Wys tans plasings met die etiket die Here se volk. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket die Here se volk. Wys alle plasings

Donderdag 11 Augustus 2016

Die boek van Esegiel (hfst. 36)

Vir 'n opsomming oor PROFETIESE BOEKE, gaan na: http://warechristene.blogspot.co.nz/p/profetiese-boeke.html
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
DIE BOEK ESEGIEL:  Eseg. 36 ('n Opsomming)
_________________________________________________________________________________

Wat het met die land gebeur?
- Die Here het Sy volk geoordeel - hulle is uitgedryf uit hulle land en verstrooi onder die nasies (36:17-19)
- Die vyand het hulle van alle kante verwoes en vertrap (36:3)
- Verwoeste puinhope het agtergebly, verlate stede, berge, heuwels, klowe, dale - wat 'n buit en 'n spot geword het vir die oorblyfsel van die nasies rondom (36:5)
- Die vyand het die ewige hoogtes as besitting geneem (36:2)
- Die volk van God het vir die oorblyfsel van die nasies 'n besitting geword (36:3)
- Die volk van God is deur die mense beskinder (36:3)

Wat het die volk verkeerd gedoen;  waarom is hulle uit hulle land uitgedryf, en waarom het die Here Sy grimmigheid oor hulle uitgestort?
-  Toe die huis van Israel in hulle land gewoon het, het hulle dit verontreinig (met hul wandel en met hul handelinge) (36:17)
-  Hulle het bloed in hulle land vergiet (36:18) (Bloedskuld)
-  Hulle het hulle met drekgode verontreinig (36:18) (Bloedskuld)

Wat het gebeur terwyl hulle onder die nasies was?
-  Hulle het Sy heilige Naam ontheilig deurdat van hulle gesê is: Hierdie mense is die volk van die HERE, en hulle moes uit sy land uittrek (Eseg. 36:20) (let op hoe die land Israel die land van die Here genoem word...)

Waarom gaan die Here hulle terughaal uit die nasies uit en terugbring na Sy land (36:24)?
- Ter wille van Sy heilige Naam ontwil (36:21,22,23) - sodat die nasies sal weet dat Hy die Here is wanneer Hy hom in Sy volk se oe voor hulle as Heilige laat ken (36:23)
- Dan sal hulle dink aan hul verkeerde weë en aan hul handelinge wat nie goed was nie; en hulle sal vir hulleself walglik wees oor hul ongeregtighede en oor hul gruwels (36:31)
- Dan sal die nasies weet wat rondom hulle oorgebly het, dat Hy, die HERE, opgebou het wat afgebreek was, beplant het wat verwoes was (36:36), want die puinhope sal vol wees van kuddes van mense (36:38)

Wie het die land vir hulleself in besitting geneem?
- die oorblyfsel van die nasies en die hele Edom (36:5)

Oordeel oor die nasies:
- die nasies wat rondom julle is—hulle sal hul smaad dra (36:7)

Wanneer die Here kom sal Hy Sy volk help:
- die Here sal Sy volk uit die nasies gaan haal en hulle uit al die lande bymekaar laat kom en hulle in hulle land bring (36:24);  en hulle sal in die land woon (36:8) - die stede sal bewoon word en die puinhope opgebou word (36:33)
- die Here sal skoon water op hulle giet, sodat hulle rein kan word van al hulle onreinhede, ongeregtighede en drekgode (36:25,29,33);  en Hy sal hulle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in hulle binneste (36:26);  Hy sal Sy Gees in hulle binneste gee en maak dat hulle in Sy insettinge wandel en Sy verordeninge onderhou en doen (36:27); en hulle sal vir Hom 'n volk wees (36:28)
- die verwoeste land sal bewerk word (in plaas dat dit ‘n wildernis is voor die oë van almal wat verbygaan)(36:34) - dit sal word soos die tuin van Eden (36:35);  die berge van Israel sal hul takke gee en hul vrugte dra (36:8), en sal bewerk en besaai word (36:9) - vrugte en opbrings van die veld sal vermenigvuldig (36:30); die puinhope sal opgebou word (36:10) - die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, sal versterk word en bewoon word (36:10,35); die koring sal vermenigvuldig en daar sal geen hongersnood meer wees nie (36:29)
- en die Here sal mense en diere op die berge vermenigvuldig en hulle sal vrugbaar wees, die hele huis van Israel, almal saam, en hulle laat bewoon soos in hulle voortyd en aan hulle weldoen meer as in hulle vroeër dae, en hulle sal weet dat Hy die HERE is (36:10,11);  die Here sal mense op hulle laat loop, Sy volk Israel; en hulle sal die land in besit neem, en die volk sal vir die land ‘n erfenis wees (36:12);  die Here sal die huis van Israel se mense vermenigvuldig soos skape (36:37)
- die nasie sal nie meer struikel nie en nie meer kinderloos gemaak word nie (36:13,14,15)
- die land sal nie meer die skimp van die nasies hoor nie, en die smaad van die volke sal hy nie meer dra nie (36:15);  die stede wat in puin le, sal vol wees van kuddes van mense (36:38)

------------------------------------------------------------------------------------------------------------
INTERPRETASIE:
--------------------
In Eseg. 36 spreek die Here teen DIE HELE EDOM en teen DIE OORBLYFSEL VAN DIE NASIES, omdat hulle die land Israel vir hulleself as besitting geneem het (Eseg. 36:1-7).  Hulle was bly om hierdie vreeslike daad te doen en het Sy volk verag, van die weiveld 'n buit gemaak en die berge van alle kante verwoes en vertrap.

Verder word profeteer oor Israel, oor hoe die land herstel sal word
wanneer die Here kom - dit sal weer bewerk en besaai word en die hele huis van Israel sal die stede bewoon en die puinhope sal opgebou word (Eseg. 36:7-11).  Wanneer Hy kom, sal Hy Sy volk versamel uit die nasies en hulle terugbring in hulle land (36:24). Hy sal hulle skoonwas en Sy Gees op hulle uitstort (36:25-27). Daar sal volop kos wees in die land en die volk sal skaam wees oor hulle ongeregtighede van die verlede;  die verwoeste land sal bewerk word en dit sal so vrugtevol wees dat dit vgl. word met "die tuin van Eden" (v. 28-35).  Daar sal nog ander nasies wees wat rondom oorgebly het (v.36).
_________________________________________________________________________________
Die feite van dat DIE VOLK VERSAMEL SAL WORD UIT AL DIE NASIES" en "DIE LAND WAT SOOS DIE TUIN VAN EDEN WORD", SPREEK NIE VAN 'N TYDPERK VOOR DIE HERE TERUGKOM NIE, MAAR NADAT HY TERUGGEKOM HET! In Eseg. 37 tot 39 word dit veral duidelik dat waar daar in die Skrif verwys word na "versameling van die volk", dit nie altyd verwys na een spesifieke versameling nie, maar daar is verskillende tye van versameling.  Daar sal bv. 'n versameling wees VOOR Christus terugkom, maar ook 'n versameling NADAT Hy teruggekom het.  Verder verwys die versameling in Eseg. 38 (VOOR Christus terugkom), na 'n versameling van die volk "WAT IN VEILIGHEID woon", sonder muur of grendel of poorte...  Dit is bv. daarom duidelik dat Eseg. 38 definitief nie verwys na die huidige versameling van die volk in Israel nie!, want huidiglik woon die volk wat nou versamel is in die land nie in veiligheid nie... Dus, wat belangrik is, is dat ons moet onderskei tussen die verskillende versamelings in die verskillende profesiee. Baie maak die fout om die huidige situasie te vgl. met Eseg. 38, maar ons moet verstaan dat Eseg. 38 en 36 na 'n ander tydperk verwys. Eseg. 36 verwys bv. deels na 'n tydperk "wanneer die hele Edom en die oorblyfsel van die nasies die land Israel inneem, dit 'n buit maak en vir hulleself as besitting neem"...  
_________________________________________________________________________________

SKRIFGEDEELTE:
_________________________________________________________________________________
(Eseg. 36:1)  En jy, mensekind, profeteer tot die berge van Israel en sê: Berge van Israel, hoor die woord van die HERE!
(Eseg. 36:2)  So sê die Here HERE: Omdat die vyand ha, ha! oor julle roep; en: Die ewige hoogtes het vir ons ‘n besitting geword! —
(Eseg. 36:3)  daarom profeteer en sê: So spreek die Here HERE: Omdat, ja, omdat hulle julle van alle kante verwoes en vertrap het, sodat julle vir die oorblyfsel van die nasies ‘n besitting kan wees, en julle in opspraak gekom het en deur die mense beskinder is—
(Eseg. 36:4)  daarom, o berge van Israel, hoor die woord van die Here HERE. So spreek die Here HERE tot die berge en die heuwels, tot die klowe en die dale, tot die verwoeste puinhope en die verlate stede wat ‘n buit en ‘n spot geword het vir die oorblyfsel van die nasies wat rondom is—
(Eseg. 36:5)  daarom, so sê die Here HERE: Waarlik, in die vuur van my ywer spreek Ek teen die oorblyfsel van die nasies en teen die hele Edom wat my land vir hulleself as besitting bestem het—in volle vreugde van
die hart, met diepste veragting—sodat die weiveld daarvan ‘n buit sou wees.
(Eseg. 36:6)  Daarom, profeteer oor die land van Israel, en spreek tot die berge en die heuwels, tot die klowe en die dale: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek spreek in my ywer en in my grimmigheid, omdat julle die smaad van die nasies gedra het.
(Eseg. 36:7)  Daarom, so sê die Here HERE, hef Ek my hand op: Waarlik, die nasies wat rondom julle is—hulle sal hul smaad dra.
(Eseg. 36:8)  Maar julle, o berge van Israel, sal jul takke gee en jul vrugte dra vir my volk Israel; want hulle koms is naby.
(Eseg. 36:9)  Want kyk, Ek kom na julle en wend My na julle toe, en julle sal bewerk en besaai word.
(Eseg. 6:10)  En Ek sal mense op julle vermenigvuldig, die hele huis van Israel, almal saam; en die stede sal bewoon en die puinhope opgebou word.
(Eseg. 36:11)  Ja, Ek sal mense en diere op julle vermenigvuldig, en hulle sal vermenigvuldig en vrugbaar wees; en Ek sal julle laat bewoon soos in jul voortyd en aan julle weldoen meer as in julle vroeër dae, en julle sal weet dat Ek die HERE is.
(Eseg. 36:12)  En Ek sal mense op julle laat loop, my volk Israel; en hulle sal jou in besit neem, en jy sal vir hulle ‘n erfenis wees en hulle verder nie meer kinderloos maak nie.
(Eseg. 36:13)  So spreek die Here HERE: Omdat hulle vir julle sê: ‘n Menseter is jy en een wat sy eie nasie kinderloos maak—
(Eseg. 36:14)  daarom sal jy nie meer mense opeet en jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here HERE.
(Eseg. 36:15)  En Ek sal nie meer teen jou laat hoor die skimp van die nasies nie, en die smaad van die volke sal jy nie meer dra nie; en jy sal jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here HERE.
(Eseg. 36:16)  Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
(Eseg. 36:17)  Mensekind, toe die huis van Israel in hulle land gewoon het, het hulle dit verontreinig met hul wandel en met hul handelinge; hulle wandel was voor my aangesig soos die besoedeling van die maandelikse onreinheid.
(Eseg. 36:18)  Daarom het Ek my grimmigheid oor hulle uitgegiet, vanweë die bloed wat hulle in die land vergiet het, terwyl hulle dit met hul drekgode verontreinig het.
(Eseg. 36:19)  En Ek het hulle verstrooi onder die nasies en hulle is versprei in die lande; Ek het hulle geoordeel volgens hul wandel en hul handelinge.
(Eseg. 36:20)  En toe hulle by die nasies kom waarheen hulle getrek het, het hulle my heilige Naam ontheilig deurdat van hulle gesê is: Hierdie mense is die volk van die HERE, en hulle moes uit sy land uittrek.
(Eseg. 36:21)  Toe het dit My ter harte gegaan om my heilige Naam ontwil wat die huis van Israel ontheilig het onder die nasies waar hulle gekom het.
(Eseg. 36:22)  Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het.
(Eseg. 36:23)  En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken.
(Eseg. 36:24)  En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring.
(Eseg. 36:25)  Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.
(Eseg. 36:26)  En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.
(Eseg. 36:27)  En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.
(Eseg. 36:28)  En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees.
(Eseg. 36:29)  En Ek sal julle verlos van al jul onreinhede; en Ek sal roep na die koring en dit vermenigvuldig, en Ek sal geen hongersnood op julle lê nie.
(Eseg. 36:30)  En Ek sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig, sodat julle die smaad van hongersnood nie meer hoef te verdra onder die nasies nie.
(Eseg. 36:31)  Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor jul gruwels.
(Eseg. 36:32)  Ek doen dit nie om julle ontwil nie, spreek die Here HERE; laat dit julle bekend wees! Skaam julle en bloos oor jul weë, o huis van Israel.
(Eseg. 36:33)  So sê die Here HERE: In die dag as Ek julle reinig van al jul ongeregtighede, sal Ek die stede laat bewoon, en die puinhope sal opgebou word.
(Eseg. 36:34)  En die verwoeste land sal bewerk word, in plaas dat dit ‘n wildernis is voor die oë van almal wat verbygaan.
(Eseg. 36:35)  En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk en bewoon.
(Eseg. 36:36)  Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat Ek, die HERE, opgebou het wat afgebreek was, beplant het wat verwoes was; Ek, die HERE, het dit gespreek en sal dit doen.
(Eseg. 36:37)  So sê die Here HERE: Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen: Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape.
(Eseg. 36:38)  Soos die geheiligde skape, soos die skape van Jerusalem op sy feestye, so sal die stede wat in puin lê, vol wees van kuddes van mense; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.