Donderdag 07 Maart 2013

Hy sit konings af en stel konings aan...

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------
In Dan. 2:20 en 21, maak Daniël dit duidelik dat dit God is wat konings afsit of aanstel
 en ook dat dit God is wat aan die wyse manne kennis en insig gee. 

Ook Paulus bevestig hierdie feit in Hand. 14:16,17:  "Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul".  God sorg ook vir die onregverdiges, nie net vir die regverdiges nie!  (hierdie vorm deel van die "evangelie van vrede").

Moet ons dan nou vra, dat as God in beheer is van ook wie wereldse konings is en wie nie, hoe kan dit wees, siende hulle tog nie noodwendig manne na Sy hart is nie!  En wat van die Antichris? Dit beteken dat God ook gaan toelaat dat hy as "koning" gaan regeer, maar ons weet dat die Antichris groot woorde teen die Allerhoogste en die heiliges sal uiter en die heiliges sal doodmaak!
Kyk bv. sommige Fariseers en Skrifgeleerdes wat tog Joodse LEIERS was - let op wat Jesus gese het van hulle: (Mat 15:14)  "Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val".  Merk op, Jesus se opmerking in v.13:  "Maar Hy antwoord en sê: Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word". Alhoewel God in beheer is, beteken dit nie dat hy alle leiers "plant" nie.  Kyk ons bv. ook na die gelykenis van die "koring en die onkruid", is dit duidelik dat die duiwel ook "plantwerk" doen.  Uiteindelik is God die een wat elkeen se lot bepaal  - al laat God toe dat mense af of in posisies geplaas word, beteken dit nie dat elkeen wat "geplant" word vir Hom welgevallig is nie!  (Die feit dat iemand "in beheer" geplaas is, beteken nie noodwendig dat hy "'n geseende" is nie). 
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
 Die verhaal van hoe Nebukadnesar vir God die lof gegee het vir alles wat hy het en is, begin heelwat anders.  Nebukadnesar was hoogmoedig en vol van homself - alhoewel hy eerstehans die Here se mag ervaar het, het hy homself nie ondergeskik gestel aan sy Skepper nie.  Hy het sy voorspoed toegeskryf aan sy eie wonderlikheid - so asof hy enige talent uit homself verkry het!  - (hoe lui die bekende spreekwoord?  -"glo in jouself"?) - amper so iets was Nebukadnesar. Ten spyte van God se waarskuwing, het hy voortgestap in sy afvalligheid en het ignoreer die waarheid dat elke talent en gawe van die Here is; selfs dat sy "lot" in die Here se hande was! - (Spr. 16:33).  

In die volgende hoofstuk, Dan. 4, wys God vir Nebukadnesar wie regtig in beheer is!  Nebukadnesar sien 'n droomgesig van 'n groot boom..., en hy wil weet wat dit beteken.  Lees Dan. 4:20-27 om die uitlegging van die droom volgens Dan. te kry. Na dit, aan die einde van twaalf maande terwyl Nebukadnesar op die koninklike paleis van Babel rondwandel, sê hy: "Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?"  HIER KAN ONS DUIDELIK SIEN HOE  HOOGMOEDIG HY WAS EN VOL VAN GELOOF IN HOMSELF - (Dan 4:31)  "Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar ‘n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê—die koningskap word jou ontneem".

Nebukadnesar moes soos 'n dier lewe totdat hy herken dat God die een is wat in beheer is!

(Dan 4:34)  "En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ‘n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is.
(Dan 4:35)  En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?"
(Dan 4:37)  Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.
ONS MOET LEER DAT GOD IN BEHEER IS EN BESEF DAT ALLES, ONS TALENTE, ONS GAWES, ALLES IS UIT GOD SE HAND.
------------------------------------------------------------------------------------------------------------

In heelwat kerke word gelowiges vandag geleer om in sekere "gawes" of "bedieninge" te kan stap, bv. om te profeteer, of om duiwels uit te dryf, of om lering te gee ens.  Terwyl daar definitiewe voorvereistes is vir sekere bedieninge, bv. lering self om lering te kan gee, moet ons verstaan dat die gelowige se bedieninge of gawes min te doen het met menslike mag.  Selfs die persoon wat lering gee, moet elke dag gelei word deur die Heilige Gees om die boodskap te bring wat die Here wil he moet uitgaan.  Ons moet versigtig wees om ons deur "kennis" te laat lei, eerder as deur die Heilige Gees.  Waar die mens in beheer is, maak hy staat op 'n kennis deur sogenaamde "ervaring" verkry.  
Wat eintlik vir gelowiges geleer moet word, is om tyd met die Here te spandeer, sodat Hy Sy gawes deur elkeen werk soos Hy wil!


(1Kor. 8:1)  "En met betrekking tot die offervleis aan die afgode weet ons dat ons almal kennis het. Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig.
(1Kor. 8:2)  As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie.
(1Kor. 8:3)  Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken".

Die bediening self word nie gebore uit "kennis" nie, maar uit iemand se liefde vir die Here.  Waar iemand staatmaak op sy kennis, weier hy om te herken dat God eintlik in beheer is.  Waar iemand die Here in beheer sit van sy lewe, kom sy bediening van die Here, nie uit homself nie.  So is daar baie gelowiges vandag wat deur hulle aangeleerde bedieninge die Here probeer dien op hulle manier en probeer goeddoen volgens hulle eie wil, maar dit is nie noodwendig gedryf deur die wil van die Vader nie!


Sommige van die Fariseers het ook gedink dat hulle God 'n guns doen deur hulle kennis en ervaring, tog het Jesus die volgende vir hulle gese:  (Joh 8:44,45)  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie. Hulle het nie Jesus se "bediening" aanvaar nie, omdat hulle geglo het dat hulle self besig was met die Vader, tog was hulle nie!  Hulle het hulle laat lei deur hulle eie mensgemaakte wette en kennis en het nagelaat om die Vader self te leer ken sodat hulle gelei kon word deur Hom, soos Jesus gelei was deur die Vader.  As iemand bedien uit sy eie mag, dan doen hy nie die wil van die Vader nie.  (Mat 7:21) " Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is".

Om die wil van die Vader te doen, moet jy besef dat HY IN BEHEER IS en jy moet Hom in beheer plaas van jou lewe!
Waar die mens homself  "in beheer" plaas, dink hy dat hy God nie nodig het nie  - die waarheid is dat elke mens se lot in die Here se hande is. 
==============================

Geen opmerkings nie: