Wys tans plasings met die etiket twyfel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket twyfel. Wys alle plasings

Donderdag 18 Oktober 2012

Die ultimate bewys is in "om Hom te KEN"

VIR DAGSTUKKIES WAT HIERDIE ONDERWERP BEVAT, GAAN NA:
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/05/afgodsdiens-in-die-kerk.html

----------------------------------------------------------------
(Mat 16:15)  "Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?
(Mat 16:16)  En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.
(Mat 16:17)  Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is".
-----------------------------------------------------------
Dit is interessant om te merk Jesus se opmerking aan Petrus in bg. skrifgedeelte.  Wat ons miskien eerder sou dink Jesus se opmerking sou wees, is iets soos dat Hy agtergekom het Petrus KEN DIE SKRIFTE, of dat Petrus die SKRIFTE GOED KON ONDERSKEI - tog het dit niks met Jesus se stelling te doen gehad nie!  Nee, Hy het eerder vir hom gese: "Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is".  Wanneer ons net staatmaak op die letter, dan gaan dit min oor die waarheid, maar eerder oor hoe ons dit interpreteer.  Wanneer ons die Here PERSOONLIK LEER KEN, dan begin gaan dit oor Sy wil en raak die waarheid vir ons duidelik. Dus, al sou ons die skrifte goed ken en onderskei, is dit alleen nie genoeg om ons te oortuig nie. Geen mens kan werklik tot wedergeboorte kom as hy nie uitroep na die Here en Hom persoonlik leer ken nie. Feitlik elke Christelike getuienis van iemand wat werklik tot bekering gekom het, is die persone wat in 'n verhouding met die Here gekom het, na Hom uitgeroep het en Hom persoonlik leer ken het - so iemand is gewoonlik absoluut seker van die waarheid en niemand kan hom beweeg nie! (Ongelukkig stop party mense by die wedergeboorte en vergeet die Here later as hulle EERSTE LIEFDE...).    

 Dit is slegs wanneer iemand in 'n persoonlike verhouding met die Here kom, wat hy ook werklikwaar OORTUIG word van die waarheid (inderdaad hoe Petrus oortuig was in bg. skrifgedeelte).  Die letter alleen is nie genoeg nie. Dit is ook interessant dat twyfel gewoonlik intree wanneer iemand nie veel persoonlike tyd met die Here spandeer nie.  Vele Christene bevind hulself  op hierdie plek en voel ver van die Here en onseker oor die waarheid.  Die letter is nie genoeg nie.  Jesus het vir ons die voorbeeld gestel van hoeveel ons moet bid en ook die opdrag gegee dat ons persoonlike tyd met die Here moet spandeer: (Mat 6:6)  "Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde". Geloof is 'n HARTSAAK - dit was juis die fout wat die Skrifgeleerdes en Fariseers gemaak het, dat dit vir hulle gegaan het oor letter en uiterlike gebaar - hierdie "gemaakte" geloof veroorsaak gewoonlik dat mense plek maak in hulle hart vir "menslike gebooie" en dit veroorsaak dat hulle dan nie van die waarheid oortuig is nie:
(Mat 15:8)  "Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.
(Mat 15:9)  Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is".
-(dit is ook gewoonlik die oorsaak van hoekom iemand nie die nodige "vrug dra nie").

--------------------------------------------------
DIE VERSKIL TUSSEN 'N MENSGEMAAKTE GELOOF EN WARE GELOOF, is dat 'n mensgemaakte geloof  "nie na die wil van die Here soek nie", terwyl in ware geloof  " die persoon homself ondergeskik stel aan die Here, na die wil van die Here soek en Hom wil gehoorsaam.   (Mat 6:24)  "Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag...".  
So iemand wat egter na die Here self soek en na Sy wil, kan nie anders as om OORTUIG te word van die waarheid nie.  Dit gaan dus oor "om in 'n ware verhouding met die Here te wees", nie oor ydelike herhaling van woorde in gebed, of sekere gewoontes nie, ens.....  Jesus het die "ewige lewe" as volg beskryf in 'n gebed wat Hy gedoen het tot God die Vader:  (Joh 17:3)  "En dit is die ewige lewe, dat hulle U KEN, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het".  As iemand dan nou verklaar dat hy die ewige lewe besit in Jesus Christus, beteken dit eintlik dat hy Hom KEN.  Sonder om Hom te ken, kan jy nie die ewige lewe besit nie!



As iemand Hom nie werklik KEN nie, dan sal hy ook altyd twyfel in wat werklik die waarheid is 
(al ken hy ook die skrifte baie goed!).  

Maandag 01 Oktober 2012

'n Wonderwerk in wording...

VIR DAGSTUKKIES OOR HIERDIE ONDERWERP, GAAN NA:
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/02/wanneer-iemand-die-here-versoek-wys-dit.html
http://warechristenedagstukkies.blogspot.co.nz/2014/04/wanneer-jy-die-here-se-wil-doen-beteken.html
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Die pad wat ons moet stap om te ontvang wat die Here ons belowe, is nie altyd maklik nie.  Toe Hy bv. vir Moses teruggestuur het na Egipte om die volk te verlos uit die hand van die Farao, was dit moeilike tye vir die volk.  Dit is bv. interessant om te merk dat die Farao strenger op hulle geraak het en hulle harder moes werk voor hulle daaruit is (Eks. 6:5-23). Dit is ook moontlik dat hulle die eerste twee plae self ervaar het, siende God eers met die derde plaag spesifiek onderskeid gemaak het tussen Egipte en die Israeliete (Eks. 8:22,23).  Hulle was presies gehoorsaam aan die Here en het die pad geneem wat Hy vir hulle aangewys het, maar bevind hulleself toe vasgekeer met die Farao en sy leermag op hulle hakke. Vir drie dae lank het hulle getrek van die Rietsee sonder water, en toe hulle by Mara kom, is die water bitter!  Waar hulle knus in hulle huise gebly het in Egipte met volop vleis, het hulle hul nou bevind in 'n situasie met geen brood en vleis nie........en so kan ons aangaan.  Die feit is, die Israeliete het hierdie situasie nie goed hanteer nie! In plaas van hulle oe te hou op die Here en hulle vertroue in Hom te plaas, lees ons hoe hulle gedurig gekla en gemurmureer het, ontevrede was en Moses en Aaron kwalik geneem het vir die situasie waarin hulle was. Hulle wonderwerk in wording, was toe nie so maklik nie!

Daar is baie ander soortgelyke situasies in die skrif.  Dawid was bv. gesalf as koning lank voor hy koning geword het en die pad daarnatoe, was nie maklik nie;  hy moes bv. op 'n stadium vlug vir sy lewe omdat koning Saul  jaloers was op hom....ens.
Die magtige profeet, Samuel, het ook nie 'n maklike pad gehad nie en is ter wille van hierdie bediening, op 'n jong ouderdom van sy gesin verwyder...ens.
Die Here het vir Josef gewys in drome hoe hy oor sy broeders sou "regeer"- hiervoor is hy sleggese, verkoop as 'n slaaf, later in die tronk gegooi weens valse getuienis teen hom, ens....
Die dissipels het dit ook nie maklik gehad nie - hulle moes deur baie verdrukkinge gaan, somtyds honger gaan slaap, is in die gevangenis gegooi  en sleggese....
Ons bevind ons ook baiemaal in soortgelyke situasies.  Die feit dat die Here aan ons kant is, beteken nie dat die pad glad gaan wees sonder moeilikhede nie.  
Waarin die volk egter gefaal het, keer op keer, was om te faal om die Here aan te roep en vir 'n uitkoms te vra, nee, hulle het liewer geloop en kla en bevrees geraak en Moses en Aaron skuld gegee vir hulle omstandighede. Hulle het hulle bevind op 'n plek waar hulle geen sekuriteite gehad het nie.  Om die waarheid te se, hulle het verkies om liewer soos slawe te werk met al die sekuriteite, as om gehoorsaam te wees aan die Here en op Hom te vertrou! (Exo 14:11) "En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het? (Exo 14:12)  Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe. (Exo 16:3)  En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe".  Daar was 'n korter pad vanaf Egipte na Kanaan, maar die Here wou hulle nie met daardie pad stuur nie, omdat Hy geweet het dat hulle a.g.v. hulle onvertroue net maar weer sou teruggaan na Egipte die oomblik as dit nie so goedgaan nie -(Exo 13:17)  Toe Farao die volk laat trek het, het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was; want God het gesê: Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte.(Exo 13:18)  Daarom het God die volk laat wegdraai in die rigting na die woestyn, na die Skelfsee toe. En die kinders van Israel het goed gewapend uit Egipteland opgetrek.;  daarom het Hy hulle in 'n posisie geplaas waar hulle nie anders kon as om Hom aan te roep en te vertrou nie.  Dit is eintlik 'n besturing wanneer die Here ons in 'n doodloopstraat instuur!   

Moses het egter die geloof gehad en die Here telkens geraadpleeg en was tevrede met Sy manier van doen.  Hy het homself onderwerp aan die God wat hemel en aarde gemaak het. Hy het nie geskrik vir moeilikheid nie, want die Here was telkens sy uitkoms.  Hy het nie moeilikheid gesien as 'n probleem nie, want sy hoop was in die Here en hy het staatgemaak op die Here se uitkoms en het homself onderworpe gestel aan die Here se wil. 
Moses het GELOOF gehad. 
Om die wil van die Here te doen, beteken nie dat die pad gelyk gaan wees nie;  dit beteken ook nie dat dit enige wereldse sekuriteite inhou nie. Vir 'n wonderwerk in wording, het ons GELOOF nodig/  ons moet nie so gou opgee nie, maar liewer BID en vir die Here vra vir 'n uitkoms /  ons moenie onsself toelaat om ontevrede te wees oor ons omstandighede nie, maar liewer aanvaar dat die Here in beheer is daarvan en op Hom staatmaak om dit vir ons te verander/  ons moenie ons hoop sit in wereldse sekuriteite nie, maar in die Here;  daarom gehoorsaam wees aan die Here, ten spyte van wereldse sekuriteite/  ons moenie so gou bevrees raak nie, maar dit vervang deur vertroue en die Here vra na leiding.....   hierdie het alles te doen met die toestand van die hart, of ons onsself regtig onderdanig stel aan die Here en Hom in beheer plaas van ons lewens.
-------------------------------

(Ecc 11:4)  Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie.




(Jas 1:5)  En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
(Jak 1:6)  Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

(Jak 1:7)  Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—

(Jak 1:8)  so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.