Maandag 09 April 2012

Waardeur word die lewenstydperk van die mens bepaal?

Nie baie mense praat meer oor die feit dat God die een is wat bepaal wanneer iemand se tyd op aarde verby is nie...  Mooi beloftes word voorgehou deur kosse en oefening en oor die "verlenging van jare". Natuurlik het kosse en oefening 'n invloed op die liggaam, en natuurlik is dit belangrik want sonder kos en water sal die mens doodgaan. En natuurlik is wat ons eet en drink en aantrek en higiene ens. ook vir die Here belangrik - kyk maar na die wet van Moses... Dit is egter in die Here se hande wie in die lewe bly en wie nie (maak nie saak hoe gesond sy uiterlike is nie).  Ongelukkig het wetenskappe die antwoord geword vir baie mense, en hulle is meer besig om hierdie dinge te soek as om die Here te soek. Dit is soos 'n evangelie vir baie - vir sommige 'n afgod, en die ding waarin hulle hul vertroue plaas in plaas van in die Here;  wat tot gevolg het dat hulle min aandag gee aan die innerlike, en al dieaandag gevestig op die uiterlike.  

Ons moet egter meer ag gee op die godsaligheid as op liggaamlike oefening en op "wat ons eet".  Daarmee word nie bedoel dat liggaamlike oefening bv. van geen nut is nie, maar wel dat dit tot weinig nut is teenoor die godsaligheid wat belangriker is!  Die woord "godsaligheid" word ook nie altyd reg verstaan in vandag se lewe nie;  inteendeel sommige neem geweldig aanstoot in die tema van godsaligheid in die Skrif  (http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/01/oefen-jou-in-die-godsaligheid.html). Ons verstaan bv. nie altyd presies wat dit beteken om ons TE OEFEN IN DIE GODSALIGHEID nie. Hierdie is iets waaraan elke Christen moet aandag gee.  Wat help dit iemand bring sy liggaam fisies in gereedheid en lyk pragtig en gesond, maar hy kasty nie sy liggaam om dit diensbaar te maak vir die Here nie? 
_________________________________________________________________________________

Heelwat is van mening dat die eerste mense op aarde so oud geword het te danke aan "gesondheid, oefeninge en omgewing".  Alhoewel hierdie faktore 'n rol speel, ja, is dit eintlik in God se hande hoe lank enige mens lewe. Daar is baie voorbeelde van mense wat bv, jonk dood is, ewe skielik aan 'n hartaanval of iets anders, iets wat niemand verwag het nie omdat die persoon fiks en gesond was. Ander het weer langer in die lewe gebly as wat verwag was. Iets wat geleer was vir die volk van God en ook in die eerste gemeentes, is om die siekes te salf en hande op te le en vir hulle te bid - iets waaraan ons nie altyd vandag aandag gee nie. Hulle moes hulle hoop eerstens op die Here plaas. Natuurlik het die Here ook vir ons medisyne in Sy natuur gegee, maar geen medisyne kan iemand regtig genees nie, want dit is die Here wat genees.  Twee mense kan presies dieselfde medikasie neem vir dieselfde probleem, en die een word gesond en die ander nie.  Wanneer ons medisyne neem, moet ons seker maak dat ons nie die gebed nalaat nie, want die gebed is belangriker.
---------------------------------------------------------------------------------------------------------------
 Baie mense wil glo dat die gemiddelde lewenstyd in vroeer tye meer was as vandag, maar volgens Ps. 90:10 was die gemiddelde lewenstyd van mense in Dawid se tyd slegs 70 jaar.  (Was hulle dan nie meer beweeglik as ons nie?  -en het hulle dan nie van die grond af gelewe nie?).   Elke mens sal uiteindelik doodgaan aan natuurlike oorsake, gesondheid of watookal, maar die tyd van "dood" word net deur God bepaal.  God kan enige iemand laat lewe so lank Hy wil, maak nie saak in watter gesondheidstoestand hy/sy verkeer nie, en Hy genees wie Hy wil. 

Ook die studie oor biologiese veroudering (waaraan baie geld spandeer word)  is nog lank nie voltooi nie, maar al sou hulle 'n resep uitwerk vir baie lank lewe is die Here steeds in beheer van hoe lank hulle regtig gaan lewe.  Waar mense minder ag gee op hulle Skepper en op godsaligheid, is hulle op gevaarlike grond - net soos dit was van die begin en daarom het Henog al daardie tyd gepreek van hoe die Here sal kom met Sy tienduisend talle.  Die wat nie gereed gaan wees wanneer Hy terugkom nie, is die wat meer besig gaan wees met die lewe as met die Here.  Wat sal 'n resep vir baie lank lewe hulle help wanneer Christus Jesus terugkom en hulle onvoorbereid betrap?
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
 So, "Waardeur word die lewenstydperk van die mens werklik bepaal?"

In die tyd tot op Noag se ark, het mense baie ouer geword as in die tyd na Noag se ark. Die rede hiervoor is omdat die Here in beheer is, nie net van elkeen se hoeveelheid lewensjare nie, maar ook vd mensdom se lewensjare. Hy besluit of mense 1000 jaar oud word, of 120 jaar. Sommige geleerdes beweer dat die 120 jaar eerder verwys het na jare wat dit geneem het vir die ark om klaar te bou, en daar is heelwat redenasie rondom dit, maar die feit is daar was 'n definitiewe afname in lewensjare (na Noag se ark)...

-Gen 6:3  ("Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar")  -  So, het hierdie skrif beteken dat "God die mens se lewensjare verminder het na 120 jaar ", of wys dit op "120 jaar voor die vloed".  Alhoewel laasgenoemde nie presies bewys kan word nie weens 'n tekort aan sekere inligting en ander skrifte 'n vraagteken daarop plaas, wek eersgenoemde stelling ook vrae gesien dat geslagte na Noag, selfs Abraham, meer as 120 jaar oud geraak het.  Na die vloed is dit egter logies dat dit 'n paar generasies sou neem voor die 120 jaar lewenstydperk bereik word in ag geneem dat sekere van die op die ark reeds verby die 120 jaar merk was.  Die geslagsregisters wys egter 'n duidelike afname in jare. Teen die tyd van Moses, was die ouderdom vasgestel op 120 jaar.  Dus is dit moontlik dat ons Gen.6:3 letterlik kan opneem dat dit praat van lewensjare en nie "jare voor die vloed" nie. Al het dit ook gewys op "120 jaar voor die vloed"-wat onwaarskynlik is-,   is dit steeds duidelik volgens Gen. 6:3 dat GOD DIE EEN IS WAT BEPAAL hoeveel lewensjare die mens het.  Soos talle leerstellings en menslike wysheid, word "gesondheid" en "oefening" heeltemal opgeblaas om God te verwyder uit die prentjie sodat die mens reken hy is self in beheer van sy uitkoms. 

(Dan. 4 en 5)
--------------------------------------------------------------------------------
Baie glo ook dat "lewensjare" gemeet kan word aan hoe lank  iemand se voorouers  gelewe het, maar neem kennis dat dit slegs 20 - 30% van faktore kan beinvloed en nie eens as 'n maatstaf gebruik kan word nie. So probeer wetenskap dit uitwerk, asof hulle lewensjare kan bepaal.  En al sou hulle die lewensjare kon verleng, sal hulle nie 'n formule kan uitwerk vir die "ewige lewe" nie.  Hierdie dinge rig net die mens se oe weg van sy Skepper en beweeg die mens om planne te maak waarin hy sy uiteinde self probeer beskik. Inteendeel, in die O.T. was eerder gehoorsaamheid aan die Here en gehoorsaamheid van kinders aan ouers gesien as 'n maatstaf vir langer lewe! (Deut. 5:33; Eks. 20:12).  Die mens moet minder gepla wees oor die verlenging van lewensjare en eerder ag gee op of hulle lewens reg is met hulle Skepper.   ELKE MENS SE LEWE IS IN DIE HERE SE HANDE (die woorde wat die wereld nie wil he mense moet hoor nie) en hy beter regmaak met sy Maker voor hy doodgaan! Geen mens se lewe kan verleng word deur sy/haar VERTROUE TE PLAAS in "gesondheid" nie.
-Kol. 2:16 - "Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie...", en ook
-1 Tim. 4:8 - "Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het".  In die tyd waarin ons lewe, het wetenskap vir baie hulle afgod geraak en plaas hulle hulle vertroue eerder in menslike wysheid (wat terloops heeltyd verander), as in die Here. Die mens van vandag is heelwat meer ingestel op liggaamlike oefening en gesondheid, as om "hulleself te oefen in die GODSALIGHEID".  Die balans het  hand uitgeruk en hul  gedagtes is eerder op die wereldse, as op die Here se dinge.

(1Ti 6:6-8 - "Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees").  Nie net kos die "ideale lewenstyl" vir ons 'n klomp geld nie, maar veroorsaak dat die mens minder en minder tyd het om met die Here te spandeer.  (1Ti 4:7,8- " Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid. Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het").
A.g.v. die" ideale lewensstyl"  veroorsaak die tekort aan spesifieke soorte kosse ONTEVREDENHEID en ONVERGENOEGDHEID. Dit veroorsaak ook dat mense hulleself heeltyd VERGELYK MET ANDER MENSE en baie verkeerde oordeel het al hieruit voortgespruit.  Selfs baie Christene het stil geraak om oor die Here te praat, Sy voorsiening, Sy wil, Sy woord en dit vervang deur WERELDSE WYSHEID (hulle praat soos die wereld).  Hulle leer nie veel oor die woord nie en stel nie belang in die wysheid van die Here nie, maar ken elke trick in die boek oor wat se soort kosse en vitamines en oefening...;   inteendeel, meeste Christene kan nie eens iemand na die Here toe lei nie, maar ken al die "in's en out's" van "die "ideale lewensstyl" en oor" hoe om nog jare by jou lewe te voeg".   
Hierdie soort lewensstyl  kos baie geld waarvoor jy harder moet werk, jou ontneem van persoonlike tyd met die Here, jou gedagtes plaas op wereldse wysheid en geestelike woorde vervang met wereldse; - dit veroorsaak dat diesulkes kronies onvergenoegd is, ontevrede, behep raak met uiterlike voorkoms en veroorsaak dat iemand homself meet aan ander se standaarde in plaas van aan die Here s'n.

- "maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid..."


- (2 Kor. 5:12) "Want ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar ons gee julle aanleiding tot roem oor ons, sodat julle iets kan hê teenoor die wat hulle op die uiterlike beroem en nie op die hart nie". (gaan lees in konteks!)


- (Mat 4:4)  "Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan".


- (2 Kor. 4:16)  "Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe".
______________________________________________________
(Rom 14:7,8)  "Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here".

Geen opmerkings nie: