Woensdag 12 Desember 2018

Bloed

IN HIERDIE POS KYK ONS NA DIE TERM "BLOED".
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
INLEIDING:
Ons weet hoe belangrik BLOED is vir die liggaam en dat elke mens iets soos 5 liter bloed in sy liggaam het. Die hart is 'n belangrike komponent wat die bloed pomp deur die hele liggaam en op so 'n manier word die liggaam voorsien van allerhande nodige elemente o.a. suurstof... Iemand se bloed kan ook vir ons baie vertel van daardie persoon, bv. watter soort siektes hy het, infeksies ens., en die gesondheidstoestand van verskillende organe bv. die hart, niere, lewer e.a. Geen wonder nie want die Skrif verklaar dat DIE SIEL IS IN DIE BLOED! (Gen 9:4 - "Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie"). Dit is immers om hierdie rede wat die mens verbied word om bloed te eet... (Gen. 9:4; Lev. 7:26; Heand. 15:20,29). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
DIE SIEL IN BLOED:

Die mens word ook baiemaal na verwys as " 'n siel ", wat nie net verwys na die "gees in die binneste" nie, maar ook verwys na die uiterlike mens (bv. die siel in bloed) - asof iemand se bloed vgl. kan word met hom as 'n siel (Psa 30:9)  (30:10) - immers is "bloed" soos 'n prentjie van iemand se gesondheidstoestand en is ook nodig om die liggaam in werkende toestand te hou.. (Lev 17:14 - "want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind..."). Bestudeer gerus ook die term VLEES EN BLOED wat verwys na "die mensdom" (en vgl. met die tema van "menslike wese"). Die mens is "vlees en bloed" want hy is uit "vlees en bloed" gebore! (Joh. 3:6; 1:13)(veral verwysend na die "natuurlike mens").

Wanneer 'n persoon se asem weggeneem word en hy doodgaan, kan die hart nie meer pomp nie en nie meer die liggaam voorsien van dit wat hom aan die lewe hou nie (en die organe kom dus tot 'n halt).  Ons sien dus die belangrikheid van BLOED en dat dit opsig self wel 'N SIEL kan beskryf! DNA kan selfs verkry word van droë bloed..., want wanneer iemand doodgaan kan sy bloed steeds sy identiteit beskryf. Kyk bv. hoe Abel se bloed "geroep het" vanuit die grond! (Gen 4:10 - "En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af").

Mense van "dieselfde bloed" is van dieselfde DNA en soos "familie" van mekaar - hier verwysend na 'n bevolking (bv. mense wat nie trou met mense van ander bevolkings nie...) - mense van GEMENGDE BLOED verwys na verskillende bevolkings (bv. "Egiptenaars" of "Israeliete")(Eks. 12:38; Num. 11:4; Neh. 13:3). Dis asof ons kan sê dat iemand se "lewe is in die bloed" - dit beskryf iemand "as siel" - en daarom kan bloed 'n bevolking beskryf.

Maar natuurlik is dit nie net "mense" wat 'n "lewende siel" het nie, maar al die diere van die aarde, en al die voëls van die hemel, en al die kruipende diere op die aarde (Gen. 1:30). Alhoewel die woorde LEWENDE SIEL meer verwys na dit wat "die LEWENSASEM in hulle neusgate het" (want die "asem" verander hulle/liggame in lewende siele...)(Gen 7:22,23)(Jes. 2:22; Gen. 1:20,21,24;  2:19;  7:4;  9:10,12,15,16; Lev. 11:10,46; Deut. 11:6; Eseg. 47:9; Openb. 16:3), word "lewende siel" in die geval van bv. die mens nie net deur asem beskryf nie maar ook deur die bloed, want die siel is in die bloed  (dit gaan oor "wat se soort wese")- daarom word die mens verbied om bloed te eet bloot om hierdie rede, dat die siel is in die bloed! (Deut. 12:15,16,23; 15:23; Lev. 7:26; 17:13,14; 19:26; 1 Sa. 14:32-34; Hand. 15:20,29).
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
ONS MAG NIE BLOED VERGIET NIE:

Die mens is belangrik vir God - hy is immers "na God se beeld gemaak"! Die Here neem dit baie ernstig op as een persoon 'n ander se bloed vergiet! - (Gen 9:6 - "Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak").  Die woorde "bloed vergiet" verwys hier na "moord pleeg" (Gen. 37:22) - ons mag nie doodmaak nie (ons mag m.a.w. nie 'n ander se bloed vergiet nie) - ons mag nie 'n ander se LEWE neem nie, want as jy dit doen, dan word jy skuldig aan daardie persoon se bloed! ("bloedskuld"-Deut. 19:10-13)(Gen 9:5 - "Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis"). Daar is natuurlik ander sondes ook wat bloedskuld veroorsaak wat alles gaan oor mense wat nie respek toon vir God en Sy skepping nie... (bv. kinders wat hulle ouers vloek, hoerery, afgodsaanbidding ens.)(Gen. 42:22; Jer. 2:34...) - in die N.T. het Christus vir ons hierdie nog verder verduidelik en bv. o.a. geleer dat selfs wanneer jy jou broeder haat, dit gesien word soos moordpleeg...

Moordenaars word ook in die Skrif genoem "manne van BLOED" (Ps. 5:6; 55:23; 59:2; Spr. 29:10).
Die term "BLOED op hoof" word ook gebruik (wat verwys na die wat skuldig is aan iemand anders se bloed bv., hy het daardie persoon se "bloed op sy hoof")(1 Kon. 2:33,37; Eseg. 33:4)(Hand. 18:6).
Nog 'n term wat gebruik word is "loer op bloed" (Spr. 1:11; 12:6; Miga 7:2) - verwys na die goddeloses wat onskuldiges afloer en inwag om hulle dood te maak en van hulle te steel... - bv., somtyds word 'n land op hierdie manier gebou, nl. "met bloed"... (Miga 3:10). Hierdie het beslis o.a. te doen met mense wat ander mense se goed begeer en hulle is bereid om daarvoor moord te pleeg, iets wat ons nie mag doen nie (en dus ook rede waarom ons "nie 'n ander se goed mag begeer nie").
Nog 'n term wat gebruik word is "hande vol BLOED" (Jes. 1:15)(of "met bloed bevlek-Jes. 59:3) - wat verwys na "skuld" - is skuldig - soos, hulle hande het ander mense se bloed op hulle...

 "Bloedskuld" het veral baie te doen met die eerste twee gebooie, want as jy jou naaste liefhet (soos jouself), dan sal jy hom beslis nie doodmaak nie! In die geval van moordpleeg gee die persoon nie om vir 'n ander se LEWE ("iemand wat na God se beeld geskep is") nie. Die wat 'n ander se lewe neem (m.a.w. "onskuldige bloed" vergiet-1 Sam. 19:5; 2 Kon. 24:4)(Matt. 27:24...)(Matt. 23:30,35; 27:4), kry bloedskuld op hulle, en bloedskuld kan slegs betaal word DEUR "BLOED" (bv., lewe vir 'n lewe) - meer presies, nie deur die bloed van stiere en bokke nie, maar deur die bloed van die moordenaar...,  bv. in die O.T. moes die met bloedskuld met hulle eie lewens (bloed) betaal (geen ander offer in die O.T. kon vir hierdie sonde betaal nie) - die wat moord pleeg moes self doodgemaak word - moes dus met hulle eie bloed betaal vir die lewe wat hulle geneem het. In hierdie opsig was dit soos "doodstraf" en nie verkeerd nie want sy bloed was nie "onskuldig" nie, maar "skuldig" (bloedskuld). In die N.T. is daar wel 'n offer wat vir hierdie sonde kan betaal sodat iemand nie met sy eie lewe hoef te betaal nie... (rol af na die volgende opsomming "lewe vir 'n lewe").

------------------------------------------------------------------------------------------------------------
LEWE VIR 'N LEWE:

Waar daar geen versoening gedoen word vir bloed wat in 'n land vergiet word nie, maak dit die land onrein - is so 'n geval sal dit 'n land wat bv. heilig is, ontheilig... (Num 35:33; Lev. 18:25; Deut. 21:1-8; Matt. 23:31-35; Luk. 11:50,51). Bloed wat vergiet is, word altyd geies! (Gen. 9:5; Luk. 11:50,51...). Wanneer iemand begrawe word is dit asof sy bloed deur die aarde bedek word, maar dit sal nie bedek bly nie want soos Abel se bloed uitgeroep het na God, so sal die aarde op die tyd wanneer Christus terugkom, die bloed openbaar maak wat deur dit "gedrink is": -(Jes. 26:21 - "Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie").
(http://eindtydonderwerpe.blogspot.com/2017/06/wanneer-is-die-einde-van-die-wereld-en.html).

Bloed kan gebruik word om 'n "verbond (belofte) te smee" (Gen. 15:9,10; Eks. 24:8; Jer. 34:18,19), en is soos 'n bindende kontrak, bv. tussen God en die mens.
SONDER BLOEDVERGIETING VIND DAAR GEEN VERGIFNIS PLAAS NIE... (Heb 9:22; Matt. 26:28; Mark. 14:24) - in hierdie geval verwys "bloedvergieting" nie na moordpleeg nie, maar na "lewe vir 'n lewe". (Lev 17:11 - "Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel"). Omdat bloed hierdie besonderse kenmerk het (van "lewe"), kan dit ook gebruik word as "'n lewe vir 'n lewe"...(2 Sam. 4:11; Deut. 32:43). Om daardie rede was dit van die vroegste tye gebruik in sonde offers (bv. Kain se offer was nie aangeneem nie want daar was bv. nie "bloed" betrokke nie...). Met die nag wat al die eersgeborenes in Egipte doodgaan was die Israeliete beveel om die bloed van 'n jaaroud lam (sonder gebrek) aan hulle deurposte en bo-drumpels te smeer, wat as teken gedien het dat hulle lewens behoue moes bly... (Eks. 12). Hier sien ons 'n vb. van hoe BLOED gebruik word as " 'n lewe vir 'n lewe " en dit iemand onder beskerming kan plaas - op dieselfde wyse is Christene beskerm onder die bloed van Christus (waarvan die nagmaal 'n teken) - Hy het in ons plek gesterwe... (Sy lewe vir ons lewens).  Ons kan slegs deur BLOED gereinig word van sonde.  Alle mense het reiniging nodig en moet of met hulle eie bloed betaal (dus "dood" - "tweede dood"), of moet die verbond aanneem wat God maak met die mens deur Sy Seun Jesus Christus... (glo in Hom wat met Sy lewe in ons plek betaal het vir ons lewens).

BLOED kan dus as reinigingsmiddel gebruik word (Openb. 1:5; 1 Joh. 1:7; Hebr. 3:11,12). Die tempel kon bv. ook slegs gereinig word deur BLOED - op dieselfde wyse word die Christen se liggaam (wat gesien word soos 'n tempel) gereinig deur die bloed van Christus...
_________________________________________________________________________________

Geen opmerkings nie: