 12:10; Rom. 1:26,27; 2 Pet. 1:4; 2:12):
(1) die mens se toestand voor God (m.a.w. deels verwysend na die feit dat elke mens 'n vrye wil het).  Hier moet ons onderskei tussen die NATUURLIKE MENS (uit vlees gebore)(almal is "natuurlike mense" a.g.v. die sondeval en in sonde gebore...), en die GEESTELIKE MENS (uit Gees gebore)("geestelike mense" is "weer gebore"...- hulle "toestand" of "natuur" verander en hulle verkry 'n "goddelike natuur" - rol af na opsomming "goddelike natuur");
(2) die "natuurlike verkeer" van 'n wese (wat ook weer na 2 dinge verwys):
         - (a) die natuur wat deur God vasgestel is vir 'n wese (bv. "man en vrou")(Rom. 1:26,27). In hierdie konteks is "natuurlike verkeer" iets wat deur God vasgestel is (met die skepping van 'n wese) en mag nie verander word nie!
         - (b) natuurlike of geestelike mens - is die wese "mak"?, of  "wild"?  In hierdie konteks gaan dit nie net oor die natuurlike verkeer wat vasgestel word vir 'n wese (bv. "skrik in diere") nie, maar ook oor die toestand waarin die wese verkeer a.g.v. keuses en geboorte - en verwys na hoe die wese se natuur verander kan word! (bv. oorspronklik was deer geen skrik in diere nie, maar God het dit verander in Gen. 9:2,3 toe Hy die mens toelaat om vleis te eet;  dus voor Gen. 9 was alle diere mak, maar na Gen. 9 wild).  "Natuurlike mense" kan ook gesien word as "wild", maar net soos diere mak gemaak kan word wanneer hulle iemand begin vertrou, net so kan mense weer "mak" gemaak word as hulle hul vertroue in die Here plaas. In hierdie konteks kan die "natuurlike mens" se stand voorgestel word as "dood" (dood vir die Here - is m.a.w. "wild"), en die "geestelike mens" voorgestel word as lewendig vir die Here (is m.a.w. "mak").

NATUURLIKE VERKEER (Rom. 1:26,27):
Die mens wat hom nie aan Sy Skepper onderwerp nie kan gesien word soos 'n wilde dier, of meer presies word 'n "wilde olyfboom" genoem in Rom. 11:24 (en spreek vd "natuurlike mens") en het nodig om mak gemaak te word! (het dus nodig om op die mak olyfboom ingeëent te word). Maar net soos in die geval met 'n dier, kan die mens nie "mak gemaak" word as hy hom nie onderwerp aan die een wat oor hom heers nie! Wanneer God 'n weg skep kan "natuur" verander word - bv. wilde diere se natuur kan getem word (Jak. 3:7), maar geskied deur die een wat in die posisie is van "heers" (en sal slegs gebeur as die dier hom toelaat! - het m.a.w. te doen met "wil"). Siende God heers oor die mens is Hy die Een wat mag het om "natuur" te verander... en ons sien 'n vb. van waar Hy dit gedoen het. Heidene is bv. "van nature" nie deel van die kinders vd koninkryk nie (is van nature wild), maar Jesus Christus kan 'n heiden se "wildheid" verander sodat hy nou "mak" word en deel word vd kinders van Abraham - dit is, as die mens Hom toelaat! - het te doen met "wil" - God dwing nie mense om Hom te dien nie - elke mens het 'n "wil", en die wat die regte besluit maak kan "mak gemaak" word; (Rom 11:24 - "Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word?"). Net soos die mens oor die dier heers en diere kan mak maak, net so maak Jesus Christus die wat hulle aan Hom onderwerp , "mak"... Jesus Christus is oor alles aangestel en al die mag is aan hom gegee (soos die mens mag het oor diere, so het Christus mag oor die skepping)(Joh. 17:2; Joh. 3:35; 5:21,22; Hebr. 1:2; 2:8,9; 1 Pet. 3:22).
Christene word deel van die GODDELIKE NATUUR (1 Pet. 1:4) - hulle verkry m.a.w. 'n ander natuur! (verwys hier na die figuurlike - opstanding vd innerlike mens, en hulle het die belofte van ook eendag, letterlike opstanding).

Dit gaan dus hier oor wie dit is aan wie iets of iemand onderwerp is.  Die mens heers oor die dier (Gen. 1:28).  God heers oor die mens (Gen. 1:27; 2:7...).
Die mens moet hom dus onderwerp aan sy Skepper (soos 'n dier hom moet onderwerp aan die mens). Die mens moet hom bv. ook onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is... (Rom. 13:1-3), maar as die wereldse mag (hetsy regering of kerkraad of wie ookal) in opstand kom teen die natuurlike verkeer wat deur God vasgestel is, kan daardie wereldse mag gesien word as "wild" (in so 'n geval kan die wat "mak" is  kies om die Here "meer gehoorsaam" te wees (Hand. 4:19; 5:29)).
Die een wat heers het die mag, maar God is die Almagtige! (Gen. 17:1; 28:3; Openb. 21:22; Jes. 13:6; 2 Kor. 6:18 ens.) - alle wereldse magte is veronderstel om hulle te onderwerp aan die Een wat heers! (Jer. 32:27; Ps. 136:25; Job 12:10; Num. 16:22...). 'n Wereldse mag wat oor ander mense aangestel is het bv. nie die reg om die natuurlike verkeer wat deur God vasgestel is, te verander nie - want dan kom hulle in opstand teen die Een wat oor alle mense heers. Bv., geen wereldstelsel het die reg om die natuur te verander van wat gesien word as "die huwelik" nie; of het die mag om die natuur te verander t.o.v. van wat gesien word as wettiglike seks nie;  of het die mag om te besluit dit is reg vir 'n mens om met 'n dier vleeslike gemeenskap te he nie....ens. ens. - want die mensdom (en elke regering van mensdom) is veronderstel om hulle te onderwerp aan die Here hulle Skepper! (aan die Een wat heers).  Die mens is onderwerp aan God se reels (die "natuur" wat Hy vasgestel het, net soos diere onderwerp is aan die mens se reels). Elkeen wat die natuurlike verkeer wat deur God vasgestel is, probeer verander, bewys dat hulle nie hulle Skepper vertrou nie, en bewys dat hulle hulself nie aan Hom onderwerp nie.
Nie eens die Christelike kerk (die wat "mak" is) het die mag om "natuur" (bv. reels) wat deur God vasgestel is, te verander nie! (want as hulle dit doen, dan word hulle weer wild...).  Hulle kan bv. nie iets wat gesien word as sonde, verander asof dit nie meer sonde is nie. As God die reels of "natuur" verander is dit iets anders, maar geen mens het die mag om dit te doen nie. Daar is dus 'n NATUURLIKE VERKEER op aarde en as hierdie natuurlike verkeer verander word deur iemand wat nie die mag het om dit te verander nie, dan is hy besig om in opstand te kom teen die een wat regeer. Bv., die mens is as "man" en "vrou" geskep - dit is dus nie "natuurlik" vir die man om met 'n ander man omgang te he nie;  net so is dit ook nie natuurlik vir die vrou om met 'n ander te le nie (Rom. 1:26,27). Mense wat hierdie "natuurlike verkeer" verander sondig teen hulle Skepper en kom in opstand teen die natuur wat Hy vir hulle gegee het.

Ons moet egter onderskei tussen "natuurlike verkeer" (iets wat vasgestel is deur die Skepper), en dit wat verskillende kultuurgroepe sien as "natuurlik", want die begrip "natuurlike verkeer" gaan nie oor menslike gebooie nie. Vir sommige groepe is dit bv. nie natuurlik dat 'n man lang hare dra nie (1 Kor. 11:14), maar vir ander is dit...  - hierdie moet nie verwar word met die begrip "natuurlike verkeer" nie want dit is bloot "kultuur" wat nie deur God vasgestel is nie...

Die "GODDELIKE NATUUR":
Die wat gebore is in sonde het nie 'n goddelike natuur nie, maar is "natuurlike mense" en het dus 'n "menslike natuur" (verwys na punt 1, bo).  Natuurlike mense is soos wilde diere (diere is bv. wild wanneer hulle iemand nie vertrou nie). Natuurlike mense is wild teenoor die Here omdat hulle Hom (en die natuurlike verkeer wat Hy neergelê het) nie vertrou nie (hulle is in sonde gebore / gebore uit vlees / slawe van sonde)(Ps. 51:5; Joh. 3:6; Rom. 6:6) - hulle volg eerder die "natuur van mense" na - is m.a.w. "van die wêreld", "dink en praat soos die wêreld" en begeer die dinge vd wêreld... (ander woorde wat gebruik word is dat hulle "die gees vd wêreld" het).
Geestelike mense kan voorgestel word as mak (en is dus mense wat vir God vertrou) - hulle is wel gebore uit vlees, maar word "weer gebore" (uit Gees), en verkry 'n "goddelike natuur"... (2 Pet. 1:3,4) - hulle volg dus God se natuur na en is (gebore) uit Hom, dink en praat soos Hy en begeer die dinge vd Gees... (het "die Gees van God").
- (2Pe 1:3)  Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,
- (2Pe 1:4)  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.

------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Liggaam soos 'n slaaf:
'n Slaaf behoort aan iemand, bv. wie is dit vir wie hy DIEN of GEHOORSAAM? Op dieselfde wyse is die mens soos 'n slaaf of dienskneg van sonde omdat hy in sonde gebore is (Ps. 51:5; Job 15:14; Rom. 6:20; Joh. 8:34...). Daar is 'n verskil tussen die een wat vrywilliglik 'n slaaf is, en die een wat verkoop is as slaaf... Die natuurlike mens is op hierdie wyse "verkoop onder sonde" (Rom. 7:14) - dit gaan oor watter soort saad in iemand is, bv. almal gebore uit die saad van Adam is in sonde gebore (is m.a.w. verkoop onder sonde) = "die natuurlike mens". Hy't nie vrywilliglik gekies om 'n slaaf te wees van sonde, of altans om die "sonde te dien" nie (Rom. 7:14-25), maar 'n wese kan nie iets anders voortbring as wat hyself is nie, en daarom sterwe elke kind wat uit Adam se saad gebore is, want hy word uit (hierdie) vlees gebore - dus gebore in sonde... en die loon vd sonde is die dood. Elkeen wat 'n slaaf is van sonde is van nature kinders vd TOORN - (Ef. 2:3)  "onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander".

Die wat egter weergebore is uit God se saad (nl. "die geestelike mens") het LEWE omdat hy gebore is uit God - hy het God se saad in hom... (1 Joh. 3:8,9) - as hy uit Gees gebore is, dan is hy "gees".
- (Joh 3:6)  "Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees".  
- (Rom 5:12,13,19)  "Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie............(v.19)  Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word".
Die geestelike mens word nie alleenlik gesien as net "gebore uit God saad" (wat vir hom die hoop gee op LEWE) nie, maar hy gee homself ook VRYWILLIGLIK as slaaf vir Christus! Die geestelike mens is dus VRYgemaak (Joh. 8:36) in die sin van nie meer 'n slaaf vd sonde nie (dien m.a.w. nie meer die sonde wat veroorsaak dat hy onder toorn sal val nie) - dus VRYGEKOOP vd sonde waarin hy gebore is (en sal dus nie onder die oordeel vd hel, nl. die tweede dood, val nie, maar het die belofte van opstanding uit die dood) - gekoop deur Jesus Christus, met Sy bloed.. - gekoop om vry te wees vd slawerny waaronder hy verkoop is en vd toorn waaronder hy sou val. Die geestelike mens is wel VRY (nie meer slaaf van sonde nie) maar vrywilliglik 'n slaaf vir Christus, en dien Hom en is Hom gehoorsaam... (glo in Hom)(1 Kor. 7:22; 1 Pet. 2:16) - in ander woorde, "'n DIENSKNEG van Christus"! (Rom. 7:3-6; Gal. 4:1,7-9;  1:10 ens.); maar hulle is nie net diensknegte nie maar ook "seuns" of  "kinders" (wat sal erf, soos seuns en kinders erwe)(Gal. 4:1,7), en word ook Jesus Christus se vriende genoem (want Hy deel alles wat Hy vd Vader hoor met hulle...)(Joh. 15:15).

Die "slaaf" wat egter die geleentheid het om vry te kom maar dit nie aanneem nie, kies vrywilliglik om 'n slaaf te bly van die een wat hy dien. Op dieselfde wyse het elke mens 'n geleentheid om vrygekoop te word van die sonde waaronder hy gebore is en die toorn waaronder hy sal val a.g.daarvan. As iemand weier om die geleentheid aan te neem wat deur God geskep is waardeur hy verlos kan word van sy "slawerny" (as slaaf van sonde) en die toorn wat a.g.daarvan volg, dan kies hy om eerder die sonde te dien en die uiteinde daarvan is die DOOD ("tweede dood" - oordeel vd hel). Die een na wie jy luister en vir wie jy gehoorsaam, is die een vir wie jy dien... 

Verder, die wat die wet van Moses gehoorsaam, dien die wet; maar die wat die Heilige Gees gehoorsaam, is nie onder wet nie, maar dien vir Christus Jesus (en het Sy Gees en is nie gehoorsaam aan "die wet" nie, maar aan Sy Gees) - is vrywilliglik 'n slaaf van Christus (nie 'n slaaf vd wet nie).  Die geestelike mens (die Christen) se liggaam is die tempel vd Heilige Gees en sy liggaam kan gesien word soos 'n slaaf vir die Here. Christene se liggame en gees behoort aan die Here - hulle is duur gekoop (1 Kor. 6:19,20).  Daarom moet hulle vlug vir (geestelike) "hoerery" want hulle liggaam is 'n tempel vd Heilige Gees! (1 Kor. 6:19) - is vrygemaak ja, maar dien nou die een deur wie hy oorwin is... (2 Pet. 2:19). (1Kor. 7:22 - "Want die slaaf wat in die Here geroep is, is ‘n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, ‘n slaaf van Christus"). Christene is figuurlik deel van Christus se liggaam en dien Hom SELF deur hulle eie liggame...  (2Pe 1:4 - "waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die GODDELIKE NATUUR, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is").
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Geen opmerkings nie: