Wys tans plasings met die etiket opgeblase. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket opgeblase. Wys alle plasings

Sondag 04 September 2011

Hardkoppig / Wederstrewig

Die woord "hardkoppig" kom nie in die AOV voor nie, alhoewel die woord "koppig" gebruik word (is die Hebr. woord "saw-rar'" - wat verwys na om weg te draai - in konteks kan dit verwys na "terugval, rebelleer, kom in opstand, koppig, of onttrek). Dit kan ook vgl. word met die onderwerp "hard van hart" (wat spesifiek verwys na iemand wat kies om ongelowig te bly). 
Daar kan ook ingekyk word op die woorde: 
- "HARDNEKKIG" (Deut. 31:27)(kyk bv. die verband tussen hardnekkigheid en "hart verhard"/Jos. 11:20; 2 Kron. 36:13), en
- "WEDERSTREWIG" (wat gewoonlik in dieselfde konteks as koppigheid gebruik word). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Hoe tree iemand op wat koppig is?

Volgens Deut. 21:18-21 is dit in konteks met iemand wat WEDERSTREWIG (Hebr. woord "maw-raw'", wat verwys na iemand wat ongehoorsaam is en rebelleer - soos iemand wat bitter is en verandering wil bring deur te rebelleer) is (vgl. met Psa 78:8) en ongehoorsaam aan sy vader en moeder. Daar word o.a. na die koppige verwys as 'n "deurbringer en dronkaard" - dit is duidelik dat hierdie seun nie sy ouers eer of vrees nie... (vir 'n studie oor wat dit beteken om te eer/vrees, gaan na: https://warechristene.blogspot.com/2023/03/wat-beteken-om-te-vreeseer.html). Daar word van kinders van die Koninkryk verwag om hulle ouers te eer, en in Deut. 21 wil dit voorkom of koppigheid teenoor ouers (die wat teen hulle ouers se lering rebelleer) bloedskuld veroorsaak (hierdie feit word ook terloops genoem in Lev. 20 en Deut. 27). (Deut. 21:18-21 - "As iemand ‘n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie, dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek, en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard. Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees"). Alhoewel daar in die O.T. geen offer vir bloedskuld was (om vergifnis te ontvang) nie, kon die persoon se bloed vir hierdie sonde betaal (dit is waarom mense in die O.T. doodgemaak is sou hulle bloedskuld op hulle kry). In die huidige bedeling is daar 'n offer vir bloedskuld, nl. by Jesus Christus... (vir die wat in Hom glo). Bloedskuld is 'n ernstige saak en moenie ligtelik opgeneem word nie!  L.w. dat dieselfde sondes wat bloedskuld veroorsaak het in die O.T., veroorsaak steeds bloedskuld in die Nuwe... Daar word steeds van kinders verwag om hulle ouers te eer en nie koppig te wees nie, maar kinders moet hulle ouers respekteer en nie vergeet wat hulle vir hulle doen/gedoen het nie, en moet hulle goeie leringe onthou!  Om jou ouers te eer beteken nie net dat jy hulle gehoorsaam (vrees) nie, maar gaan veral oor die redes "waarom jy hulle gehoorsaam"..., nl. hulle "voortrek, opheerlik, respekteer, waarde heg aan, trots wees op jou ouersWaar hierdie gesindheid ontbreek, sal eer ontbreek.  (1Sa_12:14  As julle maar die HERE vrees en Hom dien en na sy stem luister en nie wederstrewig is teen die mond van die HERE nie en julle self sowel as die koning wat oor julle regeer, die HERE julle God maar volg!"). 

'n Kind wat KOPPIG is en rebelleer teen sy ouers se gesag, kan bloedskuld op hom kry (en sal onder die vervloektes val as hy nie vergifnis kry nie)(Deu 27:16 - "Vervloek is hy wat sy vader of sy moeder verag (Hebr. woord "kaw-law'" - verafsku, neem nie ernstig op nie, skandalig optree, ens.); en die hele volk moet sê: Amen"). In kort verwys koppigheid dat 'n kind rebelleer, wat op beurt wys dat hy nie sy ouers vertrou nie en neerkyk op hulle leringe of geen waarde heg daaraan nie.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Koppigheid en wederstrewigheid gaan hand in hand:

Daar is gewoonlik gevolge wanneer iemand WEDERSTREWIG is en hom nie bekeer nie (Eks. 23:21; Num. 20:24; 27:14; Deut. 1:43; 1 Kon. 13:21,22,26; Ps. 5:11; 106:43; 107:10-13; Jes. 1:20; ens.)(kyk ook Job 9:4/"hardnekkig" - sal gestraf word);  bv., Aäron mag nie in die beloofde land ingegaan het nie omdat hy teen die Here se bevel wederstrewig was by die waters van Mériba, en in 1 Kon. 13 is 'n ongehoorsame profeet deur 'n leeu doodgemaak omdat hy wederstrewig was teen die Here - ...vele voorbeelde in die Skrif hiervan
Wederstrewigheid maak die Here kwaad (bv. Deut. 9:7; Eseg. 20:21; ens.) - dit grief Hom (Ps. 78:40). 
Wederstrewigheid wys op ONGELOOF  - mense wat wederstrewig is teen die Here, is ONGEHOORSAAM aan hom (Deut. 9:23).  
Die woord HARDNEKKIG word ook gebruik in konteks met wederstrewiges (Deut. 31:27), en volgens 1 Sam. 12:15 is wederstrewigheid die teenoorgestelde van om te luister;  in ander woorde, iemand wat nie luister na die stem van die Here/na Sy woorde nie, is wederstrewig... (is ongehoorsaam/rebelleer/Ps. 78:17; Ps. 105:28; Eseg. 20:13,21). In Neh. 9:26 het die wat daar wederstrewig (en opstandig) was, die Here se wet verwerp en nie na waarskuwing geluister nie. Ook volgens Eseg. 20:8 verwys "wederstrewiges" na die wat nie na die Here geluister het nie (asook daar na die wat afgode aanbid het). 
In Ps. 78:56 word "om die Here te versoek" in dieselfde konteks gebruik as wederstrewigheid (hulle het sy getuienisse nie onderhou nie). 
Volgens Ps. 106:7 verwys wederstrewiges na die wat nie ag gee op die Here se wonders nie (hulle het Sy dade vergeet). 
Volgens Ps. 106:33 verwys die wat wederstrewig is teen die Here se Gees, na mense wat onverskillig praat met hulle lippe
Wanneer kinders vd Koninkryk wederstrewig is en die Heilige Gees bedroef, verander die Here in hulle vyand, en Hy sal teen hulle stry. (Jes. 63:10 - "Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ‘n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry"). Die Here word grimmig en toornig teen sulke mense... (Eseg. 20:8)(https://warechristene.blogspot.com/2024/09/die-begrip-grimmigheid-van-god.html).
 
Ons sien dus hoe belangrik dit is vir kinders van die Koninkryk om hulle te bekeer wanneer hulle wederstrewig is teen die Here.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Koppig a.g.v. ongeloof:

Die woord koppig word nie net in konteks van "kinders teenoor ouers" gebruik nie, maar ook wat die geloof teenoor God aanbetref (Psa 78:8 - "en nie word soos hulle vaders nie, ‘n koppige en wederstrewige geslag, ‘n geslag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie").  Volgens Ps. 78:7 is dit duidelik dat die rede waarom daardie generasie koppig was, is omdat hulle
- nie hulle vertroue op God gestel het nie,
- Sy dade vergeet het,
- en Sy gebooie nie bewaar het nie. Hulle word o.a. beskryf as 'n geslag "met 'n onvaste hart, wie se gees nie trou was teenoor God nie"... (in ander woorde, hulle het nie op Hom vertrou nie). Waar Christene nalaat om hulle vertroue in die Here te stel, Sy dade vergeet, en Sy gebooie nie bewaar nie, is koppigheid beslis iets wat volg! Dit is dieselfde met kinders wat nie hulle ouers vertrou nie en vergeet wat hulle vir hulle doen en nie hulle leringe bewaar nie... - die uiteinde is gewoonlik dat sulke kinders teen hulle ouers rebelleer. 

Ook in Rom. 1 word hierdie feit vir ons geskets, nl. dat die rede waarom mense opstandig is teen die waarheid en die waarheid onderdruk (al weet hulle goed wat is die waarheid!), is omdat hulle God nie verheerlik of dank nie, dwaas is in hulle eie oorlegging en onverstandig, die waarheid verruil vir die leuen, die skepsel VEREER en dien bo die Skepper wat eintlik geprys moet word, en hulle God nie in erkentenis hou nie... (Rom. 1:21-28).  En l.w. wat hier van diesulkes gesê word in v.32: (Rom 1:32 - "mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen"). Natuurlik is dit belangrik om die Here te EER! - waar kinders vd Koninkryk ophou om die Here op te heerlik, waarde te heg aan Hom, trots is op Hom, Hom respekteer..., is hulle alreeds in hulle harte besig om te begin rebelleer. 

Hierdie is ook dieselfde rede wanneer wêreldse mense koppig is teen die Here, is omdat hulle die Here nie vertrou nie... Al wys Hy ook vir hulle wie Hy is, gaan hulle steeds hulle harte verhard omdat hulle nie wil glo nie.  'n Goeie voorbeeld is in Eksodus met die Farao wat geweier het om homself aan God te onderwerp   (Eks. 7:22 - " Maar die Egiptiese towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste, sodat Farao se hart verhard is; en hy het na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het)".  L.w. dat die feit dat Farao se towenaars ook die wonderwerke kon doen "wat Moses en Aaron gedoen het", het Faroa versterk in sy kwaad - dit het sy hart verhard en veroorsaak dat hy nie na Moses-hulle wou luister nie. Die rede hiervoor is "omdat hy gekies het om sy vertroue in die wêreldse te plaas". Deur sy ongehoorsaamheid wou hy 'n punt maak dat hy nie die Here nodig het nie. Dit is baiemaal die rede waarom kinders ongehoorsaam is..., en die juiste ding wat veroorsaak dat mense nie tot bekering kom nie, want hulle maak staat op iets anders (bv. hulleself of  glo dat hulle die antwoorde het, bv. maak staat op wêreldse kennis, raadpleeg die bose, ens). As Christene hierdie begin doen is dit duidelik dat hulle nie meer die Here vertrou nie, en as jy so iemand teregwys is die uiteinde gewoonlik dat hy eerder hy hart verhard (want hy is ongelowig!) (https://warechristene.blogspot.com/2020/04/hart-verhard.html) - "opgeblase", omdat hulle staatmaak op wêreldse kennis en wysheid, eie insigte en eie krag/suksesse, ens.  
------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------