Wys tans plasings met die etiket verborgenhede. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket verborgenhede. Wys alle plasings

Woensdag 28 Desember 2016

Geheime / verborge skatte/ verborgenhede / in hart bewaar

-Geheim/e
-Verborge skatte
-Verborgenhede
-in hart bewaar
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Wanneer is dit verkeerd om 'n geheim te hou?  
Wanneer is dit verkeerd om 'n geheim te ontbloot?  
Kan dit ooit goed wees om enige geheim verborge te hou?  
In hierdie pos gaan ons kyk na die terme: "geheim/e", "verborge skatte", "verborgenhede" en "in hart bewaar", soos dit in die Skrif gebruik word.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
'N OPSOMMING (rol af vir skrifte):

Nie alles wat in die geheim gedoen word of geheim gehou word, is altyd verkeerd nie! - in heelwat situasies is dit juis goed om iets verborge te hou, bv. 'n profesie wat nog nie geopenbaar moet word nie (omdat die tyd nog nie reg is nie), of waar iemand verborge gehou word omdat sy lewe in gevaar is, waar 'n geskenk in die geheim gegee word om toorn tot bedaring te bring, of waar die uitlap van 'n geheim kan veroorsaak dat iemand se lewe bemoeilik word.... Dit is tog nie verkeerd om iemand se geheim uit te lap as dit gaan oor selfverdediging nie, maar wel verkeerd as dit gedoen word om redes van kwaadspreek of as jy nie die ander persoon se versoek om dit verborge te hou respekteer nie.  Maar sondes wat in die geheim gedoen word moet natuurlik anders hanteer word as ander sake en daar is heelwat reels in die Skrif rondom hierdie tema.

Baie dinge wat in die geheim gedoen word is verkeerd, soos bv. die wat in die geheim afgode het en hulle besig hou met onvrugbare werke v/d duisternis,  of die wat konkel in die geheim, mense wat partydig is in die geheim, of die wat moord pleeg in die geheim... 

Oor of dit van ons verwag word om ander se geheime bekend te maak, is 'n kwessie van in watter situasie iemand homself bevind.  Dit is bv. nie verkeerd om ander te waarsku teen kwaadsprekers of valse leermeesters en valse profete nie, maar eerder belangrik om dit aan die lig te bring sodat die hoorders kan onderskei. Jesus het self ook Sy dissispels gewaarsku teen kwaadsprekers en valse profete (Matt. 16:6; Mark. 8:15; Matt. 7:15...), en Sy dissipels het dieselfde gedoen in die eerste gemeentes! (2 Pet. 2:1...) -  in sommige gevalle het hulle selfs mense op die naam genoem wanneer hulle die sonde openbaar gemaak het (2 Tim. 2:16,17...);  Tog,  in ander gevalle, meer presies in gevalle waar sondes bely word!, moet dit eerder verborge gehou word (Jak. 5:16; 1 Kor. 13:5,7).  Dit is nie altyd goed om geheime te openbaar nie.  En veral om redes van "kwaadspreek" is dit baie verkeerd om ander se geheime uit te lap, want die Skrif maak dit duidelik dat geen kwaadsprekers die Koningkryk van God sal beerwe nie (1 Kor. 6:10);  inteendeel, Christene word eerder beveel om hulle af te keer van die wat kwaadspreek (2 Tim. 3:3-5)(Psa 101:5 - "Hy wat heimlik van sy naaste kwaad spreek, hom sal ek vernietig; hy wat hoog van oë is en trots van hart, hom verdra ek nie"). 

In sommige situasies is dit dus nie goed dat iets openbaar gemaak word nie;  in ander situasies moet dit wel gebeur. Ook in gevalle van waar teregwysing nodig is omdat iemand nie wil luister nie, is dit belangrik dat dit aan die lig gestel word met die doel om die persoon te red van afval (1 Kor. 5:1; Jak. 5:20...); of wanneer iemand teen jou sondig en hy nie wil luister wanneer jy hom alleen bestraf nie...(Matt. 18:15-17). Dit is dus duidelik dat sondes wat in die geheim gedoen word anders hanteer word as ander sake wat in die geheim gedoen word. 

Die Here het ook "geheime" (verborgenhede) en dinge wat Hy verborge hou, somtyds vir baie lang tye.  Baie waarhede wat verborge was vir duisende jare, het Jesus Christus kom deel toe Hy die eerste keer gekom het.  Die wat uitverkies word deur die Here, word VRIENDE genoem, want vriende deel alles met mekaar. Daar is nie veel geheime tussen vriende nie.  Aan Jesus se "vriende" is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk te ken!  Die Christen het ook die belofte van opstanding tot lewe, maar het dit nog nie ontvang nie want vir nou is dit nog "verborge", en dit sal in heerlikheid openbaar word wanneer Christus terugkom. Christus het verder ook die koninkryk vd hemele voorgestel soos 'n skat wat in 'n saailand begrawe is, wat iemand ontdek en wegsteek, en dan weggaan en alles verkoop sodat hy daardie saailand kan koop! ... Wat is ons bereid om op te gee ter wille van hierdie verborge skat?
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Gevalle in die Skrif wat genoem word van dinge wat verkeerdelik in die geheim gedoen word:
-  iemand wat "in die geheim" 'n afgod het (Deut. 13:6; 27:15...);
-  iemand wat "in die geheim" 'n moord pleeg; (Deut. 27:24);
-  mense wat konkel in die geheim (1 Sam. 18:22; Matt. 2:7);
-  mense wat in die geheim partydig is (Job. 13:10);
-  of besig is met die onvrugbare werke van die duisternis (Ef. 5:12);
-  die wat met kwaadsprekerery omgaan (Spr. 20:19).

Aan die een kant is dit goed dat sekere geheime openbaar word (soos wanneer iemand in die geheim 'n afgod het) - en Openlike teregwysing is beter as verborge liefde! (Spr. 27:5), MAAR neem kennis dat dit nie altyd goed is dat 'n geheim openbaar gemaak word nie. Die Skrif gee vir ons verskeie voorbeelde hiervan, maar waar geheime te doen het met SONDE, kom dit gewoonlik uit, en sal elkeen wat dit doen verseker deur die Here geoordeel word want Hy weet van elke geheim (Ps.69:5...) , ook van alles wat die mens in sy hart bedink (Matt. 1:19...).
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------
Nie alles "wat in die geheim is", is verkeerd nie - ons is dan "in die geheim gemaak (gevorm)! (Ps. 139;15). Somtyds wanneer die Here Sy geheime met iemand deel soos in die geval met profesie, is dit bedoel vir die teenwoordige tyd (Dan. 2:19) (Dan. 2:27-47; 4:9), maar ander kere word iemand gevra om dit vir eers geheim te hou tot die tyd reg is (Dan. 12:4,9; 8:26). Om 'n geheim te hou word dus glad nie altyd gesien as iets negatief nie;  die tyd moet ook reg wees vir 'n geheim om gedeel te word, soos in die geval van sekere profesiee.

-  Die Skrif leer vir ons dat in sekere gevalle dit beter is om 'n saak te bedek as om die geheim te openbaar! (Spr. 11:13; 20:19; 25:9).
-  Net so kan 'n geskenk in die geheim toorn tot bedaring bring (Spr. 21:14).

DIT IS dus NIE ALTYD GOED OM 'N GEHEIM TE OPENBAAR NIE!, 
en veral verkeerd in die volgende gevalle:
- KWAADPREEK: (Spr. 11:13 - "Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ‘n saak");(Spr. 20:19 - "Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie").
- WANNEER DIT NIE GAAN OOR SELFVERDEDIGING NIE: (Spr. 25:9 - "Verdedig jou saak teen jou naaste, maar openbaar ‘n ander se geheim nie")
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die mens kan wel geheime hou wat hy nie wil he ander moet van weet nie, maar kan niks wegsteek vir die Here nie:
Die Here weet alles wat die mens in sy hart bedink, ook van elke geheim, soos toe Josef hom in sy hart voorgeneem het om in die geheim van Maria te skei (Matt. 1:19; Ps. 44:21(44:22) "sou God dit nie naspeur nie? Want Hy ken die geheime van die hart"; Ps. 38:9,10; 69:5,6; 139:15).  God is die een wat geheime kan openbaar (Dan. 2:28,29; Jes. 48:6; Deut. 29:29; Job 28:11, 21; Ps. 19:6,7; Dan. 2:22)(Pred. 12:14 Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg).

- Hos_5:3  Ek ken Efraim, en Israel is vir My nie verborge nie; want nou het jy owerspel bedrywe, o Efraim! Israel is verontreinig. 
- Zep_2:3  Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE. 
- Mat_10:26  Vrees hulle dan nie; want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie. 
- Mar_4:22  Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom
- Luk_11:33  En niemand steek ‘n lamp op en sit dit in ‘n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien. 
- Luk_12:2  En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie. 
- Rom_2:16  in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie. 
- 1Co_4:5  Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang. 
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------
Die Here hou sekere dinge somtyds verborge tot die tyd reg is. Somtyds sorg Hy dat geheime onmiddellik openbaar word omdat dit nodig is: -In die geval van Luk. 8:43-48 wou die vrou wat gesond geword het dit verborge hou, maar Jesus het gekies om dit openbaar te maak en wou weet wie Hom aangeraak het. Wat die Here se rede hiervoor was weet ons nie, maar miskien was dit omdat haar getuienis belangrik was vir die skare....

Baie waarhede was VERBORGE tot Jesus Christus gekom het:  ("Mat_13:35 - "sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af"). Die Christen se lewe is ook saam met Christus VERBORGE in God, en sal in heerlikheid openbaar word wanneer Christus terugkom (Col 3:3,4). Die Christen het die belofte van opstanding tot lewe, maar het dit nog nie ontvang nie - vir nou is dit nog "verborge".  Ook sal hy dit nie ontvang as hy dit nie SOEK nie  - (rol af na die opsomming oor "verborge skatte) - Christus het die koninkryk vd hemele voorgestel soos 'n skat wat in 'n saailand begrawe is, wat iemand ontdek en wegsteek, en dan weggaan en alles verkoop sodat hy daardie saailand kan koop! Wat is ons bereid om te doen om die saailand in die hande te kry, sodat ons die verborge skatte kan ontvang?

(Openb. 2:17  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang). 

Verborgenhede:
- Vriende het nie veel geheime tussen mekaar nie.  Die wat uitverkies word deur die Here word "vriende" genoem omdat Hy alles met hulle deel (Joh. 15:15)- "Hy lap Sy verborgenhede aan hulle uit".  (Luk 8:10 - En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie").

(1Kor. 4:1)  So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God.

(1Co 14:2)  Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.
Eph_3:9  en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus, 

Col_1:26  naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Ons moet ag gee op die naasteliefde en iemand se versoek respekteer wanneer hy vra dat iets vir eers verborge gehou word:

Mar_7:24  En Hy het opgestaan en daarvandaan na die gebied van Tirus en Sidon vertrek. En toe Hy in die huis gegaan het, wou Hy nie dat iemand dit sou weet nie; maar Hy kon nie verborge bly nie.

Soos ons reeds bo gesien het is dit somtyds nodig dat iets verborge bly omdat dit nog nie die regte tyd is om openbaar gemaak te word nie (let wel dat ons in hierdie gedeelte nie kyk na die kwessie van "verborge sonde" nie). Mense verstaan dit nie altyd nie en hulle "logika" staan baiemaal in die pad hiervan. Bv. in Mark. 1:44 het Jesus 'n melaatse gereinig en gewaarsku dat hy dit aan niemand moet vertel behalwe om hom te gaan toon aan die priester......  Maar die persoon het steeds uitgegaan en begin om baie dinge rond te vertel en die saak rugbaar te maak  - die gevolg was dat Jesus nie meer openlik in ‘n stad kon ingaan nie; maar Hy was buite in verlate plekke, en hulle het van alle kante na Hom gekom (Mark. 1:45).  Baiemaal gebeur dit ook so in ons eie lewens dat ons blootgestel word aan omstandighede en allerhande moeilikhede net omdat iemand nie 'n geheim kon hou nie! Ons moet ag gee op die naasteliefde en ander se versoeke respekteer wanneer hulle ons vra om iets eers verborge te hou, maar baiemaal reken iemand hy weet beter en tree ter wille van iemand anders op en veroorsaak so probleme vir daardie persoon.

Jesus se broers het ook hierdie verkeerde opvatting gehad dat hulle dink hulle weet beter:
(Joh 7:2)  En die fees van die Jode, die huttefees, was naby.
(Joh 7:3)  Sy broers het toe vir Hom gesê: Vertrek hiervandaan en gaan na Judéa, sodat u dissipels ook u werke kan sien wat U doen.
(Joh_7:4)  Want niemand doen iets in die geheim en soek tegelykertyd om in iedereen se mond te wees nie. As U hierdie dinge doen, vertoon Uself aan die wêreld.
Jesus het nie heeltemal net in die geheim gespreek nie en het in die sinagoge geleer en in die tempel, waar die Jode vergader het (Joh. 18:20), maar sy broers wou he dat Hy Homself vertoon aan die wereld, tog nie in ag geneem dat Jesus goeie rede gehad het vir Sy besluit om terug te hou nie.  Die rede hoekom sy broers dit gese het, is omdat hulle nie in Hom geglo het nie (v.5).  Hulle het Hom nie vertrou nie!, want as hulle Hom vertrou het, sou hulle Sy besluit respekteer het en Hom nie bombardeer met woorde van wat hulle reken eintlik moet gebeur nie. (Joh_7:10  Maar nadat sy broers opgegaan het, toe het Hy ook opgegaan na die fees, nie openlik nie, maar in die geheim) -  Somtyds moet iets in die geheim geskied om verskeie redes, o.a. dat die tyd nog nie reg is nie of soos in Jesus se geval, omdat Sy lewe in gevaar was! (Joh_19:38; Eks. 2:3; 1 Sam. 19:2; 2 Kon. 11:3).

Kom ons kyk na nog gevalle van dinge wat in die geheim gedoen is, ten goede:
- (Joh 19:38)  En ná hierdie dinge het Josef van Arimathéa, wat ‘n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, uit vrees vir die Jode, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. En Pilatus het dit toegelaat. Hy het toe gegaan en die liggaam van Jesus weggeneem.
- (Exo 2:3)  Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom ‘n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit.
- (1Sa 19:2)  en Jónatan het dit aan Dawid meegedeel en gesê: My vader Saul soek geleentheid om jou dood te maak: pas dan nou môre vroeg op en hou jou verborge en steek jou weg.
- (2Ki 11:2)  Maar Joséba, die dogter van koning Joram, die suster van Ahásia, het Joas, die seun van Ahásia, geneem en hom gesteel onder die koning se seuns uit wat gedood moes word, en hom en sy pleegmoeder in die beddekamer gebring. So het hulle hom dan vir Atália weggesteek, sodat hy nie gedood is nie. (2Ki 11:3)  En hy was saam met haar in die huis van die HERE verborge, ses jaar lank, terwyl Atália oor die land regeer.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
In sekere gevalle is die openbaarmaking van geheime nodige:
-  in die geval van waar iemand homself verdedig en hy dan nodig het om sekere dinge van die ander persoon bekend te maak;  tog hoef hy nie onnodige geheime van die ander persoon bekend te maak wat geen waarde tot die verdedigingsaak het nie (Spr. 25:9).

Die gawe van profesie openbaar die geheime van die hart (van die onkundiges en ongelowiges):
-1 Kor._14:25 - "en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is".
( die feit dat die persoon se geheime van sy hart aan die lig kom, is nie tot sy nadeel of om die "profeet" te verhef nie, maar bedoel om die persoon se oe op die Here te rig - op die Een wat alles weet en sien).

Ook teregwysing openbaar die geheime van die hart:
-Openlike teregwysing is beter as verborge liefde! (Spr. 27:5).
(maar ons moet ag neem dat daar ook bepaalde reels is rondom teregwysing, wat veral moet geskied in sagmoedigheid...2 Tim. 2:25).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Verborge skatte:

Daar is 'n rede waarom skatte geheim gehou word.  Jesus het die koninkryk van die hemele vgl. met 'n verborge skat in 'n saailand: Mat_13:44 - "Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand". As 'n skat nie verborge is nie, kan enige iemand dit vat, maar as dit weggesteek is, is dit selgs die wat kennis dra van waar dit weggesteek is wat daarby kan uitkom.  Maar as dit op iemand anders se grond is, kan hy dit nie eenvoudig vir homself neem nie - hy moet eers daardie stuk grond koop en dan is die skat syne.  Wat is ons bereid om te doen om die saailand te koop sodat ons die skat van die ewige lewe kan ontvang? (Kol. 3:3 - "Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God").

Skatte wat verborge is bevat die moontlikheid dat hulle ontdek kan word, en dit kan nie gevind word as dit nie gesoek word nie. Bv., in die Here is al die skatte van wysheid en kennis verborge (Kol. 2:3) en kan gevind word deur die wat bereid is om te soek (Hebr. 11:6; Kol. 3:1; Luk. 12:31).
(Spr. 2:1)  My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar,
(Spr. 2:2)  sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand;
(Spr. 2:3)  ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef,
(Spr. 2:4)  as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte,
(Spr. 2:5)  dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind

(1Pe 3:3) - "Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, (1Pe_3:4) - maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God". 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
In die hart bewaar:
- Besluite kan ook somtyds soos geheime wees wat in die hart bewaar word, bv. 1 Kor. 7:37 - van iemand wat in sy hart besluit om sy maagd te bewaar.  Hy hoef dit nie vir almal te vertel nie. Mense hoef nie altyd so alles van ons te weet nie!

- Baiemaal word iets in die hart bewaar bloot omdat dit nie die persoon self se plek is om dit te deel met ander nie, soos in die geval van Maria - Luk. 2:19 en 51;  of omdat dit nog nie die tyd is dat dit openbaar gemaak word nie (Dan. 7:28). Dit is somtyds goed om iets in die hart te bewaar.. Die waarheid is nie net bedoel om gedeel te word nie, maar ook iets wat ons in ons harte moet bewaar (amper soos "bepeins/oordink") omdat dit vir ons 'n lig op die pad is (Spr. 4:21-23).

Pro_4:21  laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. 
Dan_7:28  Hier is die einde van die saak. Wat my, Daniël, betref, my gedagtes het my baie verskrik en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my hart bewaar
Luk_2:19  maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink
Luk_2:51  En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar
1Co_7:37  Maar hy wat in sy hart vasstaan en nie onder dwang verkeer nie, maar mag het oor sy eie wil en dit in sy eie hart besluit het om sy maagd te bewaar, hy doen goed. 
_________________________________________________________________________________