Vir meeste Christene is dit onnodig om selfs te redeneer oor groot en klein sonde, want het Christus dan nie vir alle sondes gesterf nie? Die enigste rede hoekom dit sou saakmaak, is as daar 'n "groter" sonde is wat die Christen se saligheid kan beinvloed. Daar is een onvergeeflike sonde (Matt. 12:31,32) wat ons van nader moet beskou en meeste geleerdes is dit eens dat hierdie sonde teen die Heilige Gees verwys na die wat nie die saligheidsboodskap wil aanvaar nie en niks met die Here God te doen wil he nie, wat natuurlik deel is daarvan, en spes. behels, "lastering teen die Heilige Gees". Meeste Christene glo nie dat enige iets hulle saligheid kan beinvloed nie en almal is tog alte bekend met die spreekwoord: "Eenmaal 'n kind van God, altyd 'n kind van God". Daar is ook heelwat verskille rondom hierdie onderwerp en dit is duidelik dat daar verwarring bestaan in die kerk ten opsigte hiervan.
Die vraag is: Kan iemand, nadat hy tot wedergeboorte gekom het, sy saligheid weer verloor en kan "sonde" dit veroorsaak?
Terwyl Christus die prys betaal het vir al ons sondes, is sonde tog nie veronderstel om enigsins 'n gevaar te wees vir die Christen se saligheid nie. Saligheid gaan oor my keuse om Jesus Christus as Saligmaker te ontvang.....wel, eintlik gaan dit oor meer, maar dit is die deel waar meeste mense stop. Ons moet dus bietjie meer gesels oor "saligheid" en "godsaligheid" en "ewige lewe", want min Christene verstaan regtig waaroor dit gaan!
Joh 19:10 En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?
Joh 19:11 Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.
Pilatus wou nie vir Jesus kruisig nie, maar hy was bevrees veral toe hy hoor dat Jesus homself die Seun van God noem. Pilatus het dit ook duidelik gemaak dat hy geen fout by Hom vind nie (v.6) en was ook gewaarsku deur sy vrou oor hierdie man - moontlik was hy ook bang vir moeilikheid met die Keiser (v.12) - nietemin, dit sou sonde wees vir Pilatus om Jesus te vermoor. Jesus maak dit vir hom duidelik in v.19 dat die ongelowige Jode egter die "GROTER SONDE" pleeg. In die ongelowige Jode se geval is die sonde OPSETLIK, hulle het geweet wat is die waarheid; hulle het geweet dat hulle verkeerd doen en dat hulle geen fout by Jesus Christus kon vind nie, maar het dit nog steeds gedoen - opsetlik! Hulle het ook opsetlik leuens opgemaak teen Hom en Hom opsetlik verwerp.
Dit is dus duidelik dat daar 'n verband is tussen OPSETLIKE SONDE en GROTER SONDE, maar ons weet dat selfs opsetlike sonde wat bely word met berou, vergewe sal word. 1Jn 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Daar is tog talle voorbeelde in die Bybel van mense wat opsetlik gesondig het en vergewe is nadat hulle met berou bely het. Maar wat moet ons se van opsetlik aanhoudende sonde SONDER BEROU? Menige Christene stap in opsetlik aanhoudende sonde sonder berou en glo nie vir een oomblik dat hulle saligheid in gevaar is nie. Ten opsigte van die saligheid, is baie se opinie, "waarom sal God dan 'n geskenk terugneem?". Ander weer, is van mening dat wanneer iemand in opsetlike sonde voortstap, hulle nooit regtig wederbaar is nie. Dit is 'n geldige punt en skriftuurlik, maar is dit ook skriftuurlik om te se dat wanneer mense wel tot geloof kom, hulle weer afgesny kan word as hulle in opsetlik aanhoudende sonde stap? Ja, dit is, maar dit is nie vir ons om te se of so iemand afgesny word en wanneer nie. Daar is heelwat voorbeelde van mense in die Bybel wat "verloor het wat hulle ontvang het". God het selfs sommige van die lede van Sy volk, Israel, gese dat Hy hulle sal uitdelg uit Sy boek! (Ex. 32:33). Wat van koning Saul - een van die min mense in die Ou Testament wie die werking van die Heilige Gees ervaar het in sy lewe vir 'n paar jaar! God het Sy Heilige Gees van hom weggeneem! Selfs Dawid het gese op 'n stadium: Psa 51:11 "Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie". Selfs Dawid het geglo dat dit moontlik is, maar om die een of ander rede glo Christene van vandag nie dat dit moontlik is nie! Lucifer en die gevalle engele is almal voorbeelde van wat mens kan verloor nadat jy dit ontvang het "en nie opgepas het nie". Was hulle dan nie "seuns van God" genoem nie - so, selfs nie eens seunskap was genoeg nie! Selfs verskeie van Jesus Christus se dissipels het opgehou om Hom te volg - Joh. 6:66. Ons kan nie se wat met hulle siele gebeur het aan die einde van die dag nie - Judas ook nie, maar dit lyk ten minste of hy berou gehad het. Paulus skryf 'n paar rowwe dinge aan die gemeente van Korinthiers - gaan lees gerus hoe hy hierdie kinders van God aanspreek...en hoe hy vir hulle verduidelik hoe opsetlike sonde uitloop op die dood! Wat van Demas? (1 Joh. 2:15-17; 2 Tim. 4:10).
Heb 10:26 Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,
Heb 10:27 maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.
Gal 6:7 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.
Gal 6:8 Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.
(Kyk ook Ef. 5:5-7; Rom. 8:12,13)
Die een wat glo dat die Christen nooit sy/haar saligheid kan verloor nie, verstaan die belangrikheid van "sekuriteit", maar net so die een wat glo dat die Christen wel sy saligheid kan verloor, verstaan weer die belangrikheid van "om seker te wees". Beide wil seker wees van hulle saligheid. Die waarheid is dat, oral rondom ons, is daar baie Christene wat leef soos nie-Christene en nie almal verstaan waaroor Christenskap gaan nie. Weer-eens sal ons moet dieper kyk na die woorde "saligheid" en "ewige lewe" en seker maak dat elkeen regtig verstaan waaroor dit gaan. Om die verhouding tussen ons en God die Vader herstel te kry deur die Saligmaker Jesus Christus wat vir ons die offer geword het, is een deel, maar as dit al was, dan moes alle mense nou die ewige lewe besit het en was daar geen besluit of hartsverandering nodig by enige iemand nie. Saligheid en die verkry van die ewige lewe, gaan dus nie net daaroor dat ek my sonde bely en die offer van Jesus Christus aanvaar nie, maar gaan gepaard met 'n totale hartsverandering en 'n onderwerping van myself aan die gesag van die Here God, die Skepper en Heerser. Dit gaan daaroor dat ons Hom KEN en in 'n opregte verhouding met Hom stap waar ons onself onderwerp aan SY WIL en Sy wil soek in alles in die lewe. Hierdie woorde klink maar alte bekend, maar min Christene ervaar dit so!
Joh 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U KEN, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.
Volgens die skrif, is dit tog duidelik dat ons net weet ons ken Hom, AS ons "Sy gebooie bewaar".
1Jn 2:4 Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.
(Joh 14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.) Dit is dan heel logies dat as iemand nie leef soos iemand "wat 'n hartsverandering" ondergaan het nie, so iemand dalk nooit tot wedergeboorte gekom het nie! (Heelwat kerke onderskei hier tussen "bekering" en "wedergeboorte" a.g.v. hierdie feit) Maar ons moet versigtig wees om te dink ons weet wie wederbaar is en wie nie! Die feit is, daar is Christene wat die pad stap, 'n totale hartsverandering ondergaan, maar terugval en begin leef soos nie-Christene - die vraag is, kan so iemand sy saligheid weer verloor? As iemand dus sy eie wil weer kies bo God se wil en nadat hy saligheid gesmaak het, ongehoorsaamheid kies, dan is hy nie besig om aan die godsaligheid te werk nie. So 'n persoon ignoreer die Here God opsetlik en eer en dien Hom nie meer nie - kan so iemand sy saligheid weer verloor?
Ons kan opsom: dat wanneer iemand nie leef soos 'n Christen nie, die persoon of nooit regtig tot wedergeboorte gekom het nie, of, dat die persoon wel tot geloof gekom het, maar "teruggeval" het. Menig Christene is van mening dat selfs die "teruggevalle" nooit hulle saligheid kan verloor nie, maar ons moet nie die skrifte onderskat wat hieroor praat nie bv. (1Kor. 9:24-27) "Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike. Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie".
Alhoewel "goeie werke" nie saligheid kan koop nie, is gehoorsaamheid aan die Here tog die bewys van die feit dat iemand tot geloof gekom het! - want ons moet ook onderskei tussen "goeie werke" en "gehoorsaamheid aan die Here". Die fout wat baie mense maak wanneer hulle dink dat iemand nooit sy saligheid weer kan verloor nie, is om te reken hulle weet wie gered is en wie nie. Die fout wat andersins maklik gemaak word, is deur te faal om te onderskei tussen "daadsondes" en "opsetlik aanhoudende" sondes.Ons is baie gou om mense tereg te wys op daadsondes, maar snaaks genoeg baie traag om iemand tereg te wys wat stap in opsetlik aanhoudende sondes! As ons dan iets wou leer van "groot en klein" sondes, dan moet ons versigtig wees om iemand te gou tereg te wys op daadsondes en eerder aandag gee aan die "groter" OPSETLIKE sondes. Om mense heeltyd te loop en teregwys op daadsondes, kan maklik omsit in iemand wat HEELTYD LOOP EN FOUT SOEK BY ANDER, en dan is dit dieselfde as verkeerde "oordeel"; alhoewel, om iemand tereg te wys op sonde, nie oordeel is nie, maar daar heers 'n onbalans in vandag se tyd waar daar meer aandag gegee word aan daadsondes as aan die "groter" opsetlik (aanhoudende) sondes. Dit is tyd dat ons mekaar herinner aan waaroor Christenskap regtig gaan en dat dit 'n hartsaak is. Ons moet iemand kan help om terug te kom op die pad en die gevaar besef van dat hy afgesny kan word van die saligheid, sou hy nie regmaak nie. ( "1Kor. 5:7 Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is..." - lees gerus die konteks van hierdie skrif en die teregwysing op iemand wat in opsetlik aanhoudende sonde gestap het in die gemeente van Korinthiers- die persoon het later tot insig gekom...). As ons mekaar regtig liefhet, sal ons optree teen "suurdeeg" om hom die geleentheid te gee om terug te kom op die pad om hom van 'n moontlik "afsny" te red!
Alhoewel die gesegde "eenmaal 'n kind van God, altyd 'n kind van God" nie 'n Bybelse stelling is nie, kan die Christen wel SEKER wees van die feit dat hy/sy die ewige lewe het. (Joh. 6:37-40; Joh. 3:16 ens.), maar sou die Christen terugval en sonder berou voortstap in aanhoudend opsetlike sonde, kan hy sy saligheid weer verloor (Gal. 6:7,8; Openb. 3:5,6; ens.).
Mat 5:12 Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.
Mat 5:13 Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/12/regverdigmaking-geregverdig-regverdig.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/02/weer-gebore-wedergeboorte-wedergebore.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/03/boom-van-die-lewe.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2014/03/uit-genade-gered-opsomming.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/09/wat-beteken-dit-om-tot-bekering-te-kom.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/08/die-vrug-van-die-gelowige.html
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/08/wat-beinvloed-die-vrug-van-die
http://warechristene.blogspot.co.nz/2013/02/en-bedroef-nie-die-heilige-gee